Formule 1 in 1960 – Brabham verdedig sy titel

0 Comments

In 1959 het Jack Brabham die eerste Formule 1-renjaer geword wat ‘n wêreldtitel kon wen in ‘n motor met ‘n enjin wat agter die renjaer gemonteer is.

Die vraag was natuurlik of hy hierdie sukses in die eerste seisoen van die nuwe dekade kon nadoen. Brabham se Cooper-spanmaat, Bruce Mc Laren, het die laaste wedren van 1959 gewen; die eerste wedren van die 1960-seisoen het in Argentinië plaasgevind, en Mc Laren het ook hierdie wedren gewen. Soos sy spanbaas, John Cooper, later in ‘n onderhoud gesê het, was Mc Laren die jongste renjaer wat in ‘n wêreldkampioenskap voorgeloop het. Lotus se eerste motor met ‘n enjin wat agter gemonteer is, het sy debuut gemaak, maar kon nie die wedren voltooi nie.

Monaco 1960

McLaren en Brabham het in die begin van die 1960 Formule 1-seisoen nog met die Coopers van 1959 deelgeneem, maar ‘n nuwe motor is tydens die Monaco-wedren bekendgestel. Die nuwe motor was laer as sy voorganger en het ‘n nuwe ratkas gehad. Brabham was tydens hierdie wedren in ‘n botsing betrokke, en Stirling Moss het Lotus se eerste wedren gewen in ‘n Lotus 18 wat deur Rob Walker ingeskryf is. Bruce Mc Laren was tweede met Phil Hill, wat vir Ferrari deelgeneem het, in die derde plek.  Die voormalige motorfiets wêreld kampioen John Surtees het sy debuut  in Monaco gemaak, maar hy moes aan die wedren onttrek. Die volgende wedren was op Zandvoort in Nederland. Dit was Brabham se eerste oorwinning van die jaar, met Innes Ireland en Graham Hill tweede en derde. Stirling Moss se Lotus, en die Ferrari’s van Wolfgang von Trips en Richie Ginther het ook punte aangeteken.  Die latere tweemalige wêreld kampioen Jim Clark het sy debuut tydens hierdie wedren gemaak.

Die Belgiese Grand Prix op Spa Francochamps was ‘n hartseer wedren. Stirling Moss was in ‘n botsing tydens die oefen-rondes betrokke, terwyl twee noodlottige botsings tydens die wedren self plaasgevind het. Die jong, opkomende renjaer Chris Bristow, asook Alan Stacey, wat vir Lotus deelgeneem het, is tydens afsonderlike botsings gedood.  Brabham het gewen met Mc Laren tweede. Olivier Gendebien van België was derde in ‘n Ferrari, met Phil Hill, Jim Clark en Lucien Bianchi in die volgende drie plekke. Die Franse Grand Prix op Reims was Brabham se derde agtereenvolgende oorwinning, met Gendebien en Mc Laren tweede en derde.

Graham Hill kon nooit die Britse Grand Prix wen nie. In 1960 het hy egter sy beste kans gehad. Hy het ‘n fout met die wegspring gemaak, en laaste weggetrek, waarna hy die een motor na die ander verbygesteek het. Hy het self ‘n tyd lank voorgeloop, maar aan die wedren onttrek toe hy van die baan af getol het. Weer eens het Brabham gewen, met John Surtees in ‘n skitterende tweede plek in slegs sy tweede wedren en Innes Ireland derde. Moss het tot so ‘n mate van sy beserings herstel dat hy aan die Portuguese Grand Prix kon deelneem. Hy is wel gediskwalifiseer omdat hy in die verkeerde rigting gejaag het. Brabham het sy vyfde agtereen-volgende wedren gewen, met Mc Laren en Clark tweede en derde, gevolg deur Wolfgang von Trips, Tony Brooks en Innes Ireland.  Die Britse spanne het geweier om aan die Italiaanse Grand Prix deel te neem omdat hulle die baan as te gevaarlik beskou het. Ferrari het al drie plekke op die podium ingeneem , met Phil Hill as wenner, gevolg deur Richie Ginther en Willy Mairesse. Dit was die laaste oorwinning vir ‘n motor met ‘n enjin wat voor gemonteer is. Die laaste wedren van die jaar was die Amerikaanse Grand Prix wat op die Riverside-renbaan plaasgevind het. Moss was die wenner, gevolg deur Ireland en Mc Laren. Brabham het vierde gekom, maar dit het nie saakgemaak nie, want hy was verseker van sy tweede agtereen-volgende wêreld titel, met sy spanmaat Mc Laren in die tweede plek.

Jack Brabham het bewys dat sy sukses met die Cooper nie ‘n gelukskoot was nie, maar dit was die laaste keer wat Cooper regtig mededingend was. Dié span sou nooit weer ‘n kampioenskap vir renjaers of vervaardigers wen nie. Brabham het nog ‘n merkwaardige prestasie behaal; hy was die laaste renjaer in 26 jaar wat sy titel kon verdedig; die volgende een wat dit kon regkry, was Alain Prost, wat sy eerste twee titels in 1985 en 1986 gewen het.

Lees meer oor die die Lotusse en die 1960 Monaco Formule 1-ren HIER.

Categories:
%d bloggers like this: