Daar is verskeie “motor-van-die-jaar” kompetisies. Almal word beoordeel volgens aspekte soos tegnologie, veiligheid, rygerief en waarde vir geld. As daar egter in Suid-Afrika gekyk moet word na watter motor is die topverkoper elke jaar, dan is die Volkswagen Polo die mense van die land se “motor-van-die-jaar. As Volkswagen SA dus aankondig dat hy die nuwe Polo bekendstel, dan sit die nasie regop en luister.

Sedert die vyfde geslag Polo se bekendstelling in 2010 was die VW Polo gereeld een van Suid-Afrika se topverkopers en dit moes daarom ‘n baie spesiale Polo wees om ons land se gunsteling motor te vervang en dit doen die nuwe Polo beslis met ‘n mandjievol waarde –toevoegings. Die nuwe Polo is groter, meer vaartbelyn en is toegerus met van die beste tegnologiese nutmiddels beskikbaar in die motorbedryf.

Die goeie nuus is dat die vyfde geslag Polo sal voortleef as die nuwe Polo Vivo.

Die nuwe sesde geslag Polo is aansienlik groter as sy voorganger en bied meer ruimte vir insittendes en bagasie. Die nuwe Polo se bagasierium met die agtersitplek regop is byvoorbeeld 350 liter groot terwyl die vorige Polo s’n 280 liter was.

Die nuwe  Polo is die eerste Polo wat op die MQB-platform gebaseer is. VW se idee om onder andere koste te bepaar is dat sy voorwiel-aangedrewe motors wat groter as die VW UP is hierdie platform moet deel. Dit sorg vir ‘n langer asafstand, kort oorhange en langer en breër bakwerk met verhoogde kopruimte al is hy laer as sy voorganger. Dit gee die Polo ‘n heeltemal nuwe voorkoms.

Benewens drie standaard-spesifikasievlakke, die Trendline, Comfortline en Highline, is twee ander opsies ook beskikbaar. Die Beats-pakket bevat ‘n klankstelsel van 300 watt en die R-Line het ‘n meer sportiewe voorkoms wat ‘n agterste drukvlerk, ‘n drukvlerk op die dak, 17-duim Bonneville-allooiwiele en ‘n agterste luguitlaat insluit. In die tweede kwartaal van die jaar sal die top-verrigtingsmodel, die GTI, by die reeks gevoeg word . Die R-Line-pakket sal terselfdertyd op die mark kom.

Die Polo stel nuwe standaarde in sy klas wat veiligheid betref en verskeie toonaangewende kenmerke is standaardtoerusting of opsioneel beskikbaar. Die Polo is die eerste motor in sy klas wat beskikbaar is met ‘n blindekolmonitor met liggies aan die buitekant van die buitespieëls wat die bestuurder waarsku as daar ‘n voertuig in sy blinde kol is. Dit maak dat die bestuurder nie  roekeloos van baan kan verander op die oop pad nie. Diegene wat die bindekolmonitor bestel, kry ook ‘n stelsel wat die bestuurder waarsku as daar ‘n voertuig of ‘n ander hindernis agter die motor is. Dit waarsku die bestuurder ook teen hindernisse wat vir die blote oog onsigbaar is. As die bestuurder nie dadelik optree nie of daar ‘n moontlikheid van ‘n botsing is, sal die motor se remstelsel dadelik ingryp.

Die hele reeks, behalwe die Trendline, het ‘n stelsel wat die bestuurder waarsku as dit tyd is om te rus.  Die bestuurder word op ‘n hoorbare en sigbare manier gewaarsku as dit blyk dat hy of sy moeg is, en as die bestuurder nie binne vyftien minute reageer nie, word die waarskuwing herhaal.

Een van die Highline se uitstaande kenmerke is ‘n stelsel wat die bestuurdersprofiel kan verstel. Daar is vier profiele om van te kies; Eco, Sport, Normal en Individual. Wanneer die Eco-modus gekies word, word die lugversorger en ander soortgelyke items gereguleer om maksimum brandfstofdoeltreffendheid te verseker. Wanneer die Eco-modus in ‘n motor met ‘n DSG-raktas gekies word, is daar ‘n funksie wat die bestuurder in staat stel om die enjin teen afdraandes te laat luier. In Sport-modus word die ratwisseling en reaksie van die versneller aangepas vir ‘n meer dinamiese bestuurservaring.

Die parkeerhulpstelsel stel die bestuurder in staat om makliker parallel te parkeer en uit parallel-poarkeerareas agteruit te ry.  Die bestuurder hoef net met behulp van rigtingwysers die kant aan te dui wat hy of sy wil parkeer en daar is ultrasoniese sensors wat  bepaal of die parkeerplek groot genoeg is. Die bestuurder hoef net trurat te skakel en daarna te rem en te versnel soos wat dit nodig is. Die motor doen self die stuurwerk.

Daar is ook ‘n monitor wat die ABS-stelsel se spoedsensors gebruik om vas te stel wanneer een van die motor se bande druk verloor.  Dit waarsku die bestuurder as die banddruk verminder maar dit vrywaar hom of haar nie van die verantwoordelikheid om die motor se banddruk gereeld na te gaan nie.

Al die modelle in die reeks behalwe die Trendline is opsioneel beskikbaar met die nuwe geslag van Volkswagen se Active Info Display. Dit herinner aan ‘n vliegtuig se stuurkajuit en daar is drie vertoonopsies waaruit die bestuurder kan kies. Die spoedmeter en toereteller lyk net soos analooginstrumente mar ander inligting word digitaal vertoon.  Die Composition Colour-inligting-en-vermaakstelsel met ‘n skerm van 6,5 duim en sal aanklank vind by gebruikers van slimfone en tablette. Die stelsel bevat ‘n sok vir ‘n SD-kaart waardeur musiek gespeel kan word en afhangende van die model, is daar vier of ses luidsprekers. Die Highline word toegerus met die Composition Media-stelsel, met ‘n groter skerm en agt knoppies. Die strelsel bevat Bluetooth-verbinding en ‘n Apple-versoenbare USB-sok. Die stelsel kan ook CD’s speel. Daarby bevat hierdie stelsel ook satellietnavigasie. Sodra Apple Car Play en Android Auto in Suid-Afrika beskikbaar wees, sal die Polo gereed wees daarvoor.

Die Trendline word met die volgende standaardkenmerke toegerus: staalwiele van 14 duim met wieldoppe, voorste en agterste gordynlugsakke, elektriese vensters voor, LED-dagryligte en die Composition Colour-inligting-en-vermaakstelsel,

Die Comfortline voeg die volgende kenmerke by: een van twee tipes allooiwiele, albei 15 duim, ses luidsprekers, die Driver Alert-stelsel, elektriese vensters agter, en ‘n veelfunksiestuurwiel wat met leer oorgetrek is. Onder die Highline se bykomende kenmerke is die Composition Media-inligitng-en-vermaakstelsel, sportsitplekke, stembeheer en aanpasbare spoedbeheer.

Daar is twee weergawes van Volkswagen se 1,0 TSI-enjin vir die Polo beskikbaar. Die Trendline en Comfortline se enjin lewer 70 kW teen 5 000 opm en wringkrag van 175 Nm teen 2 000 opm.  Dié enjin is beskikbaar met ‘n vyfgang-handratkas en ‘n DSG-ratkas met sewe gange. Die topsnelheid van modelle met hierdie enjin is 187 km/u en versnelling van 0 tot 100 km/u geskied in 10,8 sekondes.  Die DSG-ratkas is net vir die Comfortline beskikbaar. Die brandstofverbruik van die handratmodelle is gemiddeld 4,5 liter per 100 km.. Vir die DSG is dit  4,7 liter per 100 km. Die Highline word toegerus met ‘n kragtiger weergawe van hierdie enjin, wat 85 kW teen 5 000 opm krag lewer en ‘n wringkrag van 200 Nm teen 2 000 opm lewer.

Die nuwe Polo sal in tien kleure beskikbaar wees; ‘n nuwigheid aan die binnekant is die keuse om die paneelbord te kry met dekoratiewe afwerking in ‘n keuse van drie kleure, naamlik rooi, grys en blou.

Die pryse van die verskillende modelle, wat BTW asook besoedelingsbelasting insluit, is soos volg:
1,0 TSI Trendline: R 235 900
1,0 TSI Comfortline: R 264 700
1,0 TSI Comfortline DSG: R 280 700
1,0 TSI Highline: R 286 200
1,0 TSI Highline: R 302 200

Die hele reeks word deur ‘n waarborg van drie jaar of 120 000 km gerugsteun, ‘n waarborg teen korrosie van 12 jaar en ‘n diensplan van drie jaar of 45 000 km. Dienstussenposes is elke 15 000 km.

 

Lees hier meer oor die nuwe Polo Vivo.

 

 

 

 

 

%d bloggers like this: