Kort nadat Alfa Romeo die nuwe Giulia op die mark gebring het, het dié Italiaanse vervaardiger vir die eerste keer met die nuwe Stelvio tot die marksegment vir sportnutsvoertuie toegetree.

Die Stelvio is ‘n splinternuwe tipe Alfa Romeo, maar bied steeds ‘n vermening van werkverrigting, geskiedenis en treffende stilering. Die Stelvio is vernoem na die hoogste bergpas in Italië en dit alleen gee ‘n mens reeds die indruk dat dié nuweling nie net ‘n bestuurservaring soos min bied nie, maar ook die gerief en veelsydigheid wat so belangrik in hierdie marksegment is, bied.  Die Stelvioo bied die hantering van ‘n sportmotor met gebalanseerde massaverspreiding en ‘n toonaangewende veerstelsel. Die Q4-vierwielaandrywingstelsel is standaardtoerusting maar ‘n meganiese ewenaarslot is teen ekstra koste beskikbaar.

Die stilering van die Stelvio laat geen twyfel oor sy herkoms nie, want daar is die kenmerkende Alfa Romeo-voorkant, en aan die agterkant bring die dubbele uitlaatpype en “Kamm Tail”-stiering hulde aan Alfa Romeo-modelle van weleer. Daar is ‘n keuse van nie minder nie as elf kleure.

Hoewel die Stelvio die tipiese hoë sitposisie van ‘n sportnutsvoertuig het, doen dit glad nie afbreuk aan die rygenot wat ‘n mens van ‘n Alfa Romeo verwag nie. Die insittendes kan staatmaak op gerief  danksy ‘n outomatiese klimaatbeheerstrelsel, ‘n klankstelsel met tussen agt en veertien luidsprekes, en ‘n elektries beheerde agterklap wat só verstel kan word dat hy tot by een van drie hoogtes oopgemaak kan word. Die kapasiteit van die bagasieruim is 525 liter, volgens die vervaardigers die beste in sy klas.  Die binnekant is met egte hout en leer afgewerk en die leeroorgetrekte stuurwiel is geskik vir alle bestuurstyle.  Die TFT-kleurskerm van sewe duim gee al die inligting van die inligting-en-vermaakstelsel en werk deur middel van twee draaikonppe op die middelkonsole.  Die 3D-navigasiestelsel is met behulp van Magneti Marelli ontwikkel.

Hoewel daar heelwat elektroniese hulpmiddels is, is die oogmerk nie om die bestuurder van bestuursgenot te ontneem nie, maar eerder om dit dit te verbeter, veral danksy die goed ontwerpte onderstel en veerstelsel. Verskeie veiligheidskenmerke is standaardtoerusting of opsioneel beskikbaar afhangende van die model. Die belangrikste hiervan is ‘n geïntegreerde remstelsel, w’n waarskuwingstelsel van ‘n moontlike botsing van voor, ‘n outonome  noodremstelsel wat voetgangers “raaksien”, ‘n waarskuwing wanneer daar per abuis op die oop pad van baan verwissel word, ‘n blindekolmonitor en aktiewe spoedbeheer. Die Stelvio is die eerste motor in sy marksegment met ‘n elektromeganiese remstelsel wat stabiliteitsbeheer met die normale servo-remstelsel kombineer. Dit skakel pedaalvibrasie uit, vermider reaksietyd en verkort remafstand. Daar is ‘n radarsensor en ‘n kamera in die voorruit wat die bestuurder waarsku as daar hindernisse of ander voertuie in die bestuurder se pad is. As die bestuurder nie optree nie, word die outonome remstelsel in werking gestel en die voertuig kan teen snelhede van tot 65 km/h tot stilstand gebring word.

Die sportiewe buitekant word ook binne-in die Stelvio weerspieël en die ontwerpers het ‘n binneruim geskep wat die heel beste van  gehalte, veiligheid, toerusting gerief bied sonder om te vergeet dat die bestuurder in die middelpunt behoort te wees. Die Stelvio Super is toegerus met leersitplekke in  swart, bruin of rooi en twee tipes stuurwiele is beskikbaar; albei word met leer oorgetrek. Die Alfa Connect-stelsel werk met Apple iOS – of Android-toestelle wat deur middel van Bluetooth verbind kan word en die bestuurder in staat stel om musiek vanaf daardie toestelle deur die motot se klankstelsel te speel. Die Uconnect 3D-navigasiestelsel wat saam met Magneti  Marelli ontwikkel is, is standaadtoerusting vir die hele reeks. Die 3D-kaarte in hoë resolusie stel die bestuurder in staat om roetes te beplan en uit te werk.

Die hart van ‘n Alfa Rmeo is onder die enjinkap en die Stelvio word toegerus met ‘n turboangejaagde viersilinderenjin van twee liter. Hierdie enjin is in sy geheel uit aluminium vervaardig en ‘n outomatiese ratkas met agt gange is standaardtoerusting saam met die Q4-stelsel. Dié enjin lewer 206 Kw en wringkrag an 400 Nm. Die Stelvio versnel in 5,7 sekondes van 0 tot 100 km/h en kan ‘n topsnelheid van 230 km/u bereik. Daar is drie bestuurdersmodusse om van te kies; Natural vir elke dag, Dynamic, wat die motor se hanteringsvermoë verbeter en onder meer die stuurreaksie en remvermoë aanpas en Advanced Efficiency, vir dié vir die brandstofdoeltreffendheid van uiterste belang is. Die Q4-stelsel sorg vir al die voordele van vierwielaandrywing maar met die rygenoet van ‘n agterwielaangedrewe motor. Onder normale omstandighede word krag na die agterwiele herlei, maar soos omstrandighede verander, word dit al hoe meer ook na die voorwiele herlei.

Twee modelle sal aanvanklik beskikbaar wees. Die Super Q4 het allooiwiele van 18 duim, leersitplekke in een van drie kleure en ‘n klankstelsel met agt luidsprekers. Daar is ook ‘n opsionele weeldepakket beskikbaar; dit bestaan uit elektries verstelbare sitplekke en egte houtafwerking asook aluminiumpedale.  Die First Edition het al die Super se kenmerke, asook allooiwiele van twintig duim, ‘n klankstelsel met tien luidsprekers, ‘n sondak en aktiewe spoedbeheer. Die pryse van die twee modelle is R 810 000 vir die Super, sonder die weeldepakket, en R 946 000 vir die First Edition. Die reeks word gerugsteun deur ‘n waarborg van drie jaar of 100 000 km en ‘n onderhoudsplan van ses jaar of 100 000 km.

%d bloggers like this: