Breaking News

2022 se nuwe motors

Hoewel 2021 nog steeds ‘n jar was wat deur die COVID 19-pandemie ontwrig is, het die ekonomie tot so ‘n mate herstel dat die verkope van nuwe motors weer begin toeneem het te midde van ‘n bekostigbaarheidskrisis. Verskeie nuwe modelle, waaronder ‘n paar wat algehele verrassings was, is deur die loop van die jaar bekendgestel en ‘n paar nuwe modelle het gou byval by die publiek gevind. Hopelik sal die ekonomie in 2022 nog verder verbeter en sal alles, waar moontlik, na normal terugkeer. Hier, in alfabetiese volgorde volgens fabrikaat, is die nuwe modelle wat reeds vir bekendstelling in 2022 bevestig is, of wat ons dalk op die plaaslike mark kan verwag:

Alfa Romeo

Alfa Romeo belowe lank al ‘n sportnuts kleiner as die Stelvio en sy bekendstelling is al meer as een keer uitgestel. Ons glo egter dat die tyd nou aangebreek het, aangesien Alfa Romeo van plan is om verskeie nuwe modelle tussen 2022 en 2026 op die mark te bring.

Audi 

eTron

Die bekendstelling van Audi se eTron-reeks vroeg in 2022 is reeds bevestig; daar sal drie modelle wees, naamlik ‘n sportnuts en twee Sportbacks. Daar is egter nog onsekerheid oor die toekoms van die A1.

BAIC

Ons het nog geen inligting oor hierdie Chinese vervaardiger se planne vir 2022 ontrvang nie, maar die B 40 Plus is pas bekendgestel en die maatskappy sal sekerelik sy handelaarsnetwerk verder uitbrei en verseker dat hierdie nuweling hom in die mark vestig. Die D 20 en X 25 is al vier jaar lank onveranderd op die mark, en ‘n mens wonder of daar nie dalk detailveranderinge op pad is nie. 

BMW

2-reeks koepee

i4

BMW sal sy elektriese reeks uitbrei met die bekendstelling van die i4.. Die nuwe 2-reeks koepee sal ook op die mark kom, maar ons is byna seker dat ons nooit weer die 2-reeks Active Tourer hier sal sien nie, al is die nuwe geslag pas oorsee bekendgestel.

Chery

Tiggo 7 Pro

Tiggo 8 Pro

Chery het pas sy hertoetrede tot die Suid-Afrikaanse mark aangekondig, en die reeks sal in 2022 uitgebei word met die bekendstelling van die Tiggo 7 Pro teen omtrent die middel van 2022 en die Tiggo 8 Pro vroeg in die jaar.

Citroën

Die C3 en C3 Aircross het in 2021 detailveranderinge ondergaan, en ons is nie seker of daar enige nuwe modelle op pad is nie. Miskien sal ‘n opgeknapte C 5 Aircross op die mark kom. Ons het ook nog niks gehoor van die moontlike bekendstelling van die DS-reeks nie.

Datsun

Sedert die opgeknapte Go en Go+ in Suid-Afrika bekendgestel is, het ons nog niks weer gehoor nie, en daar was selfs gerugte dat Nissan die Datsun-naam aan die mark sou onttrek. 

Ferrari

296 GTB

Ferrari se nuwe intreemodel, die 296 GTB, is in 2021 oorsee bekendgestel en behoort in 2022 ook hier op die mark te kom.

Fiat

500 Hybrid

Die pas opgeknapte 500-reeks sal uitgebrei word met die toevoeging van ‘n hibriede-model.

Ford

Ranger

Everest

Tourneo Connect

Fiesta

Een van die mees opwindende nuwe modelle wat in 2022 verwag word, is die nuwe Ford Ranger, met die nuwe Everest wat sekerlik kort daarna sal volg. Die nuwe Tourneo Connect, gebaseer op die Volkswagen Caddy, is nog nie vir Suid-Arika bevestig nie, maar miskien sal hy ook vir Suid-Afrika oorweeg word. Die opgeknapte Fiesta behoort ook sy verskyning te maak, maar Ford se besluit om op te hou om motors in Indië te vervaardig, voorspel niks goeds vir die toekoms van die Eco Sport en die Figo nie.

Haval

B 06

Een van die verrassings van 2021 was die bekendstelling van die Haval Jolion. Daar word bespiegel dat ‘n plaasvervanger vir die H1 op pad is, terwyl die B 06 (Big Dog) ook 2022 bekendgestel behoort te word.

Honda

BR-V

HR-V

Amaze

Honda sal na verwagting die nuwe geslagte van die H-RV en B-RV in 2022 in Suid-Afrika bekendstel, terwyl die Amaza opgeknap sal word. Hoewel ‘n nuwe Civic reeds oorsee beskikbaar is, is daar nog geen nuus oor sy Suid-Afrikaanse bekendstelling nie.

Hyundai

Tuscon

Casper 

I30 N 

Venue

Creta

Die nuwe Tucson sal die hoogtepunt van Hyundai se program vir 2022 wees, maar drie modelreekse sal na verwagting opgeknap word, naamlik die I 30 N, die Venue en die Creta. Hyundai se nuwe intreevlak-sportnuts, die Casper, is nog nie vir Suid-Afrika bevestig nie.

Ineos

Grenadier

Een van die mees omstrede nuwe voertuie wat in 2021 oorsee bekendgestel is, was die Ineos Grenadier, wat in Julie 2022 hier verwag word. Daar sal blykbaar vier handelaars in die hoifsentra wees, asook handelaars in Suid-Afrika en sekere buurlande waar die voertuig versien kan word. Verdere besonderhede sal eers later bekendgemaak word, maar sy voorlopige prys is ongeveer R 1,4 miljoen.

Isuzu

D-Max

Die nuwe D-Max sal eindelik in Suid-Afrika vervaardig word, en beloof om ‘n baie groot verbetering op sy voorganger te wees. Soos in die geval van die huidige reeks, sal die nuwe model in Suid-Afrika vervaardig word.

JAC

T9

Met die amptelike bekendstelling van die T8 wat nog moet plaasvind, is JAC ook van plan om ‘n vlagskip-dubbelkajuit, bekend as die T9, by die reeks te voeg. Die handelaarsnetwerk sal na verwagting verder uitgebrei word.

Jaguar

XJ

Ons het nog nie gehoor of Jaguar se reeks enigsins verander of vernuwe gaan word nie, maar daar word bespiegel dat die nuwe elektriese XJ dalk in 2022 op die mark sal kom.

Jeep

Compass

Grand Cherokee

Grand Wagoneer

Gladiator

Jeep behoort ‘n besige jaar te hê, met die nuwe Grand Cherokee, met vyf en sewe sitplekke, wat reeds bevestig is. Die langverwagte Gladiator-bakkie behoort  verskyning te maak, terwyl ‘n nuwe Compass blykbaar op pad is. Die vlagskip van die reeks, die Grand Wagoneer, word ook in 2022 verwag.

Kia

Sorento

Carnival

Sportage

Kia is nog ‘n vervaardiger met ‘n besige program. Die nuwe Sportage is reeds bevestig, en die nuwe Sorento en Carnival behoort vroeg in die jaar hul verskyning gemaak. Die Sonet-reeks sal uitgebrei word met die toevoeging van ‘n turboaangejaagde model.

Land Rover

Range Rover

Die nuwe Range Rover is pas oorsee bekendgestel en word teen die middel van die jaar hier verwag.

Lexus

NX

LX

Die eerste twee nuwegeslag-modelle van Lexus sal in 2022 in Suid-Afrika bekendgestel word. Die nuwe NX word vroeg in 2022 verwag, gevolg deur die nuwe LX in die middel van die jaar.

Mahindra

Thar

Scorpio

XUV 700

Die nuwe Mahindra Thar is nog nie hier bekendgestel nie, maar word vroeg in 2022 hier verwag. Die nuwe Scorpio en XUV 700 sal ook  op die mark kom, terwyl Mahindra se kenteken blykbaar sal verander.

Mazda

Nuwe sportnutse?

Volgens berigte beplan Mazda ‘n reeks nuwe sportnutsvoertuie wat binne die volgende paar jaar op die mark sal kom, maar geen verdere besonderhede is beskikbaar nie behalwe dat die CX-5 dalk in ‘n hoër marksegment sal meeding. Die toekoms van die CX-3 is blykbaar in die gedrang.

Mercedes-Benz

EQ-reeks

SL

C/E-koepee

Mercedes-Benz het ‘n besige program wat voorlê, want die elektriese EQ-reeks sal bekendgestel word. Dit is egter nog nie seker watter modelle wanneer op die mark sal kom nie. Die koepee-weergawes van die C-klas en E-klas sal na verwagting deur een modelreeks verang word terwyl die nuwe SL gedurende die jaar hier verwag word.

Mitsubishi

Outlander

Xpander Cross

Die nuwe Outlander is onlangs oorsee bekendgestel en sal na verwagting in 2022 na Suid-Afrika kom. Die Xpander-reeks sal uitgebrei word met die toevoeging van die Xpander Cross, met ‘n verbeterde grondvryhoogte. 

Nissan

Qashqai

X-Trail

Terra

400 Z

Hoewel Nissan twee nuwe modelle in 2021 op die mark gebring het, word minstens vier in 2022 verwag. Die Qashqai en X-Trail sal deur nuwe modelle vervang word, en die langverwagte Terea, ‘n spornuts gebaseer op die Navara, sal sy verskyning maak. Die nuweling waarna motorgeesdriftiges egter die meeste uitsien, is die splinternuwe 400 Z.

Opel

Zafira Life

Grandland X

Die beloofde bekendstelling van die Zafira Life het nog nie plaasgevind nie, ,maar hierdie model behoort in 2022 hier op die mark te kom. Die Grandland X sal opgeknap word.

Peugeot

Hierdie Franse vervaardiger het sy hele reeks, behalwe die 108, opgeknap of vervang, terwyl die Landtrek-bakkie sy verskyning gemaak het. Ons het nog nie gehoor wat om van Peugeot te verwag nie, maar blykbaar sal die 108 aan die mark onttrek word.

Renault

Captur

Clio

Duster

Die bekendstelling van die Clio en Captur is uitgestel, veral as gevolg van hul pryse wat dalk te hoog sal wees, maar dit sal blykbaar in 2022 plaasvind. Die Duster sal na verwagting weer opgeknap word.

Subaru

WRX

Die nuwe WRX is reeds vir Suid-Afrika bevestig, en ‘n mens wonder of Subaru die waagmoed sal hê om die WRX Sportwagon hier bekend te stel.

Suzuki

Celerio

Jimny 

A-Cross

Die nuwe Celerio word na verwagting in 2022 oorsee bekendgestel en behoort daarna ook na Suid-Afrika te kom. Daar is sprake dat die Jimny-reeks uitgebrei sal word met die toevoeging van ‘n vyfdeurmodel. Hoewel daar nog niks bevestig is nie, bestaan die moontlikheid dat die samewerkingsooreenkoms tussen Toyota en Suzuki sal lei tot die bekendstelling van die RAV4-gebaseerde A-Cross.

Toyota

GR 86

Toyota het ‘n besige  2021 gehad, maar die enigste nuweling wat vir 2022 bevestig is, is die GR 86. Miskien sal die samewerkingsooreenkoms tussen Toyota en Suzuki vir nog ‘n paar verrassings sorg.

Volkswagen

Taos

Amarok

Polo

Tiguan Allspace

ID3/ID 4

Volkswagen sal na verwagting ‘n spul nuwe modelle hier bekendstel. Die belangrikste twee is die Polo, wat groot veranderinge sal ondergaan, en die nuwe Ford Ranger-gebaseerde Amarok. Die Tiguan Allspace behoort dieselfde veranderinge as die vyfsitplekmodel te ondergaan terwyl die Taos, blykbaar ‘n koepee-weergawe van die T-Cross, ook hier verwag word. Laastens behoort die elektriese ID 3 en ID 4 eindelik hier bekendgestel te word.

Volvo

C 40 Recharge

Die elektriese Volvo-reeks sal uitgebrei word met die toevoeging van die C 40 Recharge.

Natuurlik kan hierdie lys nie volledig wees nie, want daar is sekere vervaardigers wie se planne nog nie bekend is nie en daar sal sekerlik ‘n verrassing of twee wees. Daar is dalk ook ‘n paar voorspellings wat nie bewaarheid sal word nie. Dit gee voornemende kopers egter ‘n idee van wat om in die nuwe jaar te verwag.

%d bloggers like this: