2020 se nuwe motors

0 Comments

Die einde van 2019 is naby, en daarom het dit tyd geword om te bespiegel oor watter nuwe motors in 2020 in Suid-Afrika bekendgestel gaan word. MotorPlus is bewus van ‘n paar nuwelinge, maar daar is ook een of twee waarvan ons nog nie seker is nie en daar is altyd die moontlikheid dat sommige vervaardigers ons kan verras. Wat wel interessant is met al die nuwe modelle wat in 2020 in Suid-Afrika geloods gaan word, is dat die sportnuts-voertuie al hoe meer sportiewer word. Hier is ‘n voorskou volgens MotorPlus se Daantjie Badenhorst van wat Suid-Afrikaanse motoriste in 2020 kan verwag: Vervaardigers in alfabetiese volgorde)

 

ALFA ROMEO

Die konsep model van Alfa Romeo se klein sportnuts-voertuig, die Tonale, is onlangs vertoon en die moontlikheid bestaan dat die produksie model in 2020 oorsee bekendgestel sal word. 

 

ASTON MARTIN

Hierdie Britse vervaardiger sal aanstaande jaar sy toetrede tot die sportnutsvoertuig-marksegment maak, wanneer die DBX bekendgestel word, maar dis te vroeg om te sê wanneer hy na Suid-Afrika sal kom.

 

AUDI

Audi RS3 Sportback.

Na ‘n uiters besige 2019 is Audi glad nie van plan om stil te sit nie. Die A4 kry groot veranderinge en die Q3-reeks sal uitgebrei word met die byvoeging van die Sportback en die RSQ 3. Die nuwe A6 behoort ook in 2020 op die mark te kom. Die hoogtepunt van die jaar sal egter die bekendstelling van Audi se eerste elektriese motor, die e-Tron, wees.

 

BAIC

Die D 20 en X 25 word in BAIC se aanleg in Port Elizabeth vervaardig en vroeg in 2020 word die reeks uitgebrei wanneer die B 40 Plus, ‘n verldryer met ‘n laetstrek-ratkas, op die mark kom. Suid-Afrika is die eerste regterhand-stuurmark waarin hierdie reeks bekendgestel word.

 

BENTLEY

Die enigste nuwe model wat van Bentley af verwag kan word in 2020 is die Flying Spur, wat pas oorsee bekendgestel is.

 

BMW

Die 2020 BMW X6

Nog ‘n vervaardiger wat een besige jaar met nog een opvolg, is BMW. In 2019 is die nuwe X5, 1-reeks, 3-reeks, 8-reeks en Z4 bekendgestel. Vir 2020 word die nuwe X6, asook die heel eerste 2-reeks Gran Coupé en die 8-reeks Gran Coupé beplan. Die konsep van die nuwe 4-reeks is ook reeds vertoon maar dit is nog nie seker wanneer die produksie model bekendgestel word nie.

 

CITROëN

Na ‘n afwesigheid van drie jaar is Citroën terug in Suid-Afrika. Vroeër het die DS-modelle soos die DS 3, DS4 en DS 5 die Citroën-kenteken gedra, maar DS is nou ‘n afsonderlike filiaal. Hoewel nog geen besonderhede bekendgemaak is nie, is dit moontlik dat die nuwe DS-modelle na Suid-Afrika kan kom.

 

DATSUN

Gerugte doen die ronde dat Nissan van plan is om die Datsun-handelsmerk aan die mark te onntrek. MotorPlus sal die verwikkelinge dophou, want ons het verneem dat die Datsun Go en Go+  in 2020 met CVT-ratkaste beskikbaar sou wees.

 

FIAT

Ons het nog glad nie verneem wat Fiat se planne vir die nuwe jaar is nie, maar dalk sal die Fullback-reeks veranderinge ondergaan terwyl die 500 X ook opgeknap behoort te word.

 

FORD

Die 2020 Ford Kuga is meer vaartbelyn as sy voorganger.

Die nuwe Kuga is in 2019 oorsee bekendgestel en behoort in 2020 hier op die mark te kom.  Die res van Ford se reeks behoort onveranderd te bly.

 

GWM

Die nuwe P-reeks bakkies is onlangs oorsee vertoon en behoort laat in 2020 hier beskikbaar te wees.

 

HAVAL

Die opgeknapte H2 is by SA Festival of Motoring vertoon en sal vroeg in 2020 hier wees. Later in die jaar word die nuwe H6 , F7 en dalk ‘n nuwe H1 ook verwag.

 

HONDA

Die jongste Jazz is pas oorsee bekendgestel, maar dis dalk te vroeg om hom reesds in 2020 hier te verwag.

 

HYUNDAI

Na die suksesvolle internasionale bekendstelling van die sportiewe Hyundai i30 N is dit goeie nuus om te hoor dat hierdie hoë verrigting motor alreeds einde van Januarie in 2020 in Suid-Afrika geloods gaan word. Dit is toegerus met ‘n 2 liter-enjin wat ‘n kraglewering van 202 kW het en ‘n wringkrag vir 353 Nm. Hierdie motor sal net deur 15 uitgesoekte Hyundai-handelaars verkoop word en Hyundai Suid-Afrika verwag om ongeveer 50 eenhede per jaar in Suid-Afrika te verkoop.  Die Accent en die Elantra is reeds oorsee met nuwe modelle vervang, maar daar is nog geen nuus oor of, en indien wel wanneer, die nuwe weergawes na Suid-Afrika sal kom nie. Die nuwe Tucson is ook besig om toetse te ondergaan, maar dis nie seker wanneer hy bekendgestel sal word nie. Daar behoort ook ‘n nuwe Creta op die mark te kom. Die Hyundai Venue sal nou enige tyd, selfs dalk nog vóór 2020 geloods word.

 

 

 

ISUZU

Isuzu se DMax wat Suid-Afrika in 2020 voor kan uitsien.

 

Een van die bakkies waarna baie mense uitsien, is die nuwe Isuzu D-Max, wat eers later in 2020 bekendgestel sal word. Dit is egter te vroeg om oor die samestelling van die modelreeks te bespiegel.

 

JAGUAR

Die i-Pace was Jaguar se eerste elektriese motor, maar gerugte doen die ronde dat die nuwe XJ ten volle elektries sal wees.

 

JEEP

Die nuwe Wrangler is onlangs bekendgestel, maar verdere enjinkeuses, naamlik ‘n tweeliter-turbopetrol en ‘n turbodiesel, word vir Suid-Afrika oorweeg.

 

KIA

Die Kia Seltos.

 

Die Seltos sal sommer binnekort bekendgestel word en voornemende kopers kan reeds registreer om inligting te kry. Die Seltos is die Kia weergawe van Hyundai se Creta. Die Cerato is gedurende 2019 stilweg aan die mark onttrek en daarom is dit te betwyfel of die nuwe een hier op die mark kom.

 

LAMBORGHINI

Die eerste Lamborghini-sportnutsvoertuig, die Urus, is in 2019 bekendgestel, maar dis te vroeg om te sê of dié Italiaanse vervaardiger ‘n nuwe model vir 2020 beplan.

 

LAND ROVER

Die nuwe Land Rover Defender.

Die een voertuig waarna omtrent almal uitsien, gaan ook in 2020 bekendgestel word. Die nuwe geslag Land Rover Defender sal van die begin af in verskeie bakvorms en afwerkingsvlakke beskikbaar wees. MotorPlus het alreeds inligting oor die nuwe Defender gepubliseer. Lees hier meer.

 

LEXUS

Die UX en LS is in 2019 bekendgestel, maar dis nog nie seker of enige nuwe modelle vir 2020 beplan word nie.

 

MAHINDRA

Die hoogtepunt van Mahindra se jaar was die bekendstelling van die XUV 300. Die suksesvolle Pik-Up-reeks gaan blykbaar uitgebrei word met die bekendstelling van ‘n model met ‘n outomatiese ratkas en die Scorpio S 11 gaan met die Pik-Up se 103 kW-enjin toegerus word.

 

MAZDA

Mazda se CX-30.

Nadat die nuwe Mazda3 in 2019 bekendgestel is, is die volgende nuwe model op dié Japanse vervaardiger se program die CX-30, ‘n sportnutsvoertuig wat tussen die CX-3 en CX-5 sal val. Wat die BT 50 bakkie betref, is dit nog nie seker wanneer die nuwe model, wat in samewerking met Isuzu ontwikkel word, bekendgestel word nie.

 

MERCEDES-BENZ

Die Mercedes-Benz GLB.

Na ‘n bedrywige 2019 beplan Mercedes-Benz nog ‘n paar nuwe modelle vir 2020, onder meer die nuwe GLA en die GLB. Daarby kan AMG-weergawes van die opgeknapte GLC, asook van die CLA, verwag word.

 

MINI

In 2019 het MINI sy sestigste verjaardag gevier, maar sover ons weet, word geen nuwe modelle vir 2020 verwag nie. Die elektriese MINI Cooper SE sal eers in 2021 op die mark kom.

 

MITSUBISHI

Die Eclipse Cross-reeks gaan in 2020 met die bekendstelling van ‘n model met ‘n turbo-aangejaagde 1,5 liter-enjin uitgebrei word.

 

NISSAN

Die Navara sal van 2020 in Nissan se aanleg in Rosslyn vervaardig word, en die reeks gaan aansienlik opgeknap en uitgebrei word. Die Terra, die sportnutsvoertuig wat op die Navara gebaseer is, word ook verwag. Die Juke is reeds aan die mark onttrek en die Kicks behoort hom te vervang. Die moontlikheid bestaan ook dat die NP 200 opgeknap gaan word. Dit is egter nog onseker wat die toekoms vir die Almera inhou; sy plaasvervanger is reeds oorsee bekendgestel.

 

OPEL

Die Zafira Life, ‘n nege-sitplek minibus, word vroeg in die jaar verwag, en indien die nuwe Corsa betyds bekendgestel word, behoort hy Suid-Afrika in 2020 te bereik.

 

PEUGEOT

Peugeot se 208 vir 2020. Ooo lala.

Twee nuwe Peugeot-modelle sal in 2020 in Suid-Afrika bekendgestel word, naamlik die nuwe 208, wat ook in ‘n elektriese model beskikbaar behoort te wees, en die 2008.

 

PORSCHE

Die eerste elektriese Porsche, die Taycan, word deur die loop van 2020 verwag. 

 

RENAULT

Die Renault Triber.

Minstens vier nuwe Renault-modelreekse word in 2020 verwag, naamlik die opgeknapte Kwid en die nuwe geslag Clio en Captur.  Die Triber, ‘n sewesitplek-veeldoelvoertuig op die Kwid se onderstel, sal ook bekendgestel word.

 

SUBARU

Dit is nog te vroeg om te bespiegel oor watter nuwe modelle Subaru in 2020 op die mark sal bring, miskien sal die Forester-reeks uitgebrei word.

 

SUZUKI

Die meeste Suzuki-modelreekse is in 2019 opgeknap of uitgebrei , met die bekendstelling van die turbo-aangejaagde Vitara, die opgeknapte Baleno en Ciaz en GLX-weergawes van die Swift en Ertiga. Die reeks behoort onveranderd te bly vir 2020.

 

TOYOTA

Die nuwe Corolla-luikrug is in 2019 bekendgestel en die nuwe sedan sal in 2020 volg. Volgens gerugte sal dit beteken dat die huidige Corolla-sedan die Quest-kenteken sal kry. 

 

VOLKSWAGEN

 

Die Volkswagen Golf 8 is heelvoor. Agter is die vorige 7 geslagte Golfs.

 

Die nuwe Golf 8 is onlangs internasionaal bekendgestel en die GTI sal die eerste model wees wat in Suid-Afrika beskikbaar sal wees.  Die R sal ook deel van die reeks wees. Die goedkoper modelle word later verwag, asook die T-Roc, ‘n sportnutsvoertuig so groot soos die Golf.   Die T-Cross-reeks sal uitgebrei word.

 

VOLVO

Die nuwe S 60 is al ‘n tyd lank oorsee bekendgestel, maar daar is nog geen aankondiging gedoen oor sy moontlike Suid-Afrikaanse bekendstelling nie.


 

Natuurlik kan hierdie lys nie volledig wees nie, en ons sien uit daarna om te sien met watter verrassings sommige vervaardigers vorendag gaan kom.

Categories:
%d bloggers like this: