Nadat die nuwe geslag Audi A4 in 2016 in Suid-Afrika bekendsgestel is, is die reeks in einde 2017 uitgebrei met die toevoeging van die nuwe S4 Quattro-sedan.

Die afgelope twintig jaar het Audi groot sukses met hulle  sportiewe S-modelle gehad, en die nuwe S4 sit hierdie tradisie voort. Soos voorheen kombineer die S4 elegante stilering met uitsonderlike werkverrigting en natuurlik die kenmerkende Quattro-vierwielaandrywing as standaard.

Die S4 Quattro se buitevoorkoms is sportief maar nie oordadig nie; die buitespieëls is in grys afgewerk terwyl die agterste stamper ‘n groot luguitlaat en vier uitlaatpype huisves.

Die subtiele onderbeklemtoonde stilering van die bakwerk, word ook binne aangetref en die paneelbord met sy horisontaal gerangskikte ventilasie-uitlate skep ‘n gevoel van ruimte. Die binnekant is oorwegend swart, met insetsels in aluminium.

Soos met die nuwe modelle wat Audi die afgelope tyd bekendgestel het, is die S4 quattro beskikbaar met Audi se opsionele Virtual Cockpit, met ‘n uitleespaneel in die middel van die instrumentepaneel. Daar is drie verskillende panele beskikbaar afhangende van die bestuurder se behoeftes, onder meer ‘n Sport-paneel waarin die toereteller die grootste vertoon word.

Die uitleespaneel vir die opsionele navigasiestelsel kom in die middel van die instrumentepaneel voor. Die MMI-beheerpaneel in die middelkonsole, waarmee die inligting-en-vermaakstelsel beheer word, is ook nuut en werk op dieselfde beginsel as ‘n slimfoon. Daar is ook stembeheer wat eenvoudige opdragte kan verstaan. Nog ‘n opsionele ekstra is ‘n uitleespaneel tussen die voorruit en die instrumentepaneel wat belangrike simbole en syfers aandui.

Die opsionele S-sportsitplekke het geïntegreerde kopstutte en ‘n verstelbare lendesteun; dit is beskikbaar in swart, grys of rooi met kontrasterende stikwerk en die S-kenteken.

Onder die enjinkap van die nuwe S4 is ‘n turbo-aangejaagde V6-enjin wat 260 Kw en ‘n wringkrag van 500 Nm tussen 1 370 en 4 500 opm lewer.

Die S4 versnel in 4,7 sekondes van 0 tot 100 km/h en sy topsnelheid word elektronies tot 250 km/h beperk. Die gemiddelde brandstofverbruik is 7,3 liter per 100 km.

Die S4 het ‘n 8-gang Tiptronic..

Die S4 quattro is toegerus met verskeie veiligheidskenmerke soos aanpasbare spoedbeheer wat selfs in verkeersknope ‘n konstante snelheid handhaaf, asook ‘n stelsel wat jou waarsku as daar ‘n motor of ander verkeer agter die voertuig is. Daar is ook ‘n unieke kenmerk in hierdie klas; ‘n stelsel wat die bestuurder in sekere situasies in staat strel om brandstof te bespaar.

Onder die kenmerke wat standaardtoerusting is, is outomatiese lugversorging, spoedbeheer, sportiewe allooiwiele van 19 duim, elektriese spieëls, ISOFIX-hegpunte, sportvering, LED-kopligte en ‘n banddrukmonitor.

Die S4 quattro se prys is R 809 000 en dit sluit ‘n Audi Freeway-onderhoudsplan van vyf jaar of 100 000 km in.

%d bloggers like this: