Na die bekendstelling in die begin van 2017 van die Audi A5 en S5-koepee en Sportback is dié reeks nou voltooi met die toevoeging van die afslaankapweergawes van dié twee modelle.

Die ontwerpers het die bakvorm van die koepee as grondslag vir die afslaankap gebruik; die nuwe agterruit is platter as voorheen en beklemtoon die nuweling se sportiewe voorkoms.  Daarby is die bakwerk en die Asafstand langer as voorheen en die meer kompakte sitplekke maak om ruimer as sy voorganger. Die dak kan met die druk van ‘n knoppie oop- of toegemaak word; dit kan teen ‘n snelheid van tot 50 km/h gedoen word.

Daar sal aanvanklik twee enjins vir die A5-afslaankap beskikbaar wees; albei weergawes van Audi se turbo-aangejaagde viersilinderenjin van twee liter. Die minder kragtige weergawe sal slegs met voorwielaandrywing beskikbaar wees terwyl die kragtiger weergawe die Quattro-vierwielaandrywingstelsel as standaardtoetrusting sal hê. Albei enjins sal beskikbaar wees met ‘n basiese- of Sport-afwerking. Die voorwielaangedrewe model se enjin lewer 140 kw teen tussen 4 200 en 6 000 opm en wringkrag van 320 Nm teen tussen 1 450 en 4 200 opm. Die Quattro se syfers is onderskeidelik 185 kW teen tussen 5 000 en 6 000 opm en 370 Nm teen tussen 1 600 en 4 500 opm. Die reeks sal mettertyd uitgebrei word met die bekendstelling van die 2,0 TDI, met kraglewering van 140 kW teen tussen 3 800 en 4 200 opm en wringkrag van 400 Nm teen tussen 1 750 en 3 000 opm. Die hele reeks kry die S Tronic-ratkas met sewe gange as standaardtoerusting.

Die hudige vlagskip van die A5-reeks is die S5 Quattro. Hierdie model het ‘n turbo-aangejaagde V6-enjin met ‘n verplasingsinhoud van 2 995 cc en lewer 15 kw meer as sy voorganger. Die nuwe model se kraglewering is 260 kw teen tussen 5 400 en 6 400 opm en sy wringkrag is 500 Nm teen tussen 1 370 en 4 500 opm.

Die afslaankapmodelle stel nuwe standaarde met bestuurshulpmiddels, waarvan sommige standaardtoerusting is terwyl ander as opsionele ekstras bestel kan word.  Behalwe die keuse om dit afsonderlik te bestel, kan dit ook as deel van die Parking- of City-hulpmiddelpakkette bestel word. Daar is onder meer aktiewe snelheidsbeheer met ‘n Stop and Go-stelsel wat hulp in verkeersknope verleen. Die spoedbeheer gebruik outmatiese remming en versnelling om die volgafstand tussen die A5 en die motor voor hom te handhaaf. Die bestuurder kan tussen vyf afstande kies en deur middel van Audi Drive Select die versnelling en die reaksie van die stelsel verstel. Dit kan die motor ook op versoek van die bestuurder tot stilstand bring en weer laat versnel.

Die reeks het ‘n stelsel bekend as Audi Pre-sense City as standaardtoerusting. Dit monitor die pad teen snelhede van tot 85 km/h; dit bespeur voertuie en voetgangers en stel noodremming in werking wanneer dit nodig is. Daarby is ‘n aandagsensor ook standaardtoerusting; dit ontleed die optrede van die bestuurder en gee ‘n waarskuwing wanneer dit lyk asof hy of sy nie volle aandag op die pad gee nie. Daar is ook ‘n spoedbeperker wat op enige snelheid gestel kan word en daardie snelheid handhaaf in stedelike gebiede of onder ander omstandighede wanneer dit dalk nodig is.

Soos die res van die reeks is Audi se Virtual Cockpit as ‘n opsionele ekstra beskikbaar. Hierdie stelsel verander die instrumentepaneel in iets wat soos ‘n vliegtuig se stuurkajuit lyk. Die navigasiestelsel se uitleespaneel is in die middel daarvan en die ander meters soos die spedoeter en toereteller se panele is onder in onderskeidelik die linker- en regterkantste hoeke. Diegene wat die navigasiestelsel kies, het ook toegang tot Google Earth en Google Street View.  Daarby kan Apple Car Play en Android Auto die bestuurder in staat stel om sy of haar sliomfoon met die motor te koppel terwyl ‘n koordlose laaistelsel in die armleuning opsioneel beskikbaar is. Die bagsasiebak se deksel kan outomaties oopgemaak word deur die knoppie op die sleutel te druk, maar ‘n opsionele kenmerk is die vermoë om dit oop te maak deur jou voet onder die agterstamper te plaas.

Daar is twee afwerkingsvlakke, naamlik die basiese een en die Sport. Standaardtoerusting vir die basiese model met die 140kw-enjin sluit die volgende in: 17 duim-allooiwiele, outomatiese lugversorging, snelheidsbeheer, agtersitplekke wat kan platslaan,  elektries verstelbare buitespieëls in dieselfde kleur as die bakwerk, ISOFIX-hegpunte vir die agtersitplekke, ‘n leeroorgetrekte veelfunksiestuurwiel met drie speke, dagryligte, agterste kopstutte en ‘n ruimtebesparende noodwiel met ‘n domkrag en ‘n gereedskapstel. Die Sport-modelle voeg onder meer  voorste sportsitplekke, 18 duim-allooiwiele en verchroomde uitlaatpype by. Benewens die quattro-stelsel kry die 185 kw-model ook agterste parkeersensors en elektries verstelbare voorsitplekke. Die S5 het verskeie bykomende kenmerke, onder meer LED-kop- en agterligte, 19 duim-allooiwiele, sportvering en ‘n sportstuurwiel met ‘n plat onderkant.

 

Pryse

Die pryse van die A5-afslaankapmodelle wissel tussen R 689 000 vir die 2,0 T FSI S Tronic tot R 1 024 000 vir die S5 quattro. Audi se Freeway-onderhoudsplan, wat vir vyf jaar of 100 000 km geldig is, is by die pryse ingesluit.

Audi A5 Cabriolet 2.0T FSI S tronic: R 689,000
Audi A5 Cabriolet 2.0T FSI S tronic Sport: R 723,000
Audi A5 Cabriolet 2.0T FSI quattro S tronic: R 823,500
Audi A5 Cabriolet 2.0T FSI quattro S tronic Sport: R 857,500
Audi S5 Cabriolet 3.0T FSI quattro tiptronic: R 1,028,000