Breaking News

Abarth 595 opgeknap

Die Abarth 595-reeks, wat op die platform van die Fiat 500 gebou word, is so pas opgeknap en ‘n spesiale model is by die reeks gevoeg.

Die 595 Competizione en Turismo is in koepee- en afslaankap-weergawes beskikbaar en die spesiale Yamaha Monster-weergawe is gemik op motorsportliefhebbers wat op soek is na ‘n eksklusiewe en opwindende motor.

Hoewel die hele reeks aangedryf word deur ‘n 1,4 liter vier-silinder enjin met ‘n turboaanjaer is twee weergawes daarvan beskikbaar. Die Turismo se weergawe lewer 121 kW teen 5 500 opm en wringkrag van 230 Nm teen 3 000 opm, terwyl die Competizione se syfers onderskeidelik 132 Nm teen 5 500 opm en 250 Nm teen 3 000 opm is, Die Turismo en Competizione se topsnelhede is onderskeidelik 218 en 225 km/h.

Die Turismo spog met kenmerke soos ‘n stuurwiel met ‘n plat onderkant, ‘n opgeknapte paneelbord met ‘n turbodrukmeter wat met wit beligting toegerus word, en ‘n Scorpion-modus, wat eintlik dieselfde as die Sport-modus van die vorige model is en wat die lewering van maksimum wringkrag, versnellerreaksie en  stuurkraghulp verander vir ‘n meer sportiewe bestuurservaring. Daar is ook ‘n hoëverrigting-remstelsel wat eie aan Abarth is. Daar is geventileerde skyfremme voor en agter, met ‘n deursnee van 284 mm voor en 240 mm agter. 

Binne  is daar nuwe leerbekleedsel in verskeie kleure, onder meer swart en  bruin. Die paneelbord is in Alcantrara afgewerk en die rathefboom in koolvesel. Die hele reeks spog ook met ‘n Uconnect-inligting-en-vermaakstelsel met Android Auto en Apple Car Play, outomatiese lugversorging en sportiewe staalpedale.

Aan die buitekant is daar sportiewe ontwerpkenmerke soos syskorte, ‘n dubbele verchroomde uitlaatpyp, voorste misligte, ‘n sondak vir die koepee-modelle en nuwe 17 duim-allooiwiele .Die Competizione word ook met ‘n unieke bakstel toegerus maar dit is net vir swart of blou motors beskikbaar.  Die 17 duim allooiwiele van die Competizione herinner aan dié van die legendariese Lancia Delta Integrale van die 1990’s.

Die hele reeks word toegerus met veiligheids-kenmerke soos voorste-, kant- en knielugsakke, ABS-remme met elektroniese remkragverspreiding, stabiliteitsbeheer, ‘n banddrukmonitor, wegtrekhulp en agterste parkeersensors. 

Die Monster Energy Yamaha is een van twee spesiale weergawes wat die afgelope tyd bekendgestel is en is, soos die ander twee modelle, in ‘n koepee of afslaankap beskikbaar. Hierdie model, waarvan net 2 000 wêreldwyd beskikbaar sal wees, herdenk die samewerking tussen Abarth en Yamaha wat sedert 2015 strek. Die kleurskema is geïnspireer deur die Yamaha YZR-M1, wat in 2020 aan die Moto GP-kampioenskap deelgeneem het. Dit bestaan uit dubbele swart en blou afwerking met die Monster Engergy Yamaha Moto GP-embleem net onder die 595-kenteken. Daar is ook ‘n Monster-kenteken op die enjinkap ter viering van die samewerking tussen Abarth en die energie drankie Monster. Aan die binnekant is daar spesiale Abarth-sportsitplekke met blou afwerking en die Monster Energy Yamaha Moto GP-embleem op die kopstutte. Die stuurwiel bevat ‘n strepie aan die bokant wat aandui wanneer die wiele reguit is, en die Monster Energy Yamaha Moto GP-embleem kan gesien word wanneer die motor aangeskakel word. Die Monster Energy Yamaha was die tweede spesiale model wat onlangs bekendgestel is. Die ander een, wat nie in Suid-Afrika beskikbaar was nie, was die 595 Scorpionero. Hoewel die Monster Energy Yamaha gewoonlik met ‘n handratkas toegerus word, is ‘n sekwensiële ratkas met ratspane agter die stuurwiel op aanvraag beskikbaar.  

Die pryse van die verskillende, wat ‘n waarborg van drie jaar of 100 000 km  modelle lyk só:

 

595 Turismo: R 399 900

595 Turismo Cabriolet: R 439 900

595 Competizione: R 479 900

595 Competizione Cabriolet: R 519 900

595 Monster Energy Yamaha: R 469 900

595 Monster Energy Yamaha Cabriolet: R 509 900

%d bloggers like this: