Breaking News

Audi stel sy vierde A3 bekend

Die vierde geslag van Audi se gewilde A3-reeks is pas in Suid-Afrika bekendgestel, en soos met die vorige geslag sal die reeks weer as ‘n sedan en ‘n Sportback beskikbaar wees.

Die A3 was die afgelope twee dekades ‘n uiters gewilde reeks in Suid-Afrika en meer as 63 000 eenhede is al sedert sy aanvanklike bekendstelling in 2000 hier verkoop. Die sedan is in 2014 as bykomende model in Suid-Afrika bekendgestel, en sedertdien het die markaandeel vir sedans in hierdie marksegment aansienlik gegroei.

Die reeks sal weer in A3- en S3 quattro-weergawes beskikbaar wees, en die A3-modelle bied ‘n keuse van drie spesifikasievlakke. Die standaard-model beskik oor kenmerke soos 16 duim-allooiwiele en swart afwerking rondom die sierrooster en luguitlate. Die Advanced-model se allooiwiele is 17 duim groot en die detail rondom die sierrooster en allooiwiele is in chroom afgewerk. Die S-line spg met meer sportiewe stampers, sportvering, verligte skermplate aan die binnekant van die deure met die S-embleem en ‘n drukvlerk op die Sportback se agterklap. Die S3 se sierrooster is groter en meer sportief afgewerk , en agter is daar vier uitlaatpype, twee aan die linkerkant en twee regs.  Verder bied die S3 allooiwiele van 19 duim, rooi remknypers en stampers wat spesifiek vir hierdie model ontwerp is. Matriks-kopligte is opsioneel beskikbaar; dit beskik oor ligdiode-segmente met ‘n unieke ontwerp wat die A3 onmiddellik onderskei. Die sedan en die Sportback word toegerus met ligdiode-agterligte met dinamiese rigtingwysers.

In vergelyking met sy voorganger is die nuwe A3 effens langer; die Sportback is drie cm langer as voorheen  en die bagasieruim kan tussen 380 en 1 200 liter hou.  Die sedan is 15 cm langer as die Sportback maar verder is sy afmetings dieselfde. Die sedan se bagasiebak hou 425 liter, presies dieselfde as sy voorganger. Die groot lugverdeler maak dat die sedan ‘n  sleurkoëffisiënt 0,25 behaal.

Aan die binnekant is daar verskeie nuwe kenmerke wat op die bestuurder gerig is. Daar is kenmerke wat ook in Audi se groter modelle te sien is, en die 10,1 duim raakskerm kan volgens die bestuurder se behoeftes aangepas word. Hierdie skerm is by die voorpaneel geïntegreer. Benewens die raakskerm kan gebruikers die motor se inligting-en-vermaakstelsel deur middel van stempodragte beheer. Die instrumentepaneel, wat deur die veelfunksie-stuurwiel beheer word, is digitaal, en voornemende kopers kan die Audi Virtual Cockpit teen bykomende koste bestel. Dit bevat onder meer ‘n groot uitleespaneel vir die navigasiestelsel in die instrumentepaneel. Dié virtuele stuurkajuit, wat aan dié van ‘n vliegtuig herinner, is 12,3 duim groot, en bied drie verskillende verstellings. Die MMI-beheerkonsep van die inligting-en-vermaakstelsel werk heelwat vinniger as voorheen en verrig alle take rondom verbinding van die telefoon en die internet, onder meer Audi Connect.  Daar word voorsiening gemaak vir altesaam ses verskillende profiele vir die instelling van onder meer die klimaatbeheer, asook gereelde bestemmings vir die navigasiestelsel indien dit gespesifiseer word en radfiostasies waarna die verskillende gebruikers gereeld luister. Die gebruiker kan sy of haar slimfoon deur middel van Android Auto of Apple Car Play Koppel en ‘n koordlose selfoonlaaier is standaard toerusting. 

Twee enjin-keuses is vir die A3 beskikbaar en een vir die S3. Die intreemodel van die A3-reeks is die 35 TFSI, wat aangedryf word deur ‘n turbo-aangejaagde 1,4 liter enjin wat 110 kW teen 5 000 opm en wringkrag van 250 Nm teen 1 500 opm  lewer en aan  ‘n Tiptronic-ratkas met agt gange gekoppel word. Die 40 TFSI se  tweeliter-turbopetrol enjin sal eers van November vanjaar af beskikbaar wees; hierdie enjin lewer 140 kW teen 4 200 opm en wringkrag van 320 teen 1 500 opm en  word aan ‘n S Tronic-ratkas met sewe gange gekoppel. Die S 3 quattro se tweeliter enjin lewer 213 kW teen 5 500 opm  en 400 Nm se wringkrag teen 2 000 opm  en weer eens is die S Tronic-ratkas standaard toerusting. Die reeks word toegerus met ‘n baie korter ratkieser as tevore, ongeag watter ratkas gebruik word. 

Verskillende opsiepakkette is vir die A3 beskikbaar, en bevat opsionele ekstras wat gewoonlik saam bestel word om die voornemende koper beter waarde vir geld te bied. Die Upgrade-pakket bestaan uit ligdiode-kopligte, outomatiese dubbelsone-klimaatbeheer, agterste parkeerhulp en ‘n truspieël wat outomaties domp. Die Technologie-pakket bestaan uit die Virtual Cockpit Plus, MMI Navigation Plus, die Audi Connect-navigasie- en verbindingstelsel en agterste USB-kragpunte. Die Sports-pakket bestaan uit swart buitespieëls, sportvering en 18 duim-allooiwiele. Aan die binnekant is ‘n S Line-pakket beskikbaar. Dit bestaan uit ‘n middelste armleuning, S-embleme op verskeie plekke, swart afwerking vir die dak, pedale in vlekvrye staal, sportsitplekke en dekoratiewe insetsels in donker aluminium.

Die pryse van die verskillende modelle lyk só:


A3 35 TSFI Sportback: R 561 000

A3 35 TFSI Sportback Advanced: R 586 000

A 3 35 TFSI Sportback S-Line: R 601 000

A3 40 TFSI Sportback S-Line: R 641 000

S3 quattro Sportback: R 795 000

A 3 35 TFSI sedan: R 576 000

A3 35 TFSI sedan Advanced: R 601 000

A3 35 TFSI sedan S-Line: R 616 000

A 3 40 TFSI S-Line: R 656 000

S3 quattro sedan: R 810 000

Die reeks word gerugsteun deur ‘n volle onderhoudsplan van vyf jaar of 100 000 km, wat teen ekstra koste tot altesaam tien jaar of 300 000 km verleng kan word.

%d bloggers like this: