A6 nommer agt nou beskikbaar

0 Comments

Die agtste geslag van die A6 is nou in Suid-Afrika beskikbaar en soos te wagte is dié staatmaker in Audi se reeks meer gevorderd en veelsydiger as ooit tevore.

Die nuwe A6 volg Audi se huidige ontwerp-rigting en die gesofistikeerde stilering weerspieël hoë tegnologie en  elegansie. Die nuweling is langer, breër en hoër as sy voorganger. Daar is ‘n breë sierrooster met chroom-aksente en dun kopligte, en die profiel word deur ‘n skuins daklyn en C-pilaar gekemerk. Aan die agterkant is daar ‘n chroom-strook wat die agterlig-samestellings met mekaar verbind.  Die S6 beskik oor ‘n paar uitstaande stilerings-kenmerke soos donker-chroom- en aluminium stroke op die sierrooster, ‘n geïntegreerde agterste drukvlerk asook ‘n agterste lugverdeler met vier uitlaatpype en donker-chroom en aluminium-buitespieëls. Die A6-modelle is met ‘n S-Line-stilerings-pakket beskikbaar en die S4 met ‘n swart strilerings-pakket.  Daar is altesaam veertien bakkleure om van te kies. Die A6-modelle bied allooi-wiele van 18 duim as standaard toerusting, maar verskillende ontwerpe van 20 en 21 duim is teen ekstra koste beskikbaar. Die S6 het allooi-wiele van 20 duim as standaard toerusting, maar twee ontwerpe van 21 duim is opsioneel beskikbaar. Die kopligte verskil ook na gelang van die model; die 40 TDI het ligdiode-kop- en agterligte as standaard toerusting, die 45 TDI voeg matriks-tegnologie vir die kopligte en dinamiese rigtingwysers by terwyl die S6 oor hoëdefinisie-matrikstegnologie beskik. 

Die A6-reeks is met drie enjins beskikbaar. Die intreemodel is die A6 40 TDI, met ‘n turbo-diesel enjin van twee liter wat ‘n kraglewering van 140 kW en ‘n wringkrag van 400 Nm lewer. Die middelste model, die A6 45 TDI Quattro, sal teen die middel van 2020 beskikbaar wees. Dié model se drie liter turbo-diesel enjin lewer 183 kW en het ‘n wringkrag van 600 Nm. Die enigste petrol-aangedrewe model is die vlagskip van die reeks. Dit is die S6 quattro, met ‘n 2,9 liter V6-enjin met twee turbo-aanjaers wat 331 kW en 600 Nm lewer.

Die A6-modelle word met ‘n Tiptronic-ratkas met agt ratte toegerus, en die S6 met ‘n S-Tronic-ratkas met sewe ratte.  Die A6-modelle se ewenaar kan ook vanself sluit.

Aan die binnekant is daar ‘n aantal kenmerke, wat uitstaan: die sentrale konsole met die twee MMI-skerms is effens na die bestuurder toe gedraai en wanneer die motor afgeskakel is, kan ‘n mens die boonste skerm byna nie sien nie omdat dit met die ontwerp van die paneel-bord geïntegreer word.  Die twee skerms, wat ook in die A7 Sportback en die Q8 gebruik word, vervang die meeste knoppies en kontroles van die vorige model en die digitale stelsel maak voorsiening vir die bestuurder se persoonlike voorkeure. Die kontroles werk baie soos dié van ‘n selfoon se skerm. Die onderste skerm stel die bestuurder in staat om tot 27 kortpaaie te skep, onder meer vir radiostasies, telefoon-nommers of navigasie-bestemmings.  Die boonste skerm, wat 10,1 duim groot is, word gebruik vir die inligting-en-vermaak-stelsel en die onderste een, wat 8,6 duim groot is, word gebruik vir die klimaat-beheer, asook geriefs- en voertuig-funksies. Die navigasie-stelsel, wat standaard toerusting vir die hele reeks is, word by die Audi Virtual Cockpit geïntegreer. Die uitlees-paneel herinner aan ‘n vliegtuig se stuurkajuit. Die inligting-en-vermaakstelsel kan onder meer met behulp van die veelfunksie-stuurwiel beheer word, en daar is ‘n opsionele paneel tussen die voorruit en die instrumente paneel waarop die bestuuder belangrike inligting kan sien sonder om sy of haar oë van die pad af te haal.  Die S6 het ‘n Bang & Olufsen-klankstelsel met 16 luidsprekers, ‘n 3D-klankfasiliteit en ‘n kraglewering van 705 watt as standaard toerusting, terwyl dit teen ekstra koste vir die ander modelle beskikbaar is.

Die pryse van die verskillende modelle, wat Audi se Freeway-plan van vyf jaar of 100 000km insluit, lyk soos volg:

A6 40 TDI Tiptronic:  R 885 000
A6 45 TDI quattro Tiptronic: R 1 059 000
S6  quattro S-Tronic: R 1 349 500

Die reeks sal ook in die tweede helfte van die jaar uitgebrei word wanneer die RS 6 quattro Avant bekendgestel word.

Categories:
%d bloggers like this: