Audi se A4 ingrypend opgeknap

0 Comments

Die opgeknapte weergawe van Audi se gewilde A4-sedan is pas in Suid-Afrika bekendgestel.

Die nuwe model skakel nie net by Audi se moderne ontwerprigting in nie, maar beskik ook oor die jongste tegnologie aan die binnekant, onder meer ‘n nuwe MMI-raakvertoonpaneel wat baie soos ‘n slimfoon werk.

Die nuwe A4 lyk meer dinamies en gesofistikeerd as voorheen danksy meer sportiewe ontwerpkenmerke. Die sierrooster is breër en platter, en horisontale lyne beklemtoon die motor se breedte voor en agter. Aan die kant is daar nuwe lyne bokant die wielboë en ‘n laer middellyn tussenin. Dit vorm sterk kontoere bokant die wiele en maak die quattro-herkoms duidelik sigbaar. Ligdiode-kopligte is standaard toerusting vir die hele weeks, en sommige modelle kry ‘n hoër weergawe met dagryligte en dinamiese rigtingwysers aan die agterkant. Daar is ook Matrix-ligdiodekopligte met outomatiese hoëstraal teen ekstra koste beskikbaar. Daar is drie afwerkings vir die buitekant, naamlik standaard, Advanced en die sportiewe S-Line, en twaalf bakkleure is beskikbaar. Die intreemodelle word toegerus met 17 duim-allooiwiele terwyl die Advanced en S-Line met 18 duim-wiele spog terwyl 19-duim wiele opsioneel beskikbaar is. 

In die middel van die paneelbord is die nuwe MMI-raakvertoonpaneel wat effens na die bestuurder se kant toe gedraai is. Die standaard sitplekke bied ‘n kombinasie van leer en kunsleerbekleedsel en die S-Line-pakket vir die binneruim, wat met die buiteafwering gekombineer kan  word, beskik oor Nappa-leerbekleedsel met die S-kenteken wat ingeborduur word. Met die MMI-raakpaneel bied die A4 ‘n ervaring wat met dié van ‘n slimfoon vergelyk kan word en ‘n MMI-raakpaneel vervang die voerige beheerknop op die middelkonsole.  Die hoëresolusieskerm is 10,1 duim groot en is volgens die vervaardiger uiters gebruikers-vriendelik. Die stembeheerstelsel verstaan die meeste frases wat elke dag gebruik word terwyl Apple Car Play- en Android Auto-versoenbaarheid standaard toerusting is. Die navigasiestelsel is meer veelsydig en gebruikers-vriendelik as ooit tevore en  die opsionele Audi-tegnologie pakket bevat MMI Navigation Plus, asook die raakvertoonpaneel en al die funksies van Audi connect.  Die A4 is die eerste modelreeks wat Hiermee toegerus word; dit sluit ‘n aantal aanlynfunksies in, onder meer navigasie asook inligting en vermaak. Audi connect neem veligheid, bestuursgenot en gemak na ‘n nuwe vlak en bevat werklike inligting en allerlei digitale funksies. Dit sluit internet-dienste deur ‘n SIM-kaart wat in die motor geïnstalleer word en deur die myAudi-toepassing gebruik kan word, in.  Die toepassing maak digitale toegang tot die motor oral moontlik; die bestuurder kan toegang tot belangrike inligting kry, data bestuur en sekere dienste instel.  Die bestuurder het daarby toegang tot die motor se brandstofvlak, afsprake vir dienste, waarskuwings-boodskappe en ander funksies.  Daar twee tipes instrumentepanele beskikbaar; die gewone analoog-bestuurder-inligtingstelsel met ‘n kleurvertoonpaneel of die ten volle digitale Audi Virtual Cockpit Puls wat aan ‘n vliegtuig se stuurkajuit herinner en ‘n keuse van drie verskillende vertoonpanele, wat deur middel van die veelfunksie-stuurwiel beheer kan word, bied.

Daar sal aanvanklik drie enjin keuses beskikbaar wees. Die 35 TFSI spog met die minder kragtige weergawe van Audi se tweeliter-turbo-petrol enjin, wat 110 kW teen 5 000 opm  en 270 Nm teen 1 500 opm lewer. Die 40 TFSI se weergawe lewer 140 kW teen 4 200 opm en 320 Nm teen 1 450 opm. Hierdie enjins, wat aan ‘n outomatiese ratkas gekoppel word, beskik oor ‘n ligte hibriedestelsel (MHEV) wat op 12 volt gebaseer is en  brandstofverbruik met tot 0,3 liter per 100 km verminder.  Die S4 se drieliter-turbo-petrol enjin lewer 260 kW en 500 Nm en Audi se bekende quattro-vierwielaandrywing-stelsel is standaard toerusting.  Hoewel die voorwiele gewoonlik aangedryf word, word wringkrag na die agterwiele versprei wanneer nodig. Die reeks sal vroeg aanstaande jaar uitgebrei word wanneer ‘n model met ‘n turbo-diesel enjin bekendgestel word.

Die pryse van die nuwe A 4-reeks, wat ‘n Audi Freeway-onderhoudsplan van vyf jaar of 100 000 km insluit, lyk só:

A4 35 TFSI S Tronic: R 644 000

A4 35 TFSI Advanced S Tronic: R 663 000

A4 40 TFSI S Tronic: R 681 500

A4 40 TFSI Advanced S Tronic: R 700 500

A 40 T FSI S Line S Tronic: R 726 500

S 4 quattro Tiptronic: R 944 500

Categories:
%d bloggers like this: