Klassieke Alfa Romeo Spider in films

0 Comments

Deur Daantjie Badenhorst.

Min motors kan daarop aanspraak maak dat hulle sterre op die silwerdoek was, maar die Alfa Romeo met die langste modellewe van almal was in verskeie rolprente te sien, nie net oorsee nie maar ook in Suid-Afrika.

Die Alfa Romeo Spider, wat aanvanklik as die Duetto bekendgestaan het, is in 1966 bekendgestel. Die “Duetto”-naam kon nie gebruik word nie, aangesien ‘n sjokolade-beskuitjie met dieselfde naam reeds bestaan het. Die naam was egter dwarsdeur die Spider se leeftyd van 28 jaar sy bynaam. Die agterkant van die oorspronklike Spider het soos dié van ‘n boot gelyk. Die Spider is op die onderstel van die Giulia gebou en was aanvanklik net met die Giulia 1600 Super se 1,6 liter-enjin beskikbaar. Van die begin af was skyfremme op al vier wiele en ‘n handratkas met vyf gange stanmdaard toerusting. Die akteur Steve McQueen was bekend daarvoor da thy ‘n motor-liefhebber was, en hy het die Spider as ‘n mooi motor wat ‘n plesier was om te bestuur, beskryf. Hy het die geleentheid gekry om een van die eerste Spiders in die Verenigde State van Amerika te bestuur, na sy internasionale bekendstelling by die Geneefse motorskou ‘n paar maande tevore.  Die volgende jaar het die Spider sy debuut op die silwerdoek gemaak.

Dustin Hoffman het in die rolprent The graduate, met ‘n klankbaan deur Simon and Garfunkel, met een gery, en die motor het dadelik ‘n legende geword.  In Januarie 1968 is die motorpers bekendgestel aan die Spider 1750. Hierdie model was toegerus met ‘n 1,8 liter-enjin wat ook vir die 1750 Berlina-sedan en GTV-koepee gebruik is.  Hierdie model kon ‘n topsnelheid van 190 km/h bereik. Aan die ander kant is die 1300 Spider in Junie 1968 by die reeks gevoeg. Die 1750 Spider het in 1970 sy Suid-Afrikaanse rolprent-debuut gemaak toe die voormalige mej. Suid-Afrika, Mitzi Stander, wat op ‘n jong ouderdom in ‘n motorongeluk oorlede is, met een gery het in die rolprent Lied in my hart, waarin sy teenoor Gé Korsten gespeel het. Die Spider was op daardie stadium nie amptelik in Suid-Afrika op die mark nie, maar ‘n paar van hulle het wel die land binnegekom.

In 1970 het die Spider groot veranderinge ondergaan toe die “Kamm tail”-model bekendgestel is. Hierdie model het ‘n regaf agterkant gehad, asook ‘n nuwe neus, nuwe deur-handvatsels en staalwiele sonder wieldoppe. Die pedale was bo geskarnier eerder as onder en die binne-afwerking is verbeter. In 1971 is die 1750 Spider vervang deur die 2000 Spider, weer eens met enjins wat ook vir die Berlina en GTV gebruik is. Weer eens was 1300 en 1600-modelle ook beskikbaar. Alfa Romeo het in 1975 begin om die Spider amptelik in Suid-Afrika te bemark, maar net die 2000 was beskikbaar.  Die 2000 Spider was in twee Afrikaanse rolprente te sien. Die radio-omroeper Heinrich Marnitz was ook ‘n akteur in die rolprent Dit was aand en  dit was môre, waarin Franz Marx, Magda Beukes en Anna Neethling-Pohl te sien was. Hy het die rol van ‘n dokter vertolk en sy karakter het met ‘n 2000 Spider gery. Die volgende jaar het Hans Strydom se karakter met een in die rolprent Diamant en die dief gery. 

‘n 1974 Alfa Romeo-Spider Veloce 2 liter enjin.

Die derde weergawe van die Spider is in 1982 bekendgestel, hierdie keer net as ‘n 1600 en ‘n 2000. Hierdie modelle het plastiek stampers, ‘n nuwe paneelbord, ‘n agterste drukvlerk en, in die geval van die 2000, nuwe allooiwiele gekry. In 1985 is ‘n besending van hierdie modelle na Suid-Afrika ingevoer, maar Alfa Romeo het Suid-Afrika teen die einde van daardie jaar verlaat. 

Die vierde en laaste weergawe is in 1990 bekendgestel. Hierdie model het brandstof-inspuiting as standaard toerusting gehad, Die stampers was dieselfde kleur as die bakwerk en die luukser model, die Veolce, was met nuwe allooiwiele toegerus.  Aan die binnekant was daar ‘n nuwe middelkonsole en ‘n nuwe instrumentepaneel. Die nuwe model se agterligte het van die 164-sedan af gekom.

Die laaste weergawe van die Spider is in 1993 vervaardig, hoewel ‘n paar van hulle in die Verenigde State van Amerika as 1994-modelle verkoop is. Die nuwe Spider, gebaseer op die GTV wat kort tevore bekendgestel is, was nie so suksesvol nie, en is net tot 2004 vervaardig.

Categories:
%d bloggers like this: