Deur

Neels Rabe

Terugblik op die naweek van 24 en 25 Augustus Kevin wen met Audi in Japan.

Toyota Gazoo Racing se Guy Botterill en navigator Simon Vacy-Lyle wen die Zane Rencken-tydren in KwaZulu-Natal

Motorsportnuus week 35

Baie geluk aan ons Suid-Afrikaners wat die naweek van 24 en 25 Augustus, Suid-Afrika se naam hoog gehou het op die renbane van die wêreld. Kelvin Van Der Linde, saam met spanmaats Dries Vanthoor en Frederic Vervisch, het die Suzuka 10-uur uithouwedren in hul Audi R8, ‘n ronde van die interkontinentale GT uitdaagreeks, gewen.

Kelvin van der Linde.

Brad Binder is weereens op die podium met ‘n derde plek in die Britse Moto2 GP, sy vierde podium in die afgelope vyf byeenkomste!

MotoGP

Die Britse MotoGP Grand Prix is weereens ‘n naelbyt-stryd tussen die wêreld se beste motorfietsjaers. Valentino Rossi kwalifiseer in ‘n uitstekende tweede posisie op sy Yamaha, en sy duisende ondersteuners hoop dat hy uiteindelik weer ‘n slag op die podium sal verskyn. Ongelukkig sukkel hy in die wedren, en eindig slegs vierde. Aan die voorpunt is daar drama in die eerste draai toe die Suzuki van Alex Rins erg gly. Fabio Quartararo is kort op sy hakke en val toe hy Rins probeer vermy. Arme Andrea Dovizioso word die onskuldige slagoffer toe sy Ducati bo-oor die glyende Yamaha tuimel.

Vir Rins word dit ‘n wedren om te onthou toe hy Marquez aan die voorpunt inhaal, en selfs verbysteek. Marquez slaag egter daarin om sy Honda oombliklik weer voor die Suzuki in te druk. Op die laaste draai van die laaste ronde is dit egter Rins wat op verstommende wyse aan die binnekant van Marquez verby glip deur skerper te draai. Hy wen die wêreldkampioen met 0.013 sekondes. Natuurlik het Rins en Suzuki se ekstase geen einde geken nie. In die vorige Grand Prix was dit Ducati en Andrea Dovizioso wat op soortgelyke wyse vir Marquez gewen het. Alhoewel teleurgesteld oor sy tweede plek, vergroot Marquez egter sy voorspring in die kampioenskap na 78 punte. Derde is die Yamaha van Maverick Viñales.

Wêreldtydrenne

Toyota beleef ‘n droom Duitse tydren deur die podium te oorheers. Ott Tanak wen sy 5de tydren van die seisoen, en vergroot sy voorsprong in die kampioenskap na 33 punte. Spanmaats Kris Meeke en Jari-Matti Latvala eindig tweede en derde. Tweede in die wêreldkampioenskap is steeds Hyundai se Thierry Neuville.

Nasionale tydrenne

Toyota Gazoo Racing se Guy Botterill en navigator Simon Vacy-Lyle wen die Zane Rencken-tydren in KwaZulu-Natal. Daardeur beklink hulle die 2019 tydrenkampioenskap, hul derde agtereenvolgende nasionale titel.  Tweede plek behoort aan Jono van Wyk en Barry White in hul Ford Fiesta. Chris Coertse en Greg Godrich eindig derde in hul Mazda 2.

%d bloggers like this: