Audi se Q7 verbeter

0 Comments

Audi het pas die jongste weergawe van sy vlagskip-sportnutsvoertuig, die Q7 in Suid-Afrika bekendgestel.

Die nuwe model, wat met verbeterde veldryvermoë spog, is in ‘n strandaard- en S Line-model beskikbaar met ‘n keuse van vyf of sewe sitplekke. Aan die voorkant is daar ‘n nuwe agthoekige sierrooster met ses vertikale stawe wat die Q7 ‘n kragtiger voorkoms gee.  Aan weerskante is die kopliogte, wat opsioneel met matriks-ligdiodetegnologie beskikbaar is, en die herontwerpte agterkant spog met ‘n breë chroomstrook wat die agterligte met mekaar verbind. Die S Line-model is nog meer opvallend en beskik oor uitstaande kenmerke soos ‘n titaanswart sierrooster met stawe in aluminiumsilwer, beskerming aan die onderkant van die agterste bakwerk met ‘n sportiewe beklemtoning, ‘n hoëglans-verfpakket, ‘n agterste drukvlerk, modelspesifieke voor- en agterstampers , aluminium-dakspore en allooiwiele van twintig duim.

Die belangrikste tegniese verbetering op die nuwe Q7 is vierwielstuur, wat maak dat die agterwiele tot vyf grade in  die teenoorgestelde rigting kan draai. Dit maak die Q7 maklik om in stedelike verkeer en om haarnaalddraaie te hanteer. Daarby is die Q7 ewe tuis op snelweë, waar die aanpasbare lugvering ‘n selfs gemakliker ritgehalte bied. Dit maak ook dat die voertuig se grondvryhoogte verstel kan word en berei die motor voor vir wanneer daar in die veld bestuur word. Die lugvering is opsioneel vir die gewone model beskikbaar maar standaardtoerusting vir die S-Line. Die geskikte veldrymodus kan gekies word deur die Audi Select-dinamiese hanteringstelsel wat uit sewe profiele bestaan, te gebruik.

Daar is net twee modelle in die nuwe reeks beskikbaar, naamlik die 45 TDI quattro Tiptronic en die 45 TDI quattro Tiptronic S Line. Albei modelle word aangedryf deur dieselfde drieliter-turbodieselenjin wat 183 kW teen tussen 2 910 en 4 500 opm en 600 Nm teen tussen 1 500 en 2 910 opm  lewer en ‘n Tiptronic-ratkas met vierwielaandrywing is standaard toerusting. 

Die nuwe Q7 is 5 063 mm lank; 11 mm langer as voorheen, en volgens die vervaardigers is hy langer en ruimer as sy mededingers.  Die nuwe model beskik oor heelwat plek vir los goedere, onder meer ‘n nuwe kompartement in die instrumentepaneel.  In die model met vyf sitplekke wissel die bagasieruimte tussen 865 en 2 050 liter, en die vloer is heeltemal plat wanneer die agteritplek platgevou word. Daar is ook ‘n sitplek wat in drie verdeel word met elke deel wat afsonderlik verstel kan word, teen ekstra koste beskikbaar. Daar is ook ‘n derde ry sitplekke, wat elektronies in die bakwerk invou wanneer dit nie gebruik word nie en die motor in ‘n sewe-sitplek-voertuig verander, teen ekstra koste beskikbaar. Die agterklap werk elektries en kan oop- en toegemaak word wanneer ‘n mens se voet onder die agterstamper is, mits die voertuig se sleutel byderhand is. Die nuwe voorpaneel spog met volle digitale werking en beskik oor twee raakskerms met haptiese- en akoestiese terugvoer wanneer daar aan die kontroles geraak word. Wanneer die skerm af is, is dit byna onsigbaar binne die swart dekoratiewe oppervlakte. Alles, van die luguitlate in die paneelbord tot die breë middelkonsole, vorm ‘n visuele eenheid. Viersone-klimaatbeheer is standaardtoerusting, en elektroniese hulp om die deure toe te maak, asook ‘n Bang & Olufsen 3D Premium-klankstelsel is opsioneel beskikbaar. 

Die MMI-navigasiestelsel spog met internet-verbinding uit die boonste rakke. Dit bestaan uit ‘n ingeboude SIM, ‘n Wi Fi-verbindingspunt, natuurlike stembeheer en die omvattende Audi Connect-portefeulje. Laasgenoemde bevat onder meer bygewerkte verkeers-inligting, die vermoë om plekke van belang te soek, navigasie deur Google Earth en die jongste weerverslae. Dit sluit ook Car 2X-dienste in wat bestaan uit standaard-veiligheids- en dienskenmerke wanneer die voertuig beskadig word, onklaar raak of in ‘n minder ernstige botsing betrokke raak.  Hierdie funksie, wat in die voertuig se dak ingebou word, stuur ‘n noodoproep na ‘n Audi-oproep-sentrum om bystand te verleen wanneer so iets gebeur. Die My Audi-toepassing bevat ook funksies wat met afstandbeheer deur die bestuurder se slimfoon werk; soos om die motor met afstandbeheer oop- of toe te sluit, om die motor op te spoor of om die bestuurder te waarsku as die motor gesteel is of die spoedgrens oorskry. Die Audi Virtual Cockpit Plus, wat aan ‘n vliegtuig se stuurkajuit herinner, is standaardtoerusting, en ‘n paneel tussen die voorruit en die instrumentepaneel wat belangrike inligting gee, is teen ekstra koste beskikbaar.

Soos met Audi se ander modelreekse is verskillende opsiepakkette beskikbaar gestel om die proses om ‘n motor volgens persoonlike behoeftes toe te rus, te vereenvoudig. Dit klassifiseer belangrike opsies volgens ‘n voornemende koper se behoeftes, en volgens die vervaardiger is dit maklik om te verstaan. Dit is saamgestel uit ‘n kombinasie van kopers se behoeftes en beklemtoon elke voertuig se unieke kenmerke. Voornemende kopers kan onder meer die Comfort-, Black Styling of S-Line pakkette kies om hul motor bo die res te laat uitstaan. 

Die pryse vir die twee Q7-modelle, wat Audi se Freeway-plan van vyf jaar of 100 000 km insluit, is R 1 328 500 en R 1 388 500 vir die 45 TDI quattro Tiptronic en die 45 TDI quattro Tiptronic S-Line onderskeidelik.

Categories:
%d bloggers like this: