1980- Williams se eerste kampioenskap

0 Comments

In 1979 het Jody Scheckter die eerste Suid-Afrikaanse renjaer geword wat die Formule 1-wêreld kampioenskap kon wen. 

Die vraag is of hulle hierdie prestasie in 1980 kon ewenaar. Net een span het tot op daardie stadium met turbo-aangejaagde enjins deelgeneem, naamlik Renault. Jean-Pierre Jabouille het die eerste Franse renjaer geword wat sy tuiswedren in ‘n Franse motor kon wen, en hy en sy spanmaat René Arnoux is as gunstelinge beskou vir die 1980-kampioenskap.

Hoewel Renault en Ferrari, wat vir Gilles Villeneuve as Jody Scheckter se spanmaat gehad het, onveranderd gebly het, was daar groot veranderinge in ander spanne. Carlos Reutemann het hom by Williams as Alan Jones se spanmaat aangesluit nadat hy ‘n jaar by Lotus was. Williams se vorige renjaer, Clay Regazzoni, wat die span se eerste wedren in 1979 gewen het, het na Ensign geskuif. Lotus se nuwe renjaer was Elio de Angelis, wat Mario Andretti se spanmaat sou wees. Patrick Depailler se loopbaan by Ligier is deur ‘n hangsweefongeluk kortgeknip, en hy was vir 1980 by Alfa Romeo saam met Bruno Giacomelli, terwyl Didier Pironi hom hy Ligier aangesluit het, met Jacques Laffite as spanmaat. Keke Rosberg was Emerson Fittipaldi se spanmaat by die Fittipaldi-span en Alain Prost was die nuwe lid van die Mc Laren-span, saam met John Watson. Pironi se plek by Tyrrell is deur die Ierse renjaer Derek Daly ingenneem, terwyl Jean-Pierre Jarier by die span gebly het. Riccardo Patrese en Jochen Mass was steeds deel van die Arrows-span.

Die eerste wedren van die jaar het in Argentinië plaasgevind, en Alan Jones het die jaar met ‘n oorwinning vanuit die voorste wegspringplek behaal. Nelson Piquet was tweede terwyl Keke Rosberg gewys waartoe hy in staat was met ‘n derde plek in die Fittipaldi. Daly, Giacomelli en Prost het die volgende drie plekke ingeneem, maar Scheckter en Villeneuve het hulle aan die wedren onttrek. Op Interlagos in Brasilië het René Arnoux sy eerste oorwinning behaal, terwyl sy spanmaat, Jabouille, hom onttrek het. Saam met hom op die podium was De Angelis en Jones in onderskeidelik die tweede en derde plek. Pironi, Prost en Patrese het ook die wedren in die punte voltooi, maar weer eens kon die Ferrari’s geen punte aanteken nie; Scheckter het hom onttrek terwyl Villeneuve heel laaste geëindig het. Die Suid-Afrikaanse skare het gehoop dat Scheckter ten minste punte in sy tuiswedren sou aanteken, maar hulle is teleurgestel. Die Renaults het die voorste ry van die wegspring-rooster geel geverf, met Jabouille eerste en Arnoux tweede. Jabouille het ‘n pap wiel sestien rondtes voor die einde gekry; gevolglik het Arnoux sy tweede oorwinning van die jaar behaal. Al drie plekke op die podium is deur Franse renjaers ingeneem, met die Ligiers van Laffite en Pironi onderskeidelik tweede en derde. Piquet, Reutemann en Mass het die ander drie plekke in die punte ingeneem.

Die eerste van twee wedrenne in die Verenigde State van Amerika daardie jaar het in Long Beach, Kalifornië plaasgevind; dit was een van twee straat-wedrenne op die kalender. Prost het ‘n besering op Kyalami opgedoen en kon gevolglik nie deelneem nie. Sy plaas-vervanger, Stephen South, kon nie vir die wedren kwalifiseer nie. Die groot nuus was die einde van Clay Regazzoni se loopbaan; hy het met sy Ensign in ‘n muur vasgejaag toe die motor se remme tydens die wedren onklaar geraak het. Hy was tot sy dood in 2006, ironies genoeg in ‘n motor ongeluk, aan ‘n rolstoel vasgekluister. Soos wat een loopbaan geëindig het, só het ‘n ander een begin, want Nelson Piquet het sy eerste oorwinning tydens hierdie wedren behaal, met twee verrassings op die podium, naamlik Patrese en Fittipaldi in die tweede en derde plek. Watson en Pironi was vierde en sesde terwyl Scheckter eindelik twee punte vir sy vyfde plek aangeketen het. Nóg ‘n renjaer het by die volgende byeenkoms sy eerste wedren gewen. Tydens die Belgiese Grand Prix op die Zolder-renbaan het Didier Pironi voor weggespring en deurentyd die voorste plek behou. Jones en Reutemann het tweede en derde vir Williams gekom, met Arnoux en Jarier vierde en vyfde. Villeneuve het sy eerste punt van die seisoen met sy sesde plek aangeteken. 

Die volgende wedren was in Monaco, en niemand wat die ongeluk tussen die Tyrrell-spanmaats Jarier en Daly aan die begin van die wedren gesien het, sal dit ooit vergeet nie.  Jarier se motor het bo-oor dié van Daly gery maar albei was ongedeerd. Hoewel Pironi voor weggespring het, het hy hom aan die wedren onttrek weens ‘n ongeluk. Reutemann het gewen, met Laffite en Piquet saam met hom op die podium. Mass en Fittipaldi was vierde en sesde en Villeneuve het weer twee punte met sy vyfde plek aangeteken.  Die Spaanse Grand Prix het nie vir die kampioenskap getel nie. Jones het die wedren gewen met Mass en De Angelis tweede en derde. Daar was ‘n slegte verhouding tussen die onafhanklike vervaardigers en dié van groot motor-vervaardigers, en die wedren het voortgegaan sonder spanne van onder meer Ferrari, Renault en Alfa Romeo. Gevolglik is die wedren deur die destydse grootbaas van Formule 1, Jean-Marie Balestre, onwettig verklaar en die Franse spanne het dit gesteun. Toe die volgende wedren drie weke later in Frankryk plaasgevind het, was daar groot vreugde toe Jones gewen het., maar die Ligier-spanmaats, Pironi en Laffite, was onderskeidelik tweede en derde. Die ander drie renjaers wat punte aangeteken het, was Piquet, Arnoux en Reutemann. Jones het sy sukses in Frankryk opgevolg met ‘n oorwinning in die Britse Grand Prix op die Brands Hatch-baan. Piquet, sy groot teenstander in die kampioenskap, en Reutemann, was onderskeidelik tweede en derde, met Daly, Jarier en Prost in die volgende drie plekke.

Tussen die Britse en Duitse Grand Prix-wedrenne was daar ongelukkig ook ‘n noodlottige ongeluk. Patrick Depailler het sy Alfa Romeo byna ‘n week voor sy 36ste verjaardag op die Hockenheim-renbaan in Duitsland getoets en hy is tydens dié toets in ‘n ongeluk dood. Die Grand Prix self het nege dae plaasgevind, en Andrea de Cesaris het Depailler se plek by Alfa Romeo ingeneem. Die wedren is deur Laffite gewen, met Reutemann en Jones tweede en derde. Die ander drie renjaers wat in die punte was, was Piquet, Giacomelli en Villeneuve. Die Oostenrykse Grand Prix was Jean-Pierre Jabouille se tweede oorwinnig, nadat hy vroeg in die jaar met die Renault gesukkel het weens ‘n gebrek aan betroubaarheid. Jones en Reutemann het die tweede en derde plekke vir Williams ingeneem, gevolg deur Laffite, Piquet en De Angelis.  Piquet se aanslag op die kampioenskap het momentum gekry toe hy die Nederlandse Grand Prix gewen het; daarby kon Jones nie punte aanteken nie. Arnoux en Laffite was tweede en derde, gevolg deur Jarier, Prost en Villeneuve. 

Vir die eerste keer is die Italiaanse Grand Prix nie op Monza gehou nie, maar op die Imola-renbaan. Piquet het sy oorwinning in Nederland met nóg een opgevolg, maar hierdie keer was Jones tweede met Reutemann in die derde plek. Die volgende drie plekke is ingeneem deur De Angelis, Rosberg en Pironi. Scheckter het in die oefenrondes ‘n ongeluk gemaak maar het weggespring, maar kon nie punte aanteken nie. Die laaste twee wedrenne van die jaar is in Noord-Amerika gewen, en Jones se oorwinning in albei het sy kampioenskap verseker. In Kanada was Reutemann en Pironi saam met hom op die podium, met Watson, Villeneuve en Piquet se spanmaat, Hector Rebaque in die volgende drie plekke. Scheckter, wat ‘n rampspoedige seisoen beleef het, het selfs die vernedering deurgemaak om nie vir hierdie wedren te kwalifiseer nie; hy was die eerste verdedigende wêreld kampioen wat hierdie twyfelagtige prestasie kon behaal. Reutemann en Pironi het op Watkins Glen saam met Jones op die podium gestaan, met De Angelis, Laffite en Andretti in die volgende drie plekke.

Die 1980-seisoen was in baie opsigte die einde van ‘n era. Twee gewilde renjaers van die 1970’s se loopbane het weens ongelukke tot ‘n einde gekom, en die Amerikaanse Grand Prix was die laaste een wat op die Watkins Glen-renbaan gehou is. Twee voormalige wêreld kampioene het hul uittrede aangekondig. Emerson Fittipaldi het vyf seisoene lank met die onmededingende Copersucar, later Fittipaldi, gejaag en kon sedert 1975 nooit weer ‘n wedren wen nie. Jody Scheckter se verdediging van sy wêreld titel was rampspoedig omdat die 312 T5, wat die uiters suksesvolle 312 T4 opgevolg het, ‘n volstrekte mislukking was. Dit het hom laat besluit om op dertigjarige leeftyd uit te twee. Ferrari het wel vir 1981 ‘n splinternuwe motor met ‘n turbo-aangejaagde enjin gehad maar moes tot die jaar 2000 wag om weer ‘n wêreldkampioen op te lewer. Williams het sy eerste renjaers- en vervaardigers titels gewen, en sou byna twintig jaar lank  een van die suksesvolste spanne in Formule 1 wees.

Categories:
%d bloggers like this: