10 gesogte Suid-Afrikaanse klassieke motors.

0 Comments

Deur Daantjie Badenhorst.

Noudat nuwe motors al hoe minder bekostigbaar word, word motoriste tot ‘n mate gedwing om gebruikte motors te oorweeg, en as jy die geld, die geduld en tegniese vaardighede het om ‘n klassieke motor te onderhou, sal jy ‘n motor kan besit wat net soveel aandag as ‘n nuwe een kan trek, mits hy in ‘n oorspronklike toestand is. Daar is natuurlik ‘n paar wat op almal se “wenslys” verskyn, maar hier, in alfabetiese volgorde, is tien wat in Suid-Afrika vervaardig of gemonteer was, waaraan mense soms nie dink nie, maar wat as gesogte versamelaarsitems beskou kan word.

1. BMW 5-reeks (1974-1985)
Die bekendstelling van die BMW 5-reeks in 1972 oorsee en twee jaar later in Suid-Afrika, was die begin van ‘n nuwe era vir dié Duitse vervaardiger. Die Neue Klasse (1500/1600/1800/2000) was ‘n sukses, maar in Suid-Afrika is die 1800/2000 SA, wat op ‘n Glas-bakwerk vervaardig is, eerder bekendgestel. Met die 5-reeks het BMW egter groot hoogtes bereik en homself as ‘n vervaardiger wat ernstig opgeneem behoort te word, gevestig. Die 520 is eerste bekendgestel, gevolg deur die 525, 528, 518 en later die gesogte maar feitlik onverkrygbare 530 MLE. BMW het onlangs een opgespoor en gerestoureer. In 1979 het die 5-reeks ‘n paar veranderinge ondergaan, wat petrol-inspuiting vir die 528, wat nou as die 528i bekendgestaan het, ingesluit het, asook ‘n nuwe ses-silinder enjin vir die 520. Die 518 het ‘n twee-liter enjin gekry. Die M 535i is in 1981 by die reeks gevoeg om aan motorsport deel te neem. Hoewel ‘n nuwe vorm daardie jaar oorsee bekendgestel is, het Suid-Afrika voortgegaan om die bestaande model te vervaardig, maar die 518 en 520 het die 518i en die 520i geword. Die nuwe vorm is wel in 1985 in Suid-Afrika bekendgestel. Hoewel die meeste mense die 530 MLE en die M 535i begeer, is enige model in dié reeks die moeite werd, veral omdat hulle so skaars geword het.

2. Chevrolet SS
In 1971 het General Motors Suid-Afrika besluit om te rasionaliseer, en die Opel Rekord, die Vauxhall Viva en die Holden-reeks aan die plaaslike mark te onttrek. Hoewel die Kommando en Constantia reeds saam met die Holden Kingswood en Premier beskikbaar was, was daar ‘n gaping in die reeks toe die Monaro GTS aan die mark onttrek is. Die Chevrolet SS is in sy plek bekendgestel, met ‘n keuse van ‘n 5,0- of 5,7 liter V8-enjin en ‘n hand- of outomatiese ratkas. Die SS was net tot in 1972 op die mark, en hoewel ‘n Monaro-weergawe van die Holden HQ bekendgestel is, het Suid-Afrika nooit weer ‘n Holden-gebaseerde koepee gesien nie.

3. Chrysler Valiant Signet 225 S
In 1966 het die Chrysler Valiant die topverkoper in Suid-Afrika geword, en vroeg die volgende jaar is ‘n nuwe geslag bekendgestel. Die vlagskip was die Signet 225 S, wat die eerste model was wat met die Formula S-enjin toegerus is en ‘n outomatiese ratkas en ‘n vinieldak as standaard toerusting gehad het. Hierdie model was net een jaar op die mark, want in 1968 is sy model-benaming na die Regal Formula S verander. Daarom is die Signet 225 S ‘n versamelaars item.

4. Datsun 1600 SSS
Die Datsun 1600 was die een motor wat Japanese motors regtig gewild gemaak het. Die reeks is, na sy aanvanklike bekendstelling in 1969, gou uitgebrei met die toevoeging van die legendariese 1600 SSS, wat ‘n uiters suksesvolle tydren-motor was. Die 1600-reeks, wat net uit die De Luxe-sedan met ‘n hand-of outomatiese ratkas, die SSS-sedan en die 1600 en 1800 GL-koepees bestaan het, was in 1971 die derde gewildste motor in Suid-Afrika, met net die VW Beetle en Chrysler Valiant wat beter verkoop het. Die 1600 is vandag egter ‘n skaars motor en dis moeilik om ‘n SSS in ‘n mooi toestand in die hande te kry. Die 160/180 U wat hom in 1974 opgevolg het, was nie heeltemal so suksesvol nie.

5. Ford Cortina 3000-bakkie
In 1971 het Ford vir die eerste keer ‘n bakkie wat op die Cortina gebaseer is, bekendgestel. Die aanvanklike modelle kon net ‘n  driekwart-ton dra en toe die V6-modelle bygevoeg is, was net ‘n 2,5 liter met ‘n hand- of outomatiese ratkas beskikbaar. Met die bekendstelling van die Merk 4 in 1977 is die 2,5 liter-enjin met een van drie liter vervang en sy loonvrag is na een ton verhoog, vandaar die amptelike naam One Tonner. Baie min mense het hom egter enigiets anders as ‘n Cortina genoem. In 1979 is ‘n Leisure-model, met ‘n twee-kleur bakwerk en materiaal sitplekke by die reeks gevoeg en hy het dadelik ‘n nuwe modegier vir bakkies laat ontstaan. In 1980 is die laaste geslag, die Merk 5, bekendgestel, maar meganies was hy onveranderd in vergelyking met die Merk 4.Ford het net een fout gemaak; die gaping tussen die 1 600 en die 3 000 was te groot en ‘n model met dieselfde enjin van die Cortina 2,0 GL sou ‘n goeie idee gewees het. Nogtans het die 3000-modelle baie goed verkoop. Ongelukkig is baie van hulle gemodifiseer of verwaarloos en, soos met baie Ford-modelle, is die mooistes deur versamelaars in Engeland opgeraap. Dis hartseer dat ‘n stukkie Suid-Afrikaanse geskiedenis verlore gaan; om een in ‘n oorspronklike toestand te kry, is so te sê onmoontlik en as ‘n mens een kan kry, moet jy jou kans aangryp.

6. Land Rover Defender 2,8i
Toe Land Rover deel van BMW was, het ‘n baie interessante model deel van die Suid-Afrikaanse reeks uitgemaak. Tesame met die bekende TDi en TD 5-enjins was daar ‘n weergawe van net in Suid-Afrika beskikbaar was, naamlik die 2,8i. Hierdie model, wat in ‘n 90- of 110-stasiewa beskikbaar was, het dieselfde enjin as die BMW 328i gehad, en gesorg vir die soort werkverrigting wat nie vir die diesel-modelle beskikbaar was nie. Ongelukkig het BMW en Land Rover se paaie geskei en dit het die einde van hierdie model beteken. Die 2,8i is daarom ‘n uiters gesogte versamelaars item.

7. Mazda RX 2/Capella Rotary
In 1971 is die Mazda 616 vir die eerste keer in Suid-Afrika bekendgestel maar hoewel dit ‘n goeie motor was wat jare lank gewild was en besonder lank op die mark gebly het, was dit die RX 2, met sy unieke rotor enjin, wat die meeste belangstelling gaande gemaak het. Die enjin het min bewegende dele bevat en sy voordele het aanvanklik uiters swaar opgeweeg, maar hy het twee probleme gehad; hy het teen baie hoë toere geloop en sy brandstof-verbruik was ontsettend hoog. Die eerste petrol-krisis het uitgebreek net meer as ‘n jaar nadat die RX 2 die eerste keer in Suid-Afrika bekendgestel is. In 1975 is die modelbenaming van RX 2 na Capella Rotary verander en hy het vir eers die samesmelting van die Mazda-verspreiders Illings met Chrysler en die gevolglike stigting van die Sigma-motor-korporasie oorleef, maar produksie is in 1978 gestaak, kort nadat ‘n beperkte koepee, bekend as die Capella RS, wat hoofsaaklik vir motorsport bedoel was, op die mark gekom het. 

8. Toyota Corolla 1,8 GLS/SE  (1980-1984)
In 1980 het die meeste motor-vervaardigers reeds na voorwiel-aandrywing oorgeskakel maar Toyota het hardnekkig vasgeskop met die tweede reeks wat in Suid-Afrika bekendgestel is. Dit was ‘n baie mooier motor as sy voorganger, en die reeks het aanvanklik uit ‘n twee-deur sedan (nugter weet hoekom), ‘n vier-deur sedan en ‘n luikrug-koepee, bekend as die Liftback, bekendgestaan. Van sy bekendstelling tot in 1982 was die 1,6 GLS Sprinter en SE Liftback-modelle beskikbaar met ‘n enjin met twee vergassers en ‘n vyfgang-handratkas terwyl die outomatiese modelle ‘n 1,8 liter-enkel-vergas enjin uit die Cressida-reeks gehad het. Laasgenoemde enjin is in 1982, toe die reeks detail-veranderinge gekry het, vir al die GLS- en SE-modelle gebruik en die groot nuus was dat die outomatiese viergang-ratkas met ‘n snelrat, wat sy debuut in die Cressida GLX gemaak het, vir die outomatiese modelle gebruik is. Die twee-deur sedan is ook aan die mark onttrek. Later is ‘n TRD-weergawe van die Liftback, met ‘n twee-vergasser enjin, by die reeks gevoeg. Die aanvanklike modelle is in dieselfde wit en rooi kleurskema as die tydren-motors geverf, terwyl die latere modelle ‘n deftiger donkergrys en silwer afwerking gekry het. Daar was ook in 1984, kort voordat die voorwiel-aangedrewe modelle hierdie reeks vervang het, ‘n 1,6 TRD-sedan, gebaseer op die 1,6 GL. Die TRD-modelle is egter feitlik onmoontlik om in die hande te kry, maar die 1,8 GLS Sprinter en SE Liftback het self gesogte modelle geword.

9. Volkswagen Fleetline
In 1974 het Volkswagen Suid-Afrika (VWSA) die Fleetline-reeks bekendgestel; dit was ‘n Kombi, paneelwa en bakkie wat op die oorspronklike Kombi-reeks wat in Brasilië vervaardig is, gebaseer is. Hulle het dieselfde enjin as die destydse Beetle 1600 gehad, en was so basies as moontlik toegerus. Daarom kon ‘n mens geen luukshede verwag nie, en daarby was dit onmoontlik om ‘n spoed-oortreding te began omdat hulle te stadig daarvoor was. Dit het egter nie saakgemaak nie aangesien die petrol-krisis van die vorige jaar gekeer het dat mense vinniger kon ry. Wat die meer moderne Kombi en Microbus egter nie gehad het nie, ten spyte van hul kragtiger enjins en luukser afwerking, was karakter. Die Fleetline-modelle het hul eie bekoring gehad en omdat hulle so bekostigbaar is, was hulle uiters gewild. In 1976 het VWSA egter besluit om vir die Fleetline die duurder modelle se neus te gee, asook die meer moderne weergawes se paneelbord en die Kombi 1600-benaming. Dit is egter byna onmoontlik om vandag ‘n Fleetline in die hande te kry, wat nog te sê een in ‘n mooi toestand.

10. Volvo 122 S
Die een motor wat meer as enige ander gedoen het om Volvo se reputasie in Suid-Afrika te vestig, was die 122 S, wat in ander lande as die Amazon bekendgestaan het. Hierdie modelreeks was aanvanklik as ‘n vier-deur sedan en ‘n stasiewa in Suid-Afrika beskikbaar, en die meeste modelle het die B 18-enjin van 1,8 liter gehad. Dit was ‘n veilige, opwindende en onvernietigbare motor wat uiters goed in motorsport gevaar het. In 1967 is die B 18 B, met dieselfde enjin as die 1800-koepee, in Suid-Afrika bekendgestel, maar die staiewa is aan die mark onttrek en die vier-deur sedan is met ‘n twee-deur sedan vervang. Twee jaar later is die B 20, met die 144 S se enjin, in die plek van die B 18 bekendgestel en die gedagte was dat die 122 S onbepaald in Suid-Afrika bemark wou word. Aangesien hulle net hier gemonteer is, was dit nie moontlik nie en in Junie 1971 is die laaste 122 S ter wêreld in Suid-Afrika gemonteer.

Categories:
%d bloggers like this: