Nadat die tweede geslag Kia Picanto ‘n reuse sukses in Suid-Afrika was, is die derde generasie van Kia se intreevlak-modelreeks pas bekendgestel.

Hierdie nuwe modelreeks bou voort op die wen-eienskappe van sy voorganger, maar  bied verhoogde veiligheidstandaarde en beter waarde vir geld as voorheen.

Die nuwe Picanto se ontwerp is die gevolg van samewerking tussen die twee ontwerpateljees in Namyang in Korea en Frankfurt in Duitsland.

Die asafstand van 2 400 mm is 15 mm langer as voorheen en die wiele is nader aan die hoeke van die motor gemonteer om te verseker dat die motor meer padvas is. Nogtans is die nuwe model nie langer as sy voorganger nie en is steeds ‘n ruim kompakte stadsmotor..

Die nuwe Picanto bied ‘n groter verskeidenheid modelle as voorheen, met ‘n keuse van twee enjins, twee ratkaste en vier spesifikasievlakke. Daar is staalwiele van 13 of 14 duim beskikbaar, of in die geval van die luukser modelle, allooiwiele van 14 of 15 duim. Daarby kan voornemende kopers een van elf kleure kies, waarvan ses nuut is. Die luukser modelle het ook LED-projektorkopligte as standaardtoerusting.

Die nuwe instrumentepaneel is op die bestuurder gerig. Die kontroles is makliker vir die bestuurder bereikbaar en die inligting-en-vermaakstelsel is hoog gemonteer wat dit vir die bestuurder maklik maak om daarmee te werk. Swart materiaalbekleedsel is standaardtoerusting vir die meeste modelle tewyl die topmodel swart en grys leerbekleedsel as standaardtoerusting het.

Hoewel die nuwe model se lengte dieselfde as dié van sy voorganger is, is daar meer binne- en bagasieruimte as gevolg van die langer asafstand. Daar is meer kop- en beenruimte as die topverkopers in die A-segment en dit is maklik vir insittendes om in en uit die motor te klim. Die luukse modelle het ‘n voorste armleuning; ‘n unieke kenmerk is dat dit vorentoe en agtertoe kan skuif. Die bagasiebak het ‘n dubbele vloer wat maak dat waardevolle items weggesteek kan word en die 60-40-verdeelde agtersitplekke kan  platgevou word, indien bykomende bagasieruimte nodig is.

Die Picanto se inligting-en-vermaakstelsel is die gevorderdste in sy klas. In die goedkoper modelle is daar ‘n swart en wit skerm van 3,8 duim met kontroles wat maklik is om te gebruik. Die luukser modelle het ‘n kleurskerm van sewe duim, en die bestuurder se slimfoon kan deur middel van Bluetooth gekoppel word. Die stelsel is versoenbaar met Apple Car Play en Android Auto terwyl stembeheer maak dat die bestuurder die stelsel kan gebruik sonder om sy of haar oë van die pad af te hou. Daar is ook AUX- en USB-poorte onder aan die paneelbord wat verseker dat slimfone gelaai kan word en dat musiek van ‘n slimfoon of MP 3-speler af gespeel kan word.

Die middelkonsole van die Kia Smart. Die Picanto is die perfekte stadsmotor. Ekonomies, gerieflik en digitaal-vriendelik om die lang tye in verkeer draaglik te maak.

Die meeste modelle in die reeks het ABS-remme asook ‘n lugsak vir die bestuurder en die voorste passasier. Daarby is ISOFIX-hegpunte  vir die agtersitplekke standaardtoeruisting vir die hele reeks.

Die 1,0 – en 1,25 liter-enjins kom uit die vorige reeks, maar beskik oor klein verbeterionge wat die nuwe modelle meer bestuurbaar en doeltreffend maak.  Albei enjins kom met ‘n vyfgang-handratkas terwyl sommige modelle ook met ‘n outomatiese ratkas met vier gange beskikbaar is. Die 1,0 liter-enjin lewer 49 kw teen 5 500 opm en 93 Nm teen 3 750 opm. Die syfers vir die 1,25 is onderskeidelik 61 kw teen 6 000 opm en 122 Nm teen 4 000 opm.

Daar is vier spesifikasievlakke:

Die Start is die intreemodel, en is beskikbaar as ‘n 1,0 liter-handrat en ‘n 1,25 liter handrat of outomaties. Onder die standaardkenmerke van hierdie model is handbeheerde lugversorging, ‘n verstelbare stuurkolom,  ‘n radio met RDS waaraan ‘n MP3-speler gekoppel kan word en Bluetooth-verbinding.

Die Street is beskikbaar as ‘n 1,0- of 1,25 liter met net die handrat. Hierdie model kry ook elektriese vensters voor, ‘n veelfunksiestuurwiel, elektriese vensters voor, ‘n sentrale sluitstelsel met afstandbeheer en ‘n bestuurdersitplek wat se hoogte verstel kan word.

Die Style bied ‘n keuse tussen die twee beskikbare ratkaste en die twee enjins beskikbaar. Onder die standaardkenmerke wat hierdie spesifikasievlak byvoeg, is allooiwiele van 14 duim, projektor-kopligte, dagryligte, ‘n agterste ruitveër, en sakke agter die voorste sitplekke se rugleunings.

Die Smart is met albei enjins beskikbaar maar net met ‘n handratkas. Hierdie model het ‘n tru-kamera. ‘n volle inligting-en-vermaakstelsel met ‘n kleurskerm, Bluetooth met stembeheer en leerbekleedsel in twee kleure.

Die pryse van die nuwe Picanto verskil nie veel van dié van die vorige model nie; dit wissel van R 134 995 vir die 1,0 Start tot R 195 995 vir die 1,2 Smart. Daarby is ‘n sondak teen R 8 500 vir die Smart beskikbaar. Die prys sluit Kia se waarborg van vyf jaar, ongeag die kilometerafstand, in, asook padbystand van drie jaar ongeag die kilometerafstand terwyl ‘n diensplan teen ekstra koste beskikbaar is.

Pryse

Picanto 1.0 START Handrat                   R 134,995

Picanto 1.0 STREET Handrat                R 149,995

Picanto 1.0 STYLE Handrat                   R 159,995

Picanto 1.0 STYLE Auto                       R 172,995

Picanto 1.0 SMART Handrat                  R 179,995

Picanto 1.2 START Handrat                   R 150,995

Picanto 1.2 START Auto                        R 163,995

Picanto 1.2 STREET Handrat                 R 165,995

 Picanto 1.2 STYLE Handrat                   R 175,995

Picanto 1.2 STYLE Auto                         R 188,995

Picanto 1.2 SMART Handrat                    R 195,995