1971 – ‘n groot jaar vir plaaslike motorbedryf

0 Comments

Daar is ‘n hele aantal redes hoekom  1971 kan as ‘n waterskeidingsjaar  in die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse motorbedryf beskou kan word.

In die eerste vier maande van die jaar het vier groot gebeurtenisse, waarvan drie  ‘n blywende invloed op die bedryf gehad het, plaasgevind. Die belangrikste was die begin van die derde fase van die motorbedryf se plaaslike inhoudsprogram, waarin plaaslike vervaardigers moes bekendmaak watter modelle hulle in Suid-Afrika sou vervaardig. Die invoer van motors van oorsee was toe nog onwettig, behalwe onder buitengewone omstandighede, terwyl sommige vervaardigers sekere modelle in klein getalle gemonteer het.

In Februarie het General Motors aangekondig dat hy sy werksaamhede in Suid-Afrika sou rasionaliseer; die Holden- en Vauxhall-reekse asook die Opel Rekord is aan die plaaslike mark onttrek, en daar sou voortaan net een handelaarsnetwerk wees. Die plaaslike reeks sou voortaan uit die Opel Kadett, die Ranger en die Holden-gebaseerde Chevrolet-reeks bestaan, asook twee nuwelinge wat later in die jaar hul verskyning sou maak. Teen die einde van Februarie is die eerste, en laaste Autopret-motorskou, ‘n tentoonstelling van wêreldgehalte waartydens verskeie nuwe modelle vir die eerste keer vertoon is, plaasgevind. Die een gebeurtenis wat nie net ‘n blywende invloed op motoriste gehad het nie, maar op die Suid-Afrikaanse samelewing in geheel, was metrisering, wat op 1 April in werking getree het. Hier, in alfabetiese volgorde, is die nuwelinge wat elke vervaardiger in 1971 in Suid-Afrika bekendgestel het.

Alfa Romeo

Die Alfa Romeo-reeks, wat uit die Giulia, die 1750 Berlina en die 1750 GTV bestaan het, is onveranderd gelaat, maar deur die loop van die jaar is die Giulia 1300 Super by die reeks gevoeg.

BMW

Die BMW-reeks, wat uit die 1800 en 2000 SA en die 2800 bestaan het, is onveranderd gelaat.

Chrysler

Die Valiant-reeks het hul jaarlikse detailveranderinge ondergaan, maar verder was daar geen belangrike nuwe modelle vir 1971 nie. 

Datsun/Nissan

Een van die nuwe modelle wat vir die eerste keer by die Autopret-motorskou vertoon is, was die Datsun 1200, wat teen die einde van die jaar hier bekendgestel is. Die bakkie, wat later as die Nissan 1400 bekendgestaan het en eers in 2007 aan die plaaslike mark onttrek is, het reeds in die middel van 1971 verskyn, gevolg deur die De Luxe-sedan teen die einde van die jaar. Die 1600-reeks is uitgebrei met die bekendstelling van die GL-koepee. Die 2300 se enjin is vergroot, en die 2400 wat hom opgevolg het, was beskikbaar met ‘n hand- en outomatiese ratkas. 

Fiat

Die 128 was die eerste voorwielaangedrewe Fiat wat internasionaal bekendgestel is, en het in 1970 die Europese Motor van die Jaar-toekenning gewen. In daardie jare moes Suid-Afrika lank wag vir Fiat-modelle en daarom het die 128 eers in 1971 hier op die mark gekom. Die 124-reeks het teen die einde van die jaar ‘n paar veranderinge ondergaan.

Ford

Teen die einde van 1970 is die Cortina Merk 3 oorsee bekendgestel, maar weens stakings wat destyds in Brittanje plaasgevind het, moes Suid-Afrika tot die tweede helfte van die jaar wag voordat hy hier op die mark gekom het. Die groot verrassing was egter die Cortina-bakkie, wat teen die einde van die jaar bekendgestel is nadat byna niemand daarvan bewus was dat Ford besig was om hom te ontwikkel nie. Die res van Ford se reeks was onderanderd behalwe dat die 20 M RS bekendgestel is en die 17 M RS vervang het.

General Motors

Die rasionalisering van General Motors se reeks het groot veranderinge tot gevolg gehad. Die onttrekking van die Holden Monaro GTS en die Holden Belmont-bakkie het beteken dat die maatskappy die Chevrolet SS-koepee en die El Camino-bakkie, met die keuse van ‘n sessilinder- of V8-enjin bekendgestel het. Die Ranger-reeks is uitgebrei met die toevoeging van drie modelle met die hoëverrigting-weergawe van die 2,5 liter-enjin en die Tri-Matric-outomatiese ratkas wat in Australië ontwikkel is en ook vir die Holden-gebaseerde modelle gebruik is. Twee splinternuwe modelle is ook bekendgestel; die Opel Manta, wat in klein getalle hier gemonteer is en baie goed deur die motorpers ontvang is, en die Chevrolet Firenza, ‘n plaaslik ontwikkelde weergawe van die Vauxhall HC Viva, wat onder meer met die Chevrolet 2,5 liter-enjin beskikbaar was. 

Leykor

British Leyland se Suid-Afrikaanse filiaal het destyds as Leykor bekendgestaan; aangesien die “kor”-agtervoegsel destyds hoogmode onder Suid-Afrikaanse maatskappye was. Dié maatskappy se besige program het vroeg in die jaar afgeskop met die bekendstelling van die Triumph 2,5 PI, ‘n petrolingespuite weergawe van die 2000 Merk 2-sedan. Suid-Afrika moes tot 1971 wag om die Mini Clubman, Clubman-stasiewa en 1275 GT te sien, maar hulle is teen die middel van die jaar hier bekendgestel. Terselfdetyd is die Austin 1800  weer in Suid-Afrika bekendgestel na ‘n afwesigheid van ‘n paar jaar, maar hierdie keer was dit die Merk 2. Wat egter dieselfde gebly het, was dat die 1800 hom weer onder aan die verkoopslyste tuisgemaak het.  Die groot nuus van die jaar was egter ‘n verrassing: die Austin Apache is hier bekendgestel as plaasvervanger vir die 11/55-reeks. Dit het ‘n inheemse Suid-Afrikaanse model geword nadat die moedermaatskappy die ontwerp verwerp het. 

Mazda

Die eerste Mazda-passasiersmodel wat in Suid-Afrika op die mark gekom het, was die 1200, wat skaars ses maande op die mark was voordat hy deur die 1300 vervang is. Die reeks is egter in 1971 verder uitgebrei met die bekendstelling van 616-reeks, wat aanvanklik uit ‘n sedan en ‘n koepee bestaan het. Dit was die eerste Mazda-passasiersmotor wat in Suid-Afrika vervaardig is. Aan die handelsvoertuig-kant is die B 1600 as ‘n bykomende model bokant die B 1500 bekendgestel. 

Mercedes-Benz

Die Mercedes-Benz-reeks is onveranderd gelaat, behalwe dat die handratmodelle ‘n vloergemonteerde rathefboom gekry het. Die outomatiese modelle se ratkiesers het eers later na die vloer veskuif.

Peugeot

Die Europese Motor van die Jaar vir 1969, die Peugeot 504, was een van die mees langverwagte nuwe motors van 1971. Die handrat-sedan was vir eers die enigste model in die reeks en die reeks is eers later uitgebrei. 

Renault

Die Renault 12 is teen die einde van 1970 in Suid-Afrika bekendgestel en die maatskappy het die Suid-Afrikaanse publiek die son, die maan en die sterre belowe vir 1971. Die 12-reeks sou uitgebrei word met die toevoeging van die stasiewa en die Gordini, ‘n verrigtingsmodel met ‘n weergawe van die 16 TS se enjin en die 6, ‘n luikrug wat effens groter as die 4 was, sou ook hier bekendgestel word. Die planne om die 6 by Autopret te vertoon, is ter elfder ure gekanselleer, en hy is nooit hier bekendgestel word nie, terwyl die toevoegings tot die 12-reeks Suid-Afrika nie bereik het nie, met die uitsondering van die 12 S, wat eers later sou volg. 

Toyota

Hoewel Toyota een van die vervaardigers was wat geweier het om aan Autopret deel te neem, het dié maatskappy ‘n besige jaar gehad. In die Mei 1971-uitgawe van Car het Toyota nog  in ‘n advertensie gesê  dat sy passasiersreeks uit ‘n volle twee modelle, naamlik die Corona 1600 en die Corona 1900 Merk 2, bestaan het. Net die volgende maand is die Corona 1700 bekendgestel, gevolg deur die outomatiese weergawe van die Corona 1900 Merk 2, wat later daardie jaar ‘n paar stileringsveranderinge ondergaan het. Teen die einde van die jaar is die 1900 GSL , Toyota se eerste verrigtingsmodel in Suid-Afrika, by die reeks gevoeg. Die Hilux- en Hi-Ace-reekse is verbeter deurdat 1600-modelle van albei modelle bekendgestel is. Dit was ook die jaar toe die maatskappy se nuwe fabriek suid van Durban in gebruik geneem is.

Volkswagen

Die Volkswagen Beetle het in 1969 weer die topverkoper in Suid-Afrika geword, en Volkswagen Suid-Afrika (VWSA) het elke jaar detailveranderinge aangebring om die verskillende jaarmodelle van mekaar te onderskei. Vir 1971 is die 1500 aan die mark onttrek, en net die 1300 en 1600 was beskikbaar.  Die Microbus-reeks is uitgebrei toe die 1700-modelle, met diedelfde enjin as die 411 bygevoeg is terwyl die pertolingespuite weergawe van die 411, die LE, in sedan- en Variant-weergawes by die reeks gevoeg is.

Volvo

Die groot nuus van Volvo se kant af was nie die bekendstelling van ‘n nuwe model nie maar eerder die einde van produksie van ‘n staatmaker. Die laaste 122S B 20 is in die middel van die jaar in Suid-Afrika gemonteer, ten spyte van sy gewildheid. Die 164 is onveranderd gelaat, maar die 144  het ‘n nuwe sierrooster gekry.

Die drie gewildste motors van 1971 was die VW Beetle, die Chrysler Valiant en , ‘n verrassende nuwe toetrede tot die eerste drie, die Datsun 1600.  Dit was egter seker die mees opwindende jaar in die geskiedenis van die plaaslike motorbedryf, selfs al het nie al die nuwelinge wat daardie jaar op die mark gekom het, aan die publiek se verwagtinge voldoen nie.