Audi A5 mooier en meer gevorderd

0 Comments

Die Audi A5-reeks vir 2021 is pas in Suid-Afrika bekendgestel, en soos voorheen sal daar weer ‘n koepee, ‘n Sportback en ‘n afslaankap beskikbaar wees.

Aan die buitekant is die uitstaande nuwe kenmerk ‘n platter en breër sierrooster met ventilasie-uitlate aan die bokant wat aan dié van die Sport quattro van 1984 herinner. Daar is ook groter luguitlate aan die onderkant van die voorstamper. Die lugverdeler en trapesium-vormige uitlaatpype laat die agterkant breër lyk. Die hele reeks het Matrix ligdiode-kopligte as standaardtoerusting en ligdiode-agterligte met dinamiese rigtingwysers. Drie afwerkignsvlakke is beskikbaar. Die standaard-weergawe het 17 duim-allooiwiele, ‘n dofswart sierrooster met ‘n chroom-raam, deurskorte met aluminium-insetsels en ‘n uitlaatpyp wat in dowwe aluminium-silwer afgewerk is. Hierdie afwerking is net vir die 40 TFSI-koepee beskikbaar. Die S Line is beskikbaar as ‘n koepee of ‘n Sportback, en met ‘n petrol- of diesel enjin. Hierdie afwerkingsvlak voeg die volgende kenmerke by: 18 duim allooiwiele in gegote aluminium, die S Line-kenteken aan die kant van die motor, breë baksyskorte in dieselfde kleur as die bakwerk, sportvering, ‘n S Line-sierrooster in titanium-swart en met ‘n chroom-rand, swart en silwer luguitlate aan die kant, ‘n modelspesifieke agterste lugverdeler in dowwe titanium-swart en aluminium-silwer afwerking aan die agterkant. Die S5 is in al drie bakvorms beskikbaar, en beskik verder oor 19 duim-allooiwiele, rooi remknypers, buitespieëls met ‘n aluminium-voorkoms, ‘n groot agterste drukvlerk, S-spesifieke stampers en S-sportvering.

Binne is daar leer- of kunsleersitplekke in een  van vyf verskillende kleure, terwyl ‘n S Line-binneruimpakket met Nappa-leer en S Line-stikwerk teen ekstra koste beskikbaar is. Die binneruim van die nuwe reeks word deur horisontale lyne gekenmerk; die MMI-vertoonpaneel vorm die fokuspunt van die voorpaneel  en is effens na die bestuurder gedraai.  Die nuwe skerm werk baie soos ‘n moderne selfoon en die ronde drukknop van die vorige reeks word deur ‘n 10,1 duim-skerm met akoestiese terugvoer vervang. Die grafika is duidelik en die kieslys se struktuur weerspieël die gebruiker se verwagtinge.  Stembeheer, wat normale gesprekstaal kan verstaan, is ook beskikbaar.  Die Audi Connect-stelsel wat aanvanklik vir die nuwe A 4 bekendgestel is, word standaard toerusting vir die A5-reeks. Die hele reeks het ‘n Audi Connect-module op die dak van die motor wat onmiddellik kontak maak met die nood-oproepsentrum deur net ‘n knoppie te druk. Die eienaar kry op hierdie manier onmiddellike toegang tot padbystand wanneer nodig.  Die eienaar kan ook op hierdie manier met die polisie, ambulans-dienste, of die brandweer kontak maak.  Daarby word die eienaar in kennis gestel wanneer die motor gediens moet word, en  ‘n afspraak kan by die geregistreerde Audi-handelaar gemaak word. Wanneer die My Audi-toepassing, wat standaard as deel van die Audi Connect-portefeulje is, gelaai word, kan die eienaar toegang kry tot die motor se volledige inligting, en sekere dienste instel,soos die maksimum snelheid waarteen daar met die motor gery kan word. Die eienaar kan ook die motor se brandstofvlak, reikafstand en diensafsprake dophou.  Die motor beskik oor Apple Car Play en Android Auto as standaardtoerusting, asook die Audi Virtual Cockpit Plus, met ‘n 12,3 duim uitleespaneel wat aan ‘n vliegtuig se stuurkajuit herinner.  Daar is drie vertoonpanele waaruit die bestuurder kan kies, en die veelfunksie-stuurwiel bevat die kontroles wat die bestuurder in staat stel om die vertoonpaneel volgens behoefte aan te pas. 

Die A5-koepee is beskikbaar in vier modelle, naamlik die 40 TFSI, die 40 TFSI S-Line, die 40 TDI S-Line en die S5 TFSI quattro. Die Sportback is beskikbaar in ‘n 40 TFSI S-Line, ‘n 40 TDI S-Line en ‘n S5 TFSI quattro terwyl die afslaankap net as ‘n S5 TFSI quatto beskikbaar is.  Die 40 TFSI-modelle se turbopetrolenjin van twee liter lewer  140 kW en 320 Nm en die tweeliter-trurbo-diesel enjin van die TDI-modelle 140 kW en 400 Nm. Die S5-modelle se turbo-petrol enjin van drie liter lewer  260 kW en 500 Nm. 

Die A5-reeks bied ‘n verskeidenheid opsiepakkette aan wat daarop gemik is om beter waarde vir geld te bied en die proses om die motor te bestel, te vereenvoudig. Hierdie pakkette is saamgestel volgens kopers se behoeftes en voeg kenmerke wat bymekaar hoort, saam. Die Technology-pakket bevat MMI Navigation Plus en MMI Touch en volle Audi Connect -funksionaliteit. Die Comfort-pakket bestaan uit elektries verstelbare en verhitbare voorsitplekke, ‘n trukamera en bykomende bêreplek vir los goedere terwyl die Sport-pakket ‘n stuurwiel met ‘n plat onderkant en ratspane bevat.

Altesaam twaalf bakkleure, waaronder ‘n nuwe metaalgroen, is beskikbaar. 

Die pryse van die nuwe A5-reeks, wat ‘n Audi Freeway-onderhoudsplan van vyf jaar of 100 000 km insluit, lyk só:

A5 koepee 40 TFSI : R 751 000

A5 koepee 40 TFSI S-Line: R 796 000

A5 koepee 40 TDI S-Line: R 836 000

S5 koepee TFSI quattro: R 1 052 000

A5 Sportback 40 TFSI S-Line: R 811 000

A5 Sportback 40 TDI S-Line: R 851 000

S5 Sportback TFSI quattro: R 1 067 000

S5 Cabriolet TFSI quattro: R 1 152 000