1970 Formule 1-Wêreldkampioenskap: Seisoen sonder kampioen

0 Comments

Deur Daantjie Badenhorst.

 

Sekere Formule 1-Wêreldkampioenskappe staan uit. 1970 was só ‘n uitstaande seisoen. Die seisoen het gruwelike botsings gesien, waaruit die renjaers ongedeerd gestap het, maar daar was ook botsings wat die lewens van renjaers geëis het.

Die 1970-seisoen was, om meer as een rede, die einde van ‘n era in Formule 1 en die begin van ‘n nuwe een. In vergelyking met 1969 was daar slegs ‘n paar veranderinge in die spanne wat in 1970 deelgeneem het. Die verdedigende kampioen was Jackie Stewart, wat die titel vir Matra in 1969 gewen het, maar dié Franse vervaardiger het in 1970 besluit om die Ford-enjin vir ‘n Franse enjin te verruil.

Die een nuwe span waarvan daar baie verwag is, was March, gestig deur Max Moseley, Alan Rees, Graham Coaker en Robin Herd.  Die gedagte was aanvanklik dat die span een motor vir Jochen Rindt sou inskryf, maar Rindt het besluit om by Lotus te bly.  Die span het ‘n 701 aan Ken Tyrrell voorsien, om aan die kampioenskap deel te neem totdat Tyrrell se eie motor gereed sou wees vir deelname. Stewart was die hoofrenjaer van die March-span, met Johnny Servoz-Gavin as sy spanmaat.

Die March-fabriekspan se renjaers was Jo Siffert van Switserland en Chris Amon van Nieu-Seeland, met ‘n derde motor vir die Amerikaanse renjaer Mario Andretti wat vir ‘n paar wedrenne ingeskryf is.  Die Matra-span het twee Franse renjaers gehad, naamlik Jean-Pierre Beltoise en Henri Pescarolo.

 

 

Die Oostenrykse renjaer Jochen Rindt het in 1970 vir die Lotus-span gejaag.

 

Jochen Rindt was die nuwe foofrenjaer by Lotus nadat Graham Hill albei sy bene tydens die laaste wedren van 1969 gebreek het. Die Britse renjaer John Miles sou aanvanklik Rindt se spanmaat wees, maar vanaf die Britse Grand Prix het die Lotus-span met drie motors gejaag met Emerson Fitipaldi in die derde motor.

Jack Brabham se spanmaat in die Brabham-span was Rolf Stommelen van Duitsland terwyl die Mc Laren-span weer uit die twee Nieu-Seelandse renjaers Bruce Mc Laren en Denny Hulme bestaan het.  Die Mexikaanse renjaer Pedro Rodriguez het vir Jackie Oliver as spanmaat by BRM gehad en Piers Courage het met ‘n De Tomaso wat deur Frank Williams ingeskryf is, deelgeneem.

Die tafel was gedek vir ‘n opwindende seisoen.

Suid-Afrikaanse Grand Prix

Die eerste wedren van die jaar was die Suid-Afrikaanse Grand Prix op Kyalami.  Stewart het voor weggespring, gevolg deur Amon, Brabham en Rindt. Brabham het gewen, met Hulme tweede, gevolg deur Stewart, Beltoise, Miles en Hill.

 

Spaanse Grand Prix

Johnny Servoz-Gavin jaag met sy Tyrrell-March-701-1 verby Jacky Ickx se Ferrari en Jackie Oliver se BRM, wat in ‘n botsing met mekaar was in die eerste rondte.

Die tweede wedren van die seisoen in Spanje was Stewart se eerste oorwinning van die jaar, maar net vyf motors het die wedren voltooi.  Jackie Oliver en Jacky Ickx was in ‘n ernstige botsing waartydens hulle motors in vlamme gehul was. Albei renjaers het die botsing oorleef en kon weer aan die volgende wedren deelneem. Mc Laren was tweede en Mario Andretti het die podium vir die eerste keer in sy loopbaan behaal met sy derde plek.  Hill en Servoz-Gavin was die enigste ander twee renjaers wat die wedren kon voltooi.

 

Monaco Grand Prix

Die volgende wedren was in Monaco.  Die Sweedse renjaer Ronnie Peterson het aan sy eerste wedren vir March deelgeneem. Stewart en Amon was op die voorste ry van die wegspringrooster met Mc Laren en Hulme derde en vierde.  Stewart het lank voorgeloop, maar op die ou einde moes hy hom aan die wedren onttrek en die wedren het in ‘n tweestryd tussen Brabham en Rindt ontaard. Brabham het gelyk of hy vir seker sou wen, maar toe maak hy ‘n fout op die laaste draai. Hy het te skerp gedraai en sy motor het tussen die strooibale beland. Rindt het sy kans aangegryp en gewen, en Brabham moes met die tweede plek tevrede wees.  Pescarolo was derde, gevolg deur Hulme, Hill en Rodriguez. Dit was Bruce Mc Laren se laaste wedren; hy was een van drie sterfgevalle gedurende die jaar toe hy later op die Goodwood Renbaan in England op 2 Junie 1970 noodlottig verongeluk het terwyl hy ‘n Can Am-motor getoets het.

Belgiese Grand Prix

Pedro Rodriguez wen die 1970 Spa-Francorchamps-wedren in sy Yardley BRM P153.

Die Mc Laren-span het die Belgiese Grand Prix op die Spa Francochamps-baan misgeloop, aangesien die wedren vyf dae na Bruce Mc Laren se noodlottige ongeluk plaasgevind het. Vir hierdie span het Ignazio Giunti van Italië hom by die Ferrari-span aangesluit; hy sou Jacky Ickx se spanmaat wees. Stewart en Rindt het voor weggespring, gevolg deur Amon en Ickx.

Pedro Rodriguez (BRM).

Hoewel Amon ‘n nuwe rondte-rekord opgestel het, was dit Rodriquez wat gewen het; sy tweede en laaste oorwinning en die laaste een tot dusver deur ‘n Mexikaanse renjaer. Rodríguez het ‘n jaar later op 11 Julie 1971 in ‘n Interserie wedren in Nuremberg, Wes-Duitland tydens ‘n botsing omgekom.

Amon en Beltoise het die ander twee plekke op die podium ingeneem, en hulle is gevolg deur Giunti, Stommelen en Pescarolo.

Nederlandse Grand Prix

Die Nederlandse Grand Prix sal om die verkeerde redes onthou word. Lotus het sy splinternuwe model “72”, met ‘n aantal rewolusionêre ontwerpkenmerke soos twee verkoelers aan weerskante van die renjaer, gehad en Rindt het dadelik die voorste wegspringplek ingeneem. Die Switserse renjaer Clay Regazzoni het Giunti se plek by Ferrari ingeneem. Denny Hulme was nie beskikbaar om vir Mc Laren deel te neem nie en Peter Gethin en Dan Gurney het vir dié span deelgeneem.  Johnny Servoz-Gavin het sy uittrede uit Formule 1 aangekondig en Francois Cevert het sy plek ingeneem.

Die tweede noodlottige ongeluk van die jaar het tydens hierdie wedren plaasgevind. In die 22ste rondte het Piers Courage se De Tomaso in vlamme uitgebars en Courage is op die toneel dood. Dit het die Lotus 72 se eerste oorwinning heeltemal oorskadu. Stewart was tweede en Ickx was volgende, gevolg deur Regazzoni, Beltoise en John Surtees.

Franse Grand Prix

Chris Amon is sy March-Ford tydens die 1970 F1 Franse Grand Prix. Chris Amon word beskou as een van die beste F1-renjaers, wat nooit ‘n wedren kon wen nie.

Die Franse Grand Prix is by Clermont-Ferrand gehou. Ickx en Beltoise het voor weggespring maar kon nie die wedren voltooi nie. Weer eens was Rindt die wenner, met Amon en Brabham saam met hom op die podium. Die ander renjaers wat punte aangeteken het, was Hulme, Pescarolo en Gurney.

 

Britse Grand Prix

Die Brasiliaanse renjaer Emerson Fittipaldi het sy debuut vir Lotus gemaak in die Britse Grand Prix. Rindt het voor weggespring, maar hy het weer eens voordeel getrek uit Brabham se teëspoed; Brabham het voorgeloop maar sy motor se brandstof het opgeraak.  Soos in Monaco het Rindt gewen en Brabham het tweede gekom. Dit was die laaste keer wat Brabham punte aangeteken het. Brabham se eertydse spanmaat, Hulme, was derde, gevolg deur Regazzoni, Amon en Hill.  John Surtees, die 1964-wêreldkampioen het sy eie span gestig en sy motor, waarin hy self deelgeneem het, het sy debuut tydens hierdie wedren gemaak.

 

Duitse Grand Prix

Nadat die renjaers om veiligheidsredes geweier het om op die Nürnburgring te jaag, is die Duitse Grand Prix na Hockenheim verskuif.  Hoewel Ickx voor weggespring het, het Rindt gewen, met Hulme derde. Fittipaldi, Pescarolo en Stommelen was ook in die punte. Dit was Rindt se vyfde oorwinning van die jaar.

 

 

Jochen Rindt in sy Lotus.

 

Oostenrykse Grand Prix

Die Belgiese renjaer, Jackie Ickx, het in 1970 vir die Ferrari-span gejaag.

 

Vir die Oostenrykse Grand Prix het Rindt voor weggespring; dit was sy tuiswedren. Hy kon egter nie die wedren voltooi nie; Ickx en Regazzoni was onderskeidelik eerste en tweede vir Ferrari, met Stommelen saam met hulle op die podium. Die BRM’s van Rodriguez en Oliver was volgende, met Beltoise sesde. Rindt was op daardie stadium op 45 punte, gevolg deur Brabham op 25, Hulme op 20 en Ickx en Stewart op 19 elk. Die onsuksesvolle Bellasi-span, met Silvio Moser van Switserland as renjaer, het vir die eerste en laaste keer vir ‘n wedren kwalifiseer, maar kon nie die wedren voltooi nie en dié span het in 1971 ophou bestaan.

 

Monza Grand Prix

Toe kom Monza. Rindt se vrou, Nina, het vertel dat hy nog nie tevrede was met die nuwe Lotus 72 se hantering nie en dat hy sou verkies het om met die vorige motor, die 49, deel te neem. Die 49 was egter nie beskikbaar nie, en hy het geen keuse gehad  om met die 72 deel te neem nie. Hy was ook nie tevrede met die aërodinamiese hulpmiddels van die 72 nie en daarsonder aan die oefen-rondtes deelgeneem. Dit het noodlottige gevolge gehad. Toe hy by die Parabolica-draai tydens sy oefenrondte wou rem, het die een rem mee gegee en die motor het in ‘n sperreëling vasgejaag en Rindt het geen kans gehad om te oorleef nie.

Die wedren moes voortgaan, maar Lotus het al sy motors onttrek.  Ickx het voor weggespring maar dit was sy spanmaat Regazzoni wat sy eerste wedren gewen het. Rindt se dood het beteken dat Ickx nog die kampioen kon word, indien hy die oorblywende wedrenne sou wen. Ickx kon egter nie wedren by Monza voltooi nie; Stewart was tweede, gevolg deur Beltoise, Hulme, Stommelen en Cevert, wat sy eerste punt aangeteken het.

 

Kanadese Grand Prix

Met die Kanadese Grand Prix was dit Ickx wat gewen het, gevolg deur Regazzoni, Amon, Rodriguez, Surtees en Gethin.  Die Tyrrell-span se eie motor het sy debuut in hierdie wedren gemaak, maar kon nie die wedren voltooi nie.

 

Amerikaanse Grand Prix

Emerson Fittipaldi was die nuwe spanleier by Lotus. Hy het maar net aan sy vierde wedren deelgeneem en hy is deur omstandighede gedwing om die leierskap van die span oor te neem. Hy het dit gedoen deur sy eerste oorwinning, wat ook die eerste deur ‘n Brasiliaanse renjaer was, te behaal.  Rodriguez het lank voorgeloop en gelyk asof hy sou wen, maar laat in die wedren moes hy brandstof ingooi, wat hom tyd gekos het. Fittipaldi se spanmaat, Reine Wisell, was derde en Ickx se vierde plek het beteken dat Rindt se punte-totaal nie meer ingehaal kon word nie.

 

Mexikaanse Grand Prix

Die laaste wedren van die jaar was die Mexikaanse Grand Prix, wat deur Ickx gewen is, met Regazzoni in tweede plek, gevolg deur Hulme, Amon, Beltoise en Rodriguez. Die 45 punte wat Rindt voor sy dood aangeteken het, was genoeg om hom die Wêreldkampioenskap te besorg, want Ickx se totaal was net 40 punte.

Die 1970-seisoen sal onthou word as die enigste een waartydens die kampioen nie sy titel kon vier nie. Rindt het sy eerste oorwinning in die Amerikaanse Grand Prix van 1969 behaal en daarna net verbeter, tot so ‘n mate dat hy vyf wedrenne in 1970 gewen het. Rindt is postuum gekroon as die die 1970 F1kampioen. Dit was sover nog die enigste keer in die geskiedenis van die Formule 1-Wêreldkampioenskap dat dit gebeur het ‘n renjaer die titel postuum gewen het.

Dit was ook die einde van Jack Brabham se loopbaan; hy was die eerste renjaer wat ‘n wêreldkampioenskap kon wen in ‘n motor met ‘n enjin wat agter gemonteer was, en die eerste een wat die titel kon wen in ‘n motor wat hy self vervaardig het.

Aan die ander kant het die toekoms vir nuwelinge soos Francois Cevert, Ronnie Peterson, Emerson Fittipaldi en Clay Regazzoni belowend gelyk, maar net een van hulle sou die wêreldkampioenskap kon wen.

 

 

Categories:
%d bloggers like this: