Breaking News

Audi se Q2 effens opgekikker

Audi het pas aangekondig dat ‘n opgeknapte weergawe van die Q2 van die 1ste Junie af in Suid-Afrika beskikbaar sal wees.

Die nuwe reeks sal geringe veranderinge binne en buite kry, en drie afwerkingsvlakke sal beskikbaar twwes terwyl ‘n paar nuwe kleure ook beskikbaar sal wees. Die nuwe vooraansig spog met ‘n meer kenmerkende voorkoms; veral die vyfhoekige oppervlaktes onder die kopligte. Die agthoekige sierrooster is ook effens laer as voorheen. Die agterstamper bevat ‘n lugverdeler met vyfhoekige panele in die hoeke. 

Vyf nuwe kleure is beskikbaar, onder meer appelgroen, wat vir die eerste keer vir ‘n Audi gebruik word. Twee nuwe skakerings van grys en twee nuwe blou skakerings sal ook voortaan beskikbaar wees.  Die C-pilare word in dieselfde kleur as die bakwerk, silwer, grys of swart afgewerk; afhangende van die afwerkingsvlak wat gekies word. 

Hoewel ligdiode-kopligte standaard toerusting is, kan matriks-ligdiodekopligte teen ekstra koste aangebring word. Een gedeelde module bevat sewe ligdiodes en die hoëstraalhulp verlig die pad so helder as moontlik sonder om ander padgebruikers te verblind. Die Advanced en S-Line word ook met ligdiode-agterligte toegerus. 

Net een enjin sal voortaan beskikbaar wees, en ingevolge Audi se huidige model-benamings sal die Q2 as die 35 TFSI bekendstaan. Die 1,4 liter-enjin, wat aan ‘n Tiptronic-ratkas met agt gange gekoppel word,  word met ‘n turboaanjaer toegerus en lewer 110m kW en 250 Nm se wringkrag. 

Drie afwerkings-vlakke is vir die nuwe Q2 beskikbaar, naamlik die standaard model, die Advanced en die S-Line. Die standaard model word met 16-duim allooiwiele toegerus, en alle bakpanele word in dieselfde kleur as die bakwerk afgewerk. Die Advanced word toegerus met 17 duim allooiwiele, grys afwerking vir die C-pilaar en die stampers, ligdiode-agterligte, asook sportsitplekke met materiaal-bekleedsel. Die S-Line beskik oor 18-duim allooiwiele, sportvering, ‘n platinumgrys C-pilaar en stampers in dieselfde kleur as die bakwerk. Al drie spesifikasievlakke kan met ‘n opsionele panoramiese sondak bestel word. 

Aan die binnekant is daar ‘n keuse van material- of kunsleerbekleedsel, en die S-Line binneafwerking is vir die hele reeks beskikbaar.  Hierdie afwerking beskik oor grys stikwerk vir die sitplekke met die S-embleem wat in die rugleunings geborduur word. Atmosfeerbeligting met ‘n keuse van tien kleure is ook teen ekstra koste beskikbaar, en die dekoratiewe insetsels binne die motor word ook hierdeur verlig. 

Voornemende kopers kan ook verskeie opsiepakkette benewens die verskillende afwerkings bestel. Die Comfort-pakket bestaan uit ‘n elektries beheerde agterklap, verhitbare sitplekke, asook lendesteun met vier verstellings en twee USB-kragpunte agter. Die Tech-pakket bestaan uit MMI Navigation Plus, volle slimfoon-integrasie en Audi Virtual Cockpit, wat aan die stuurkajuit van ‘n vliegtuig herinner.  Die Black Styling-pakket is net saam met die Advanced- en S-Line-afwerkings beskikbaar. Dit bestaan uit ‘n swart sierrooster, swart afwerking vir die stampers, swart buitespieëls, 19-duim allooiwiele met tien speke en sportvering.  Die S-Line binneafwerking is ook net vir die Advanced en S-Line beskikbaar. Dit bestaan uit dekoratiewe insetsels in aluminium,  swart afwerking vir die dak, aluminium-pedale en skermplate vir die deure met die S-embleem. Die sitplekke met die S-embleem en grys stikwerk is ook deel van hierdie pakket. Daarby is ‘n Bang & Olufsen-klankstelsel met veertien luidsprekers teen ekstra koste beskikbaar.

Die sportvering, wat standaard toerusting vir die S-Line is, is 10 mm laer as die gewone veerstelsel, en die Audi Drive Select-stelsel stel die bestuurder in staat om een van vyf bestuursmodusse te kies, naamlik Auto, Efficiency, Comfort, Dynamic en Individual.  Die elektroniese stabiliteits-beheer sluit ook ‘n veldrymodus in.

Die pryse van die verskillende modelle, wat ‘n Audi Freeway-onderhoudsplan van vyf jaar of 100 000 km insluit, lyk só:

Q2 35 TFSI S Tronic: R 545 500
Q2 35 TFSI Advanced S Tronic: R 567 500
Q2 35 TFSI S-Line S Tronic: R 581 500

%d bloggers like this: