Na ‘n afwesigheid van meer as dertig jaar gaan Alfa Romeo van 2018 af weer by Formule 1 betrokke wees.

Dié onderafdeling van Fiat Chrysler Automobilies (FCA)  het ‘n langtermynooreenkoms met die Switserse Sauber-span aangegaan en dié span sal voortaan as Alfa Romeo Sauber F 1 bekendstaan. Die span sal die embleem en kleure van Alfa Romeo dra en die motors sal 2018 se Ferrari-enjins gebruik.

Sergio Marchionne, die uitvoerende hoof van FCA, sê die ooreenkoms met Sauber is ‘n belangrike stap in die herlewing van Alfa Romeo, want na ‘n afwesigheid van meer as dertig jaar terugkeer na Formule 1. Alfa Romeo was al ‘n belangrike deel van die geskiedenis van Formule 1 en is weer onder die spanne wat daaraan gaan deelneem. Dit gee die geleentheid vir Alfa Romeo se ingenieurs, wat al met die Giulia en Stelvio gewys het waartoe hulle in staat is, om ook hul kennis in Formule 1 toe te pas en terselfdetyd kan Alfa Romeo-geesdriftiges ‘n span ondersteun wat vasberade is om ‘n nuwe hoofstuk in sy geskiedenis te skryf.

 

Alfa Romeo het van 1950 tot 1985 aan Formule 1 deelgeneem, Nie net as vervaardiger nie, maar ook as enjinverskaffer vir van die ander spanne. Die Formule 1-wêreldkampioenskap is in 1950 ingestel en Alfa Romeo het die eerste twee kampioenskappe gewen, met Guiseppe Farina en Juan-Manuel Fangio wat onderskeidelik in 1950 en 1951 die kampioene was. Alfa Romeo se grootste sukses as enjinverskaffer het in 1977 en 1978 gekom toe hy enjins aan die Brabham-span verskaf het. Onder die renjaers wat met die Brabham Alfa Romeo-motors gejaag het, was John Watson, Carols Pace, wat in 1977 in ‘n vliegongeluk oorlede is, Hans-Joachim Stuck, Nelson Piquet en Niki Lauda. In 1979 het Alfa Romeo as vervaardiger teruggekeer. Aanvanklik was Bruno Giacomelli die enigste renjaer in die span maar in 1980 het Patrick Depailler deel van die span geword. Depailler is egter in daardie jaar in ‘n toetsongeluk oorlede en Andrea de Cesaris het sy plek ingeneem.De Cesaris het in 1982 in  die Amerikaanse Grand Prix in Long Beach, Kalfornië voor weggespring maar die span kon nooit ‘n wedren wen totdat dit in 1985 uit Formule 1 onttrek het nie. De Cesaris het ook die rekord gehou vir die renjaer wat aan die meeste Formule 1-wedrenne deelgeneem het sonder om een wedren te kon wen.

Peter Sauber het in 1970 tot motorsport toegetree en neem al van 1993 aan Formule 1 deel. Dit is een van die min spanne wat met sy debuutwedren punte kon aanteken. Destyds het ‘n span twee punte vir ‘n vyfde plek aangeteken, en dit is wat die Finse renjaer JJ Letho reggekry het. Die span kon nog nooit ‘n wedren wen nie, maar in 2008 het die Poolse renjaer Robert Kubica die Kanadese Grand Prix gewen toe die span onder die BMW-naam deelgeneem het. Die renjaers vir die 2017-seisoen was Marcus Ericsson en Pascal Wehrlein, maar die jaers vir 2018 is nog nie aangekondig nie. Sauber se hoofkantoor is geleë in Hinwill in die Switserse kanton Zürich.

%d bloggers like this: