Audi se Q3 word ‘n koepee

0 Comments

Audi het pas sy Q3-reeks uitgebrei met die toevoeging van twee Sportback-modelle. 

Die Sportback is die koepee-weergawe van die Q3, en kombineer die veelsydigheid van ‘n sportnuts-voertuig met die sportiewe stilering van ‘n koepee. Volgens die vervaardiger is dit ‘n motor vir diegene wat ‘n sportiewe karakter en ‘n besondere ontwerp wil hê. Aan die voorkant is daar ‘n groot agthoekige sierrooster met trapesium-vormige luguitlate aan weerskante en ligdiode-kopligte is standaard toerusting. Voornemende kopers kan egter kopligte met matriks-tegnologie teen ekstra koste bestel. Die Sportback lyk langer as die gewone model, maar is in werklikheid 3cm platter. Daar is ‘n kleur-gekodeerde drukvlerk op die dak, en die sportiewe agterstamper beklemtoon sy breedte. 

Daar is altesaam tien bakkleure om van te kies, onder meer ‘n nuwe metaalkleur bekend as Dew Silver, wat uitsluitlik vir die Q3 Sportback beskikbaar is. Audi se S-Line-afwerking is standaard toerusting vir die Sportback, met aluminium-elemente in die rooster, die stampers en die luguitlate. Allooiwiele van 18 duim is standaard toerusting, maar wiele van 19 duim is teen ekstra koste beskikbaar. Audi bied ook ‘n swart stileringspakket as ‘n opsie; dit sluit swart afwerking op die stampers in en beklemtoon die rooster en die agterste lugverdeler.

Die Q3 Sportback is daarop gemik om soveel bestuursgenot moontlik te verskaf, nie net in die stad en op die oop pad nie, maar ook onder minder veeleisende veldry toestande. Die bestuurder kan die motor se karakter-eienskappe na gelang van bestuurs-omstandighede, padtoestande of persoonlike voorkeur deur middel van die motor se dinamiese hanteringstelsel , Audi Drive Select, verander terwyl sportvering standaard toerusting is. Daar is ses modusse om van te kies, onder meer vir alledaagdse omstandighede, sportiewe hantering of veldrytoestande. 

Daar is aanvanklik twee modelle om van te kies. Die 35 TFSI word toegerus met ‘n turbo-petrol enjin van 1,4 liter wat 110 kW teen tussen 5 000 en 6 000 opm en wringkrag van 250 Nm teen tussen 1 500 en 3 500 opm  lewer. Hierdie enjin word gekoppel aan ‘n S Tronic-ratkas met ses gange en beskik oor voorwiel-aandrywing.  Die quattro 40 TFSI word toegerus met ‘n turbo-petrol enjin van twee liter wat 132 kW teen tussen 4 200 en 6 700 opm en wringkrag van 320 Nm teen tussen 1 500 en 4 200 opm  lewer. Hierdie enjin word aan ‘n sewegang S Tronic-raktas gekoppel en vierwiel-aandrywing is standaard toerusting. Laasgenoemde enjin is ook nou vir die gewone Q3 beskikbaar.

Ondanks die koepee-bakwerk is daar oorgenoeg ruimte vir vyf mense en hul bagasie. Die agtersitplek kan vorentoe en agtertoe verstel word en die rugleuning is in drie dele verdeel. Die bagasieruim kan van 530 liter tot 1 400 liter vergroot word deur die agtersitplekke plat te vou en daar is twee verstellings vir die bagasie-bakvloer. As deel van die geriefspakket kan die agterklap met kraghulp oop- of toegemaak word. Die sitplekke word in ‘n kombinasie van leer en kunsleer oorgetrek, maar Alcantaara is ook beskikbaar. Daarby is ‘n S Line-binnekant-pakket ook beskikbaar; dit bestaan onder meer uit ‘n S-embleem op die stuurwiel en in die sitplekke, pedale in vlekvrye staal en donker aluminium insetsels in die paneelbord en die skermplate van die deure.

Benewens die gewone beligtings-pakket is daar ook een beskikbaar wat die binnekant in 30m kleure kan verlig.  Hierdie kleure verlig ook die quattro-embleem op die paneelkissie van die 40 en die Audi-embleem op die 35.  Die instrumente paneel is die volgende stap in die proses van digitalisering van sy nuwe modelle, en ‘n digitale instrumentepaneel is standaard toerusting. Daar is ‘n veelfunksie-stuurwiel waarmee die MMI Touch Radio Plus-klankstelsel beheer word. Audi se vitruele stuurkajuit, wat aan dié van ‘n vliegtuig herinner, is egter opsioneel beskikbaar. Dit stel die bestuurder in staat om tussen verskillende vertoonopsies te kies. As deel van die tegnologie-pakket is ‘n 12,3 duim skerm en MMI Navigation Plus ook beskikbaar. Die grootte van die instrumente en ander opsies kan gekies word deur die View-knoppie op die stuurwiel te druk. Die kommunikasie tussen die eienaar se slimfoon en die motor word vergemaklik deur Anrdoid Auto en Apple Car Play te gebruik. Daar is ook geen kabels wanneer die MMI Navigation Plus-stelsel saam met ‘n iPhone gebruik word nie. 

Die Q3 Sportbasck spog met verskeie veiligheids-kenmerke as standaard toerusting, onder meer baanhouhulp, baandwaal-waarskuwing en ‘n blindekol-monitor. Daar is ook ‘n voorbots-waarskuwing wat die bestuurder op meer as een manier waarsku wanneer ‘n botsing moontlik gaan plaasvind. Daar is ‘n 360 grade kamera , buitespieëls wat outomaties invou en dwarsverkeer-waarskuwing wat deel uitmaak van die parkerings-pakket wat opsioneel beskikbaar is. 

Audi bied ‘n aantal opsiepakkette aan wat dit vir voornemende kopers makliker maak om hul motors volgens hul spesifikasies toe te rus.  Dit voeg spesifieke opsies wat met mekaar verband hou, saam en maak die proses makliker vir die koper om te verstaan. Daar is onder meer ‘n gerief-, tegnologie-, parkering- sport- en S Line-binneruim-pakket beskikbaar. 

Die pryse van die twee modelle wat ‘n Freeway-onderhouds-plan van vyf jaar insluit, lyk só:

Audi Q3 Sportback 35 TFSI: R 693 000

Audi Q3 Sportback 40 TFSI quattro: R 737 000

 

Categories:
%d bloggers like this: