Deur Daantjie Badenhorst.

1959. Die jaar toe motors oor die wenstreep deur die jaers gestoot is om punte te behaal. Die jaar toe die eerste renjaer met ‘n motor waarvan die enjin agter gemonteer is, die kampioenskap gewen het.

Die laaste Formule 1-wêreldkampioenskap van die 1950’s was die begin van ‘n nuwe era om meer as een rede, veral as gevolg van twee belangrike gebeurtenisse wat in Januarie daardie jaar plaasgevind het en wat ‘n blywende indruk op motorsport gehad het.

Die groot aankondiging wat in Januarie gedoen is, was die onttrekking van die Vanwall-span, wat die vorige jaar die kampioenskap vir vervaardigers gewen het. Dit was die jaar toe hierdie kampioenskap ingestel is, maar daar was twee redes hoekom Vanwall nie sy titel verdedig het nie. Met die laaste wedren van die jaar in Marokko het Stirling Moss die tweede plek in die kampioenskap agter Mike Hawthorn ingeneem, en Stuart Lewis-Evans is noodlottig in ‘n botsing beseer. Hy was die derde renjaer, na Luigi Musso en Peter Collins, wat in noodlottige ongelukke betrokke was. Die stigter van die Vanwall-span, Tony Vandervell, het besluit om aan die kampioenskap te onttrek aangesien Lewis-Evans se ongeluk sy gesondheid nadelig beïnvloed het. Hy het besluit om heeltemal uit die openbare lewe te tree, en is op 10 Maart 1967 oorlede. Die verdedigende wêreldkampioen, Mike Hawthorn, het sy uittrede aangekondig net nadat hy die kampioenskap gewen het. Op 22 Januarie 1959 het hy die eerste voormalige wêreldkampioen geword wat in ‘n botsing met sy eie motor gesterf het.

Monaco F1 Grand Prix 1959.

Soos gewoonlik in daardie jare was die eerste wedren van die nuwe seisoen in Monaco. Jack Brabham het sy eerste Grand Prix gewen; dit was ook die eerste oorwinning vir ‘n Australiese renjaer, asook die eerste vir die Cooper T 51-renmotor. Tony Brooks en die vorige jaar se wenner, Maurice Trintignant, het die volgende twee plekke op die podium ingeneem, gevolg deur Phil Hill, Bruce Mc Laren (Brabham se spanmaat) en Roy Salvadori. Die naaswenner van die 1958-kampioenskap, Stirling Moss, het onttrek nadat sy motor se ratkas onklaar geraak het.

Jack Brabham.

Die Nederlandse Grand Prix op Zandvoort het nog ‘n nuwe wenner opgelewer. Die Sweedse renjaer Jo Bonnier het BRM se eerste wedren gewen; dit sou sy enigste oorwinning wees en BRM sou tot 1962 vir sy volgende oorwinning, op dieselfde renbaan, moes wag. Brabham was tweede, Masten Gregory, in nog ‘n Cooper, derde, gevolg deur die Lotus van Innes Ireland en die Ferrari’s van Jean Behra en Phil Hill. Weer eens het Moss se motor se ratkas hom in die steek gelaat. Tony Brooks het ook uitgeval nadat sy motor olie gelek het.

Ferrari het die eerste twee plekke in die Franse Grand Prix ingeneem, met Tony Brooks en Phil Hill onderskeidelik eerste en tweede, Die laaste plek op die podium is deur Jack Brabham ingeneem, met Olivier Gendebien se Ferrari, Bruce Mc Laren se Cooper en Ron Flockhart se BRM in die volgende drie plekke. Stirling Moss is gediskwalifiseer omdat hy hulp van buite gekry het om sy motor aan die gang te kry.

Die Britse Grand Prix is in 1959 op die Aintree-renbaan gehou, en Jack Brabham het die tweede oorwinning van sy loopbaan, en van die seisoen, behaal. Vir ‘n verandering was Moss weer in die punte met ‘n tweede plek. Bruce Mc Laren het derde gekom, gevolg deur Harry Schell, Maurice Trintignant en Roy Salvadori. Hoewel Vanwall aan die kampioenskap onttrek het, het Tony Brooks met een aan hierdie wedren deelgeneem omdat Ferrari afwesig was. Hy het egter onttrek toe sy motor se ontsteking-stelsel moeilikheid gegee het.

Die Duitse Grand Prix, wat vir net hierdie een jaar op die Avus-renbaan gehou is, sal om die verkeerde redes onthou word. Die Franse renjaer Jean Behra, wat met ‘n Behra Porsche-motor sou deelneem, is die vorige dag noodlottig in ‘n Formule 2-wedren beseer. Die wedren self was uniek in die sin dat dit in twee dele gehou is, en die finale uitslag is deur die gemiddeld van die twee dele bepaal. Tony Brooks, Dan Gurney en Phil Hill het skoonskip met hul Ferrari’s gemaak. Hulle is gevolg deur Maurice Trintignant, Jo Bonnier en Ian Burgess. Brabham het onttrek toe sy motor se ratkas onklaar geraak het en Brooks se oorwinning het gemaak dat daar nou net vier punte tussen hulle was.

In 1959 is ‘n wedren vir die tweede agtereenvolgende jaar in Portugal gehou. Dit was die laaste Grand Prix in dié land tot 1984. Hoewel dit ‘n goeie wedren vir Cooper was, het Brabham in ‘n botsing betrokke geraak. Brooks het egter ook nie punte aangeteken nie en daarom het dit geen uitwerking op die kampioenskap gehad nie. Die wenner was Moss, met Masten Gregory en Dan Gurney tweede en derde. Trintignant, Schell en Salvadori het vierde, vyfde en sesde onderskeidelik geëindig.

Stirling Moss

Die voorlaaste wedren van die jaar was die Italiaanse Grand Prix op Monza, met Ferrari wat vier van die eerste ses plekke ingeneem het. Moss se Cooper was egter die wenner, met Phil Hill tweede en Brabham se Cooper, wat sy voorsprong in die kampioenskap vergroot het, derde. Dan Gurney, Cliff Allison en Oilvier Gendebien, almal in Ferrari’s, het die volgende drie plekke ingeneem. Met hierdie oorwinning het Moss die tweede plek in die kampioenskap oorgeneem, en daar was nog net een wedren oor.

Daardie laaste wedren het op die Sebring-renbaan in die Verenigde State van Amerika plaasgevind en was om meer as een rede geskiedkundig. Bruce Mc Laren was nie net die eerste Nieu-Seelandse wenner van ‘n Grand Prix nie, maar op 22-jarige ouderdom ook die jongste. Fernando Alonso het hierdie rekord in 2003 tydens die Hongaarse Grand Prix verbeter. Interessant genoeg was dit ook die laaste wedren tot die Monaco Grand Prix waarin geen voormalige wêreldkampioene deelgeneem het nie. Wie ook al die kampioen sou wees, sou sy eerste titel wen. Vir die eerste keer sedert 1951 kon een van drie jaers die kampioenskap wen. Moss het voor weggespring maar kon weer eens die wedren nie voltooi nie as gevolg van meganiese probleme. Brooks het derde gekom, maar dit was ook nie genoeg nie.

Brabham is as  kampioen gekroon nadat hy vierde gekom het. Sy wedren het egter nie sonder drama verloop nie; hy het sy motor sonder bystand oor die wenstreep gestoot soos wat die reëls bepaal het en die punte wat hy in die proses aangeteken het, was genoeg om aan hom die kampioenskap te besorg.

Jack Brabham.

Hy was in baie opsigte ‘n voorloper; nie net was hy Cooper se eerste wêreldkampioen nie, maar ook die eerste Australiese kampioen en die feit dat hy ook die eerste renjaer was wat die titel kon wen met ‘n motor waarvan die enjin agter gemonteer is, het verseker dat sy naam altyd in die geskiedenis opgeteken sal word.

Die volgende jaar het Brabham sy kampioenskap suksesvol verdedig en in 1966 het hy die eerste, en laaste renjaer geword wat die kampioenskap kon wen in ‘n motor wat hy self vervaardig het en wat sy naam gedra het. Hy het in 1970 uitgetree nadat hy altesaam 14 wedrenne gewen het en hy was tot dusver die enigste renjaer wat wedrenne in drie dekades (van 1959 tot 1970) kon wen. Hy is in 2014 in die ouderdom van 88 jaar oorlede.

%d bloggers like this: