Nadat die nuwe Audi A5-reeks vroeër in 2017 bekendgestel is, is die vlagskip van dié reeks, die RS 5 Quattro-koepee so pas bygevoeg.

Die nuwe RS 5 kan as die Gran Turismo-model van Audi se RS-reeks beskou word aangesien hy verkverrigting en sportierwe strilering met alledaagse gebruikersvriendelikheid kombineer. Die Quattro-aandryfstelsel is standaardtoeruisting en versprei krag na al vier wiele om vastrapvermoë, stabiliteit en padhouvermoë te verbeter.

Die inspirasie vir die buite ontwerp kom van die Audi 90 Quattro IMSA GTO, wat beteken dat die RS 5 Quattro met die eerste oogopslag sportief voorkom. Die voorste sierrooster lyk meer aggressief as gevolg van sy heuningkoek-afwerking en bevat die RS 5- en Quattro-kentekens. Dit word met ‘n horisontale strook aan die onderste voorste luguitlaat verbind. LED-kopligte is standaardtoerusting, maar LED Matrix-kopligte is teen ekstra koste beskikbaar. Aan die agterkant is daar ‘n groot luguitlaat met ovaalvormige uitlaatpype en ‘n agterste drukvlerk.

Daar is drie stilerings-pakkette wat eienaars in staat stel om die motor hul eie te maak, naamlik glansswart, aluminium en koolvesel. Daar is sewe kleure beskikbaar, onder meer ‘n eksklusiewe en besondere metaalkleur bekend as Sonoma-groen. Daarby is ‘n dak van koolvesel opsioneel beskikbaar.

Nog ‘n opsiepakket wat kopers kan kies, is die RS Dynamic-pakket wat bestaan uit LED Matrix-kopligte, ‘n dinamiese stuurstelsel, ‘n sport-ewenaar, sportiewe vering met dinamiese ritbeheer en ‘n topsnelheid wat van 250 km/h tot 280 km/h verhoog word.

Die RS 5 Quattro se V6-enjin met twee turboa-anjaers en ‘n verplasingsinhoud van 2,9 liter lewer 331 Kw en wringkrag van 600 Nm  tussen 1 900 en 5 000 opm, terwyl ‘n Tiptronic-ratkas met agt gange standaardtoerusting is. Die topsnelheid word elektronies beperk tot 250 km/h, tensy die RS Dynamic-pakket gekies word, en versnelling van 0 tot 100 km/h geskied in 3,9 sekondes. Die gemiddelde brandfstofverbruik van die RS 5 Quattro is 8,7 liter per 100 km en uitlaatgasse word teen 197 g/km uitgeskei. Die RS 5 Quattro is 60 kg ligter as voorheen en weeg nou 1 655 kg.

Aan die binnekant is daar verligte skorte aan die onderkant van die deur met die RS5-kenteken; daar is ook LED-ligte in een van dertig kleure vir die kontoere van die deure en die middelkonsole. Die binnekant is in swart afgewerk en sportsitplekke in leer met ‘n heuningkoek-patroon is standaardtoerusting. Die veelfunksie-stuurwiel het ‘n plat onderkant en bevat die RS-embleem. Dié embleem kom ook op die rugleunings van die sitplekke en die knop van die ratkieser voor. Daar is rooi stikwerk op die sitplekgordels, die middelkonsole, die armleunings, en die vloermatte, wat ook die RS-embleem kry. Die bagasieruim is groter as voorheen en hou 465 liter; die beste syfer in sy klas. Die RS 5 het modelspesifieke instrumente en ‘n inligting-en-vermaakstelsel met ‘n skerm van sewe duim. Soos met Audi se ander nuwe modelle is ‘n Virtual Cockpit opsioneel beskikbaar. Die uitleespaneel op die instrumentepaneel lyk soos ‘n vliegtuig sde stuurkajuit en kan aangepas word volgens die bestuurder se behoeftes. Vir dié wat die motor om ‘n renbaan wil gtebruik, is daar ook ‘n rondtetydhouer. Nog ‘n opsie is ‘n uitleespaneel net agter die voorruit wat toepaslike inligting vir die bestuurder gee sonder dat dit nodig is om sy of haar oë van die pad af te haal. Wanneer Apple Car Play en Android Auto in Suid-Afrika beskikbaar is, sal die RS 5 Quattro gereed wees daarvoor.

Die RS 5 Quattro kom met aanpasbare spoedbeheer as standaardtoerusting; dit help die bestuurder om ook in verkeersknope ‘n konstante snelheid na aanleiding van dié van die voorste motor te handhaaf. Dit skakel die enjin ook aan en af na gelang van omstandighede. Die motor kan die een voor hom volg en sodoende baie druk en spanning van die bestuurder verwyder.Daar is ook ‘n stelsel wat die bestuurder in staat stel om botsings te vermy of die uitwerking daarvan te verminder, deur onder meer die agterkant van die motor “dop te hou” vir enige verkeer of hindernisse wat mag voorkom.

Die Audi RS 5 Quattro se prys is R 1 285 500 en dit sluit Audi se Freeway-onderhoudsplan van vyf jaar of 100 000 km in.