Deur Daantjie Badenhorst.

 

Nadat vanjaar se VW Polo-beker verlede maand by Kyalami afgeskop het, is dit Saterdag, 21 April, Kaapse motorsportgeesdriftiges se beurt om die nuwe Polo GTI’s vir die eerste keer in aksie te sien.

Dit is die tweede ronde van vanjaar se nasionale Extreme Festival en die Polo-beker beloof om groot vermaak vir die geesdriftige Kaapse toeskouers te verskaf.

Twee wedrenne van agt en tien rondtes onderskeidelik sal Saterdag plaasvind.

Te oordeel aan verlede maand se eerste byeenkoms behoort Saterdag se wedrenne aan die Kaapse toeskouers se verwagtinge te voldoen. Nie net het nie een van die 22 deelnemers weens meganiese problem aan die wedren onttrek nie; maar daar was ook strawwe mededinging en skouspelagtige aksie in albei wedrenne.

Sommige deelnemers het hul nuwe motors gouer as ander gewoond geraak, maar die vroeë voorlopers se voorsprong sal dalk net iets van die verlede wees teen die einde van die tweede byeenkoms. Die vroeë voorloper is die jong renjaer Jeffrey Kruger in sy Universal Health-geborgde Polo.

Hoewel Kruger albei wedrenne op Kyalami gewen het, was dit nie maklik nie, aangesien hy aanslae van onder meer Jonathan Mogotsi, Tasmin Pepper, Juan Gerber, Shaun le Reservee en Keagan Campos moes afweer. As die botsing tussen Gerber en Mogotsi nie in die tweede wedren plaasgevind het nie, sou Kruger dalk nie die algehele wenner gewees het, nie aangesien Gerber en Mogotsi om die voortou van die wedren baklei het. Ander renjaers wat dalk ‘n kans het om die voortou te neem, is die gewese tydrenjaer Charl Wilken, asook Clinton Bezuidenhout, Delon Thompson, Benjamin Habiog, Darren Oates en Daniel Duminy.

Die lang agterste pylvak van die Killarney-renbaan sal vir die deelnemers ‘n groot uitdaging wees en die Push-to-pass-knoppie, wat ‘n nuwe kenmerk vir vanjaar se reeks is en bykomende krag vir ‘n paar sekondes gee sodat een deelnemer ‘n ander een kan verbysteek, sal van die wedren ‘n hoëspoed-skaakspel maak.  Volgens kundiges sal snelheid nie genoeg wees om ‘n oorwinning te verseker nie; die renjaers sal ook die regte strategiese besluite moet neem om hul plekke op die podium te verseker. Daar word egter verwag dat ‘n nuwe rondte-rekord vir die Polo-beker  opgestel sal word.

Volkswagen Motorsport gee erkenning aan die volgende borge en vennote wat die Polo-beker moontlik maak: MAN, Volkswagen Finansiële Dienste, Volkswagen Egte Onderdele, RG Motorsport en Ferodo.

%d bloggers like this: