Deur Daantjie Badenhorst.

In die geskiedenis van die Formule 1-wêreldkampioenskap was daar nog net een Suid-Afrikaanse renjaer, wat nie net volgehoue sukses behaal het nie, maar ook die F1-kampioenskap kon wen. Jody Scheckter het hierdie titel in 1979 gewen. Hier is ‘n oorsig van daardie jaar se seisoen.

In vergelyking met 1978 was daar groot veranderinge onder die spanne wat deelgeneem het; drie spanne wat in die verlede net met een motor deelgeneem het, het elk ‘n tweede motor ingeskryf. Die belangrikste verandering was dat Jody Scheckter, wat twee jaar lank die enigste lid van die Wolf- span was en drie wedrenne vir hulle gewen het, Carlos Reutemann se plek by Ferrari ingeneem het. Ronnie Peterson is tydens die Italiaanse Grand Prix in 1978 in ‘n ongeluk dood, en Reutemann het sy plek by Lotus ingeneem. Peterson het toe reeds ‘n kontrak onderteken om die leier van die McLaren-span te wees. Pleks daarvan het John Watson van Brabham na Mc Laren geskuif, en Nelson Piquet sou Niki Lauda se spanmaat by Brabham wees. Williams, Ligier en Renault het elk twee motors ingeskryf, met Clay Regazzoni, Patrick Depailler en Rene Arnoux wat hul plekke langs onderskeidelik Alan Jones, Jacques Laffite en Jean-Pierre Jabouille ingeneem het. James Hunt, wat in 1976 die kampioenskap gewen het, het van Mc Laren na Wolf geskuif in Scheckter se plek. Die Surtees-span, wat deur die 1964-wêreldkampioen John Surtees gestig is, het aan die kampioenskap onttrek.

Die eerste twee wedrenne van die 1979-seisoen is in Suid-Amerika gehou, eers in Argentinië en toe in Brasilië. Dit het gelyk asof Ligier die seisoen sou oorheers, aangesien Laffite albei wedrenne gewen het. Op daardie stadium het net die renjaers in die eerste ses plekke punte aangeteken; die ander renjaers wat in hierdie wedren punte aangeteken het, was Reutemann, Watson, Depailler, Andretti en die tweemalige wêreldkampioen Emerson Fittipaldi, wat met sy gelyknamige motor deelgeneem het en weinig sukses behaal het. Schekter het uitgeval. Laffite het weer in Brasilië gewen, met sy spanmaat Depailler tweede. Reutemann, Pironi en Villeneuve het die derde tot die vyfde plekke ingeneem terwyl Scheckter sy eerste punt van die seisoen aangeteken het toe hy in die sesde plek geëindig het. Die Suid-Afrikaanse Grand Prix op Kyalami was ‘n keerpunt in die seisoen.

Ferrari het sy radikaal nuwe 312 T4 bekendgestel in reaksie op Lotus se uiters suksesvolle 79. Dié nuwe motor was aërodinamies doeltreffend, al het die ontwerp radikaal van dié van die Lotus verskil. Die plat 12-enjin het die motor ‘n breë voorkoms gegee en die T in die motor se naam het gestaan vir “transvestale”, wat verwys het na die dwarsgemonteerde ratkas wat die motor se hantering verbeter het. Jabouille het voor weggespring in sy turboaangejaagde Renault, maar hy kon nie die wedren voltooi nie. Dit het nie gewoonlik tydens ‘n Grand Prix-wedren op Kyalami gereën nie, maar 1979 was ‘n uitsondering. Schekter het sy kennis van plaaslike toestande vertrou en nat bande aan sy motor aangebring. Villeneuve se taktiek was egter hierdie keer beter en nadat die reën opgehou het, was hy kuipe toe om ook sy bande te vervang. Dit het die verskil gemaak; Villeneuve het gewen, met Scheckter in die tweede plek. Die ander renjaers wat punte aangeteken het, was Jarier, Andretti, Reutemann en Lauda.

Villeneuve het ook die volgende wedren op die Long Beach-straatbaan in die Amerikaanse staat Kalifornië gewen, weer eens met Scheckter in die tweede plek. Alan Jones het die podium in sy Williams gehaal, met Andretti, Depailler en Jarier in die volgende drie plekke. Patrick Depailler het die Monaco Grand Prix in 1978 gewen; dit was sy heel eerste Grand Prix-oorwinning. Die Spaanse Grand Prix van 1979 was sy eerste oorwinning vir sy nuwe span, maar Laffite het hierdie keer uitgeval. Vir ‘n verandering het Lotus ‘n goeie wedren beleef, met Reutemann en Andretti tweede en derde. Schekter was die enigste Ferrari- renjaer wat punte kon aanteken toe hy die wedren in die vierde plek voltooi het; met die twee Tyrrells van Jarier en Pironi onderskeidelik vyfde en sesde. Dit was Depailler se laaste oorwinning in ‘n Grand Prix. Tydens die Belgiese Grand Prix, op die Zolder-renbaan, was Schekter, enigste Ferrari-renjaer wat punte kon aanteken toe hy dié wedren gewen het.

Die ses motors wat in die punte klaargemaak het, was almal van verskillende vervaardigers,, naamlik Ligier (Laffite), Tyrrell (Pironi), Lotus (Reutemann), Arrows (Patrese) en Mc Laren (Watson). Scheckter het in 1977 die honderdste oorwinning van die legendariese Ford DFV Cosworth-enjin behaal toe hy die Monaco Grand Prix vir die Wolf-span gewen het. Tweee jaar later was hy weer die wenner, hierdie keer vir Ferrari. Regazzoni het gewys dat die Williams FW 07 ‘n motor was om mee rekening te hou toe hy tweede gekom het. Die res van die renjaers wat punte aangeteken het, was Reutemann, Watson, Depailler (die vorige jaar se wenner) en Mass. Die Franse Grand Prix was heel moontlik die spannendste en opwindendste wedren van die jaar. Dit is by die Dijon-Prenois-renbaan gehou, en hoewel Jean-Pierre Jabouille geskiedenis gemaak het deur die eerste Franse renjaer in ‘n Franse motor te word wat in Frankryk kon wen, het sy spanmaat René Arnoux en Gilles Villeneuve vir groot opwinding gesorg deur mekaar byna van die baan af te jaag. Villeneuve en Arnoux het onderskeidelik tweede en derde geëindig, met Jones, Jarier en Regazzoni agter hulle. Schekter was net-net buite die punte in die sewende plek.

Depailler was kort tevore in ‘n hangsweef-ongeluk betrokke en sou nie verder dié jaar aan Formule 1 deelneem nie. In 1980 het hy hom by die Alfa Romeo-span aangesluit, maar hy is in Augustus daardie jaar in ‘n toetsongeluk dood. Sy plek in die Ligier-span is deur die Belgiese veteraan Jacky Ickx ingeneem. Williams het lank al gelyk na ‘n span wat een of ander tyd ‘n wedren sou wen, en tydens die Britse Grand Prix op Silverstone het Clay Regazzoni die span se potensiaal verwesenlik nadat Jones uitgeval het terwyl hy voorgeloop het. Arnoux was tweede vir Renault, terwyl Jarier, Watson, Scheckter en Ickx punte aangeteken het. Regazzoni se oorwinning was nie ‘n gelukskoot nie. Jones het die Oostenrykse Grand Prix in 1977 vir die Shadow-span gewen, en sy oorwinning in die Duitse Grand Prix was die tweede een van sy loopbaan. Vir die eerste keer het Williams die eerste twee plekke ingeneem toe Regazzoni tweede klaargemaak het. Die volgende vier plekke is deur Laffite, Schekter, Watson en Mass ingeneem. Jones het ook die volgende wedren in Oostenryk gewen, en vir ‘n verandering was albei Ferrari’s in die punte. Villeneuve en Scheckter was onderskeidelik tweede en vierde, Laffite derde, en Regazzoni en Arnoux vyfde en sesde. Asof Jones se twee agtereenvolgende oorwinnings nie genoeg was nie, het hy sommer ook die Nederlandse Grand Prix gewen. Hy was nou Scheckter se grootste teenstander om die kampioenskap. Scheckter het tweede gekom, gevolg deur Laffite, Piquet, Ickx en Mass.

Dit was egter nie die belangrikste gebeurtenis van dié wedren nie. Villeneuve se band het byna ‘n rondte van die kuipe af gebars, en tipies van hom, wou hy die kuipe haal, die band laat omruil en voortgaan met die wedren. Hy het eenvoudig agteruit gery, weer sy motor tot op die renbaan gekry en met drie wiele tot by die kuipe gery terwyl hy die velling beskadig het en die motor eintlik lendelam was. Soos die legenradiese kommentator Murray Walker gesê het: dit was ‘n wonderwerk dat die motor nie aan die brand geslaan het nie. Villeneuve se motor was so erg beskadig dat hy buitendien nie met die wedren kon voortgaan nie. Jody Scheckter het sy kampioenskap met ‘n oorwinning in die Italiaanse Grand Prix op Monza verseker, met Villeneuve tweede. Hoewel Villeneuve vir die opwinding gesorg het, het Scheckter se konsekwente uitslae die deurslag gegee het terwyl Jones sy oorwinnings te laat in die seisoen behaal het. Regazzoni se derde plek was die enigste punte wat Williams in hierdie wedren kon aanteken; hy is gevolg deur Lauda, Andretti en Jarier. Die tweede oud-wêreldkampioen wat in 1979 uitgetree het, was Niki Lauda,maar anders as James Hunt sou hy later terugkeer. Hoe ook al; sy plek in die Brabham-span is deur Ricardo Zunino ingeneem. Alfa Romeo was vir die,eerste keer sedert die 1950’s terug met twee Italiaanse renjaers, Vittorio Brambilla en Bruno Giacomelli.

Albei Williams- en Ferrari-motors het in die punte klaargemaak, met Jones en Regazzoni eerste en derde vir Williams en Villeneuve en Scheckter tweede en vierde vir Ferrari. Pironi en Watson het onderskeidelik vyfde en sesde geëindig. Die laaste wedren van die jaar, die Amerikaanse Grand Prix op die Watkins Glen- renbaan, is deur Villeneuve gewen, met Arnoux en Pironi tweede en derde.Elio de Angelis en Hans-Joachim Stuck het die wedren in die vierde en vyfde plekke vir onderskeidelik Shadow en ATS voltooi, terwyl John Watson die laaste punt vir Mc Laren aangeteken het. Die volgende jaar het Ferrari die T4 met die 312 T5 vervang en een van sy swakste seisoene tot nog toe gehad. Die 1979-seisoen sal onthou word vir die eerste oorwinning deur ‘n turboaangejaagde motor, asook die opkoms van die Williams-span, en anders as gewoonlik was daar geen noodlottige ongelukke nie. Williams het na vore gekom as die span om dop te hou, en dit het nie lank geduur voordat dié span sy potensiaal verwesenlik het nie.

%d bloggers like this: