Deur

Neels Rabe

Terugblik op die naweek van 10 en 11 Augustus
Motorsportnuus week 33

 

MotoGP en Moto2

Die naweek van 10 en 1 Augustus was dit Oostenryk se beurt om die wêreld se vinnigste motorfietse en beste jaers te ontvang. Dit was KTM se tuis Grand Prix. In Moto2 is dit ons eie Brad Binder wat foutloos jaag om sy 24ste  verjaarsdag te vier met sy eerste oorwinning van 2019, asook KTM se eerste oorwinning vanjaar in Moto2. Ons het reeds voorheen melding gemaak dat KTM sukkel om hul motorfiets voldoende aan te pas nadat die Moto2 reeks oorgeskakel het na Triumph enjins aan die begin van 2019. Hierdie is dus ‘n groot stap vooruit. Binder jaag volgende jaar in die top MotoGP klas. Intussen was daar skoknuus na die naweek toe Johan Zarco aangekondig het dat hy nie langer vir KTM gaan jaag in MotoGP nie. Zarco sukkel steeds om by die KTM aan te pas en kon tot dusver nog nie sy voete vind nie. Hy lê sewentiende in die kampioenskap terwyl spanmaat Pol Espargaro tiende is, en amper drie keer meer punte as Zarco aangeteken het.

Gepraat van MotoGP, wat ‘n ongelooflike wedren tussen Ducati se Andrea Dovizioso en Honda se wêreldkampioen, Marc Marquez. Verskeie kere raak die Ducati en Honda teen hoë spoed aan mekaar soos wat Dovizioso net nie wou toelaat dat Marquez weereens oorheers nie. Dis egter Marquez wat die laaste ronde begin in die voorste posisie. Wanneer dit gebeur, is dit bykans onmoontlik om hom te klop. Tog slaag Dovi daarin om op die heel laaste draai aan Marquez se binnekant in te glip, en ‘n onverwagte oorwinning te behaal. Ducati spanbestuurder Davide Tardozzi se eg Italiaanse emosionele reaksie was kostelik om te aanskou! Derde plek behoort aan die Yamaha nuweling Fabio Quartararo, met die oudste man in die wedren, die veertigjarige Valentino Rossi in ‘n goeie vierde plek op sy Yamaha. Marquez is steeds 58 punte voor Dovizioso in die kampioenskap.F1

F1

In F1 is daar skoknuus oor die aankondiging dat Red Bull die Fransman Pierre Gasly gaan vervang met Toro Rosso se Alexander Albon. Soos Zarco in MotoGP, sukkel Gasly om aan te pas in die Red Bull F1 motor. Hy het tans slegs 63 punte teenoor super-spanmaat Max Verstappen se 181 punte. Gasly keer dus terug na Red Bull se junior span, Toro Rosso. Dit laat ‘n mens dink aan die 2016 seisoen toe Red Bull dieselfde gedoen het met die Rus Daniil Kvyat. Kvyat is terug geskuif Toro Rosso toe, en in 2018 was hy toetsbestuurder vir Ferrari, net om vanjaar weer terug te keer na Toro Rosso. Hy is egter nie oorweeg om Gasly in die senior span te vervang nie.

 

Suid-Afrikaners oorsee

Gewese Kapenaar Calvin Vlaanderen is Suid-Afrika se enigste verteenwoordiger in die motocross wêreldkampioenskap. Tydens die laaste byeenkoms in België het hy met ‘n uitstekende tweede plek algeheel geëindig in die MX2 klas.

Kelvin van der Linde is steeds voor in die Duitse GT Meesters kampioenskap in sy Audi R8.

Tasmin Pepper het die afgelope naweek 12de geëindig in die finale ronde van die W-reeks vir vroue, en daarmee die seisoen in tiende posisie algeheel afgesluit. In die Amerikaanse superfietskampioenskap het KwaZulu-Natal se Mathew Scholtz sy derde podium van die seisoen behaal.

%d bloggers like this: