Breaking News

Alfa Romeo Giulia GTAm wen leserstoekenning

Die Alfa Romeo Giulia GTAm het die leserstoekenning van die tydskrif Auto Bild vir 2021 gewen.

Dit is die tweede agtereenvolgende jaar wat ‘n Alfa Romeo hierdie toekenning losslaan nadat die Stelvio QV as 2020 se wenner aangewys is. Altesaam 109 motors het vir hierdie toekenning in aanmerking gekom en die Giulia GTAm was die lesers se gunsteling onder ingevoerde sedans en stasiewaens. Dié twee toekennings is ‘n bewys van die hoë agting wat Alfa Romeo onder Duitse sportmotorliefhebbers geniet.

Daar is net 500 eenhede vervaardig, en die GTA-akroniem, wat staan vir Gran Turismo Alleggretia (Lightened Grand Tourer) is oorspronklik vir een van Alfa Romeo se mees legendariese motors, die Giulia Sprint GTA van 1965 gebruik. Die GTAm is meer gefokus op motorsport as die gewone model. Die GTA en GTAm is 100 kg ligter as die Giulia QV, aangesien daar van heelwat ligter materiaal, veral koolvesel, gebruik gemaak is.  Die GTAm word verder van die GTA onderskei deur ‘n baie groot agterste drukvlerk, ‘n rolstaaf aan die binnekant, agtersitplekke wat verwyder is, ‘n enkele uitlaatpyp in die agterste lugverdeler en allooiwiele wat met net een moer  vasgebout word. Die 2,9 liter V6-enjin met twee turboaanjaers wat die GTA en GTAm aandryf, lewer 375 kW teen 6 000 opm en wringkrag van 600 Nm teen 2 500 opm en word aan ‘n outomatiese ratkas gekoppel. 

Die GTA en GTAm trek voordeel oor Alfa Romeo se verbintenis met Sauber, wat tot dié vervaardiger se hertoetrede tot Formule 1 aanleiding gegee het.  Die motors se aërodinamiese komponente, is  in een van die mees gevorderde windtonnels  in Europa ontwikkel. Alfa Romeo se twee Formule 1-renjaers van die afgelope seisoen, Kimi Raikkönen en Antonio Giovinazzi, het verder ‘n aktiewe rol in die ontwikkeling van dié twee modelle gepeel en veral insette oor die motors se aërodinamiese komponente en hantering gelewer.  

%d bloggers like this: