Breaking News

Tien (ongewone) gebruikte motors vir minder as R 150 000

Die COVID 19-pandemie het ‘n nadelige invloed op die meeste mense se besteebare inkomste gehad, en baie mense kan nie meer bekostig om nuwe motors te koop nie. Daar is veral ‘n toename in die vraag na bekostigbare gebruikte motors, veral teen minder as R150 000. Die meeste mense wat motors in hierdie pryskategorie koop, oorweeg gewoonlik intreevlak modelle wat dalk te klein vir ‘n gesin is, of andersins kyk hulle na modelle van die gewildste vervaardigers, wat soms beteken dat hulle met ouers motors, of motors met ‘n hoë kilometer afstand tevrede moet wees. Hier, in alfabetiese volgorde, is tien motors in daardie prysklas waaraan die meeste mense nie dink nie, maar wat dalk die ondersoek werd kan wees.

 

Alfa Romeo GT 3,2 V6

Vir die meeste mense is ‘n Alfa Romeo ‘n baie groot risiko, en daar sal altyd diegene wees wat voornemende kopers sal herinner aan die noukeurige onderhoud wat hierdie motors benodig, asook die gebrek aan gehalte-beheer van die laaste plaaslik vervaardigde modelle en die feit dat baie van hulle slagoffers van roes was. Die GT was egter ‘n besonder mooi motor met ‘n ruim kajuit en ‘n groot bagasiebak, veral vir ‘n koepee, en die enjin klank van die 3,2 klink byna soos musiek. Ons het ‘n 2006-model wat 104 000 km afgelê het, vir R115 000 in Kwa Zulu Natal raakgeloop. Die GT is nie juis volop nie; dit maak van hom ‘n versamelaarsitem vir die Alfa Romeo-geesdrifige.

Chevrolet Captiva 2,0 D LTZ

General Motors se onttrekking aan die Suid-Afrikaanse mark aan die einde van 2017 was vir die meeste mense ‘n enorme skok,ongelukkig het dit ‘n nadelige invloed op die herverkoopwaarde van die Chevrolet-reeks gehad. Een van die gewildste modelle terwyl die Chevrolet-reeks nog in Suid-Afrika beskikbaar was, was die Captiva, wat in ‘n 2,4 liter petrol enjin met vier silinders, ‘n 3,2 liter V6-petrolenjin en ‘n turbo-diesel enjin van twee liter beskikbaar was. Die meeste mense het die stilering van die oorspronklike model verkies, soos die 2010-model 2,0 D LTZ met 122 000 km wat teen ‘n prys van R129 990 verkoop word.

Chrysler 300 C SRT 8

Sommige geesdriftiges verkies die brute krag van ‘n V8-enjin, en voor die bekendstelling van die Ford Mustang in Suid-Afrika het Suid-Afrikaanse motoriste weining sulke motors gehad om van te kies. Een daarvan was die Chrysler 300 C, wat met ‘n V6 petrol-of diesel enjin of een van twee V8’s beskikbaar was. Die vlagskip van die reeks was die SRT 8, toegerus met ‘n 6,4 liter V8-enjin wat ook vir die Jeep Grand Cherokee SRT 8 gebruik is. Daar is ‘n 2010-model met ‘n kilometer afstand vir R149 999 beskikbaar, maar as ‘n SRT 8 nie ‘n vereiste is nie, kan ‘n mens ‘n 5,7 V8 vir ‘’n bietjie minder oorweeg. Maak net seker jy begroot vir brandstof, want hierdie een drink soos ‘n vis.

Dodge Journey 2,7 V6 R/T

Nog ‘n moontlikheid uit die Chrysler-stal, wat nie meer in regterhandstuur beskikbaar is nie, is die Dodge Journey. Dit was die laaste model met die Dodge-naam wat in Suid-Afrika beskikbaar was, en sy gewildheid het al hoe meer afgeneem. Die Journey was beskikbaar met twee V6-enjins, naamlik ‘n 2,7- en ‘n 3,6-liter. Laasgenoemde is ook in die Jeep Grand Cherokee gebuik. Ons kan ‘n 2012 model 2,7 R/T met ‘n kilometer afstand van 107 000 km vir R149 500 in die hande kry; die Fiat Chrysler Automobiles-handelaars netwerk sal na hom kan omsien al is hy aan die plaaslike mark onttrek.

GWM H5 2,0 VGT Lux Auto 4×4

In 2007 was Great Wall Motors die eerste Chinese vervaardiger wat tot die Suid-Afrikaanse mark toegetree het. Sedertdien het ‘n aantal Chinese vervaardigers gekom en gegaan, maar GWM het nie net vasgebyt nie maar sy reeks produkte voortdurend verbeter en sy handelaars netwerk uitgebrei. Die koms van dié maatskappy se Haval-reeks het verder tot sy volgehoue sukses bygedra. Die H5 is baie goed deur die motorpers ontvang, en was beskikbaar met ‘n petrol enjin van 2,4 liter en ‘n twee-liter turbo-diesel enjin, wat nog nog in die GWM Steed-bakkies gebruik word. Met die koms van Haval is die diesel modelle egter aan die mark onttrek en sedertdien is produksie van die oorblywende petrolmodel ook gestaak. Daar is ‘n 2015 H5 2,0 VGT Luxury 4×4 met ‘n outomatiese ratkas en ‘n kilometer lesing van slegs 91 000 km in Pretoria beskikbaar. As ‘n leerraam-onderstel soos dié van ‘n bakkie vir jou ‘n vereiste is, is hierdie H5 ‘n uitstekende keuse, veral aangesien hy met onder meer Bluetooth-verbinding, ‘n trukamera en parkeersensors toegerus is. Daarby hoef GWM niks meer te doen om homself te bewys nie.

Hyundai Sonata 2,4 Executive

Met die toename in gewildheid van sportnuts voertuie het Suid-Afrikaanse motoriste belangstelling in groot sedans sonder prestige-kentekens verloor, met die gevolg dat die Hyndai Sonata nooit weer in Suid-Afrika beskikbaar sal wees nie. Dis ‘n jammerte, want die laaste Sonata wat hier bekendgestel is, was ‘n pragtige motor. Hy was volledig toegerus, en is aangedryf deur ‘n 2,4 liter vier-silinder enjin. Die laaste Sonata is ‘n uitstekende kopie en sommige van hulle is teen weggee-pryse beskikbaar, soos ‘n 2011-model met 142 000 km teen R139 995.

Jaguar X-Type 2,2 D SE Stasiewa

Hier is iets heeltemal anders. Die X-Type bied dieselfde soort prestige as ‘n Mercedes-Benz of BMW, maar volgens die “puriste”is daar twee dinge fout met hierdie motor: dis ‘n X-Type, wat op ‘n Ford Mondeo se onderstel gebou word, en dis ‘n stasiewa, ‘n bakvorm waarop Suid-Afrikaanse motoriste onregverdig neersien. Vir diegene wat eger wel bereid is om hierdie motor ‘n kans te gee, is hy dalk die moeite werd; hierdie een is ‘n 2006-model wat 105 000 km afgelê het.

Mitsubishi Outlander 2,4 GLS Outomaties

Die Outlander is seker een van die mees onderskatte sportnuts voertuie op die Suid-Afrikaanse mark maar die jongste weergawe is steeds hier beskikbaar. Die 2010-model was besonder aantreklik, en het dieselfde neus as die pragtige Lancer van dieselfde model-jaar gehad. Die enjin het homself as betroubaar en duursaam bewys al is hy dalk nie so lig op brandstof soos sommige mededingers nie. Ons het een in Brackenfell in Kaapstad raakgeloop; hierdie motor het 169 000 km afgelê en is beskikbaar teen R 139 999.

Nissan Navara 2,5 dCi 4×4 LE dubbel-kajuit

Nie alle bakkie-liefhebbers is noodwendig aanhangers van die Toyota Hilux, Isuzu KB of Ford Ranger nie. Die Nissan Navara kon nog altyd met sy vernaamste mededingers saamgesels maar hierdie drie het so ‘n houvas op die mark dat dit moeilik vir enige ander bakkie is om ‘n indruk te maak. Die Navara se werkverrigting en brandstof-verbruik is heeltemal mededingend en hy is toegerus met die meeste veiligheids en geriefs-kenmerke wat ‘n mens sou verwag. Hierdie een het ook vir voordeel van vierwiel-aandrywing vir dié wat dit dalk nodig het. Sy prys is R148 000 en hy het net 105 000 km afgelê.

Opel Zafira OPC

Baie mense het al met ‘n dilemma geworstel; hulle is geesdriftiges maar omstandighede dwing hulle om ruimte bo werkverrigting te kies. Hoe nou gemaak? Die Opel Zafira OPC was dalk die antwoord: hy was meganies presies dieselfde as die Astra en hy het dieselfde werkverrigting gelewer, maar daar was oorgenoeg plek vir ‘n gesin van vyf en al hul bagasie. Ongelukkig is daar nie baie van hulle verkoop nie, met die gevolg dat hulle skaars op die gebruikte mark is. Hierdie een, ‘n 2007-model wat in Jeffreysbaai in die Oos-Kaap teen R105 000 beskikbaar is, het 140 000 km afgelê.

VW Touran 1,6 Trendline

Die VW Touran was jare lank ‘n gewilde model in Suid-Afrika, en sommige eienaars ry al jare lank met hul motors omdat hulle dit met reg as onvervangbaar beskou. Die meeste modelle was met 1,9- of 2,0 TDI-enjins toegerus, maar daar was ook dié met die bekende 1,6 liter-enjin. Dit maak van dié Touran ‘n uitstekende keuse, veral vir dié met ‘n beperkte begroting vir wie lae onderhoudskostes van kritieke belang is. Vir diegene wat op soek is na ‘n voertuig wat jare se goeie diens kan lewer, groot genoeg is vir ‘n gesin en nie ‘n fortuin gaan kos om te onderhou nie, is hierdie 2008-model, wat teen R129 995 in Goodwood in Kaapstad beskikbaar is en 161 000 km afgelê het, beslis die ondersoek werd.

Al hierdie voertuie was teen die einde van Julie op Gumtree beskikbaar; sommige sal dalk reeds verkoop wees teen die tyd wat hierdie artikel geplaas word. Daarom kan die voertuie en pryse bloot as riglyne beskou word.

%d bloggers like this: