Motorsportverslag 22 September

Deur Neels Rabe.

 

Formule 1: Ferrari 1ste en 2de.

In Singapoer op Sondag 22 September, is dit Sebastian Vettel wat vir die eerste keer in meer as ‘n jaar uiteindelik ‘n wedren wen. Dit kom egter ten koste van spanmaat Charles Leclerc wat nie net voor gekwalifiseer het nie, maar ook die wedren vanuit die eerste posisie beheer het. Ferrari se besluit om Vettel eerste te laat stop vir bande, en sy vinniger spoed daarna op die nuwe band, veroorsaak dat hy Leclerc verbysteek terwyl laasgenoemde uit die kuipe kom na sy eie stop. Dit lei tot groot frustrasie vir die arme Leclerc wat op pad was om sy derde agtereenvolgende oorwinning te behaal. Derde is Red Bull se Max Verstappen, met die Mercedes van Lewis Hamilton vierde.

 

Moto2 GP: Binder oorheers op Aragon

Binder in aksie in Spanje.

Suid-Afrika se Brad Binder behaal sy tweede oorwinning van die seisoen toe hy die Aragon Moto2 Grand Prix in Spanje op 22 September oorheers op sy KTM.

Brad Binder.

Hy slaag daarin om kampioenskapvoorloper Alex Marquez  in die eerste draai verby te steek. Niemand kon daarin slaag om weer naby Brad te kom nie. Waar Binder slegs die Moto2 wedren oorheers het, is dit Alex Marquez se broer, Marc Marquez, wat die hele MotoGP-naweek oorheers. Hy wen sy agste wedren van die seisoen. Daardeur kruip sy sesde MotoGP- en agste wêreldtitel al hoe nader! Ducati se Andrea Dovizioso eindig tweede nadat hy slegs tiende kon kwalifiseer. Die Australiër Jack Miller eindig vir die derde keer hierdie jaar derde op sy Pramac Ducati.

 

 

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

%d bloggers like this: