Die derde geslag van Audi se TT-reeks is pas opgeknap met ‘n meer aggressiewe voorkoms, kragtiger enjins en meer standaardkenmerke as voorheen.

Die nuwe reeks bou voort op die eienskappe wat van die TT ‘n motor vir die geesdriftige maak, onder meer ‘n baie kort rathefboom met ‘n balvormige knop, ‘n petrolvuldop wat aan dié van ‘n renmotor herinner, asook sportiewe allooiwiele en dubbele uitlaatpype.

Die buiteontwerp van die nuwe TT is meer sportief as in die verlede, met ‘n drie-dimensionele sierrooster en groter luguitlate aan die kante, wat die motor se wydte beklemtoon.

Een nuwe kenmerk aan die kant van die motor wat by geesdriftiges byval sal vind, is die nuwe brandstrofvuldop sonder ‘n klap; soos met ‘n renmotor word die branstofpomp se pyp direk by die vuldop ingedruk.​

Een nuwe kenmerk aan die kant van die motor wat by geesdriftiges byval sal vind, is die nuwe brandstrofvuldop sonder ‘n klap; soos met ‘n renmotor word die branstofpomp se pyp direk by die vuldop ingedruk.

Kopligte met ligsiode-tegnologie is standaardtoerusting, maar Matrix LED-ligte is opsioneel beskikbaar en dinamiese rigtingwysers is ‘n uitstaande kenmerk van die hele reeks. Daar is ‘n nuwe opsionele S Line-pakket beskikbaar; dit bestaan uit ‘n vollengte lugverdeler aan die voorkant, vertikale luguitlate, ‘n titaniumswart sierrooster, spesifieke kantskorte en ‘n groter agterste lugverdeler met vertikale luguitlate onder die agterligte. Daar is nuwe skakerings van oranje en blou vir die hele reeks beskikbaar, terwyl ‘n nuwer kleur, bekend as Turbo Blue, net vir die TTS beskikbaar is. Daar is vyf verskillende 19 duim- allooiwielontwerpe om van te kies.

Die TT se sportiewe karakter word ook aan die binnekant weerspieël. Die instrumentepaneel herinner aan ‘n vliegtuig se vlerk en die ronde luguitlate vir die ventilasiestelsel is vir die nuwe reeks behou. Sportsitplekke met geïntegreerde kopstutte is standaardtoerusting vir al die modelle, en S-sportisitplekke verstelbare kantkussings is teen ekstra koste beskikbaar. Audi se Virtual Cockpit, wat aan ‘n vliegtuig se stuurkajuit herinner, is standaardtoerusting. Dit bevat twee verstellings; die klassieke verstelling vertoon die spoedmeter en toereteller terwyl die navigasiestelsel groter vertoon word wanneer die “infotainment”-verstelling gekies word. Die MMI-stelsel wat die inligting-en-vermaakstelsel en die navigasiestelsel insluit, bevat net ses sleutels op die middelkonsole. Daar is ‘n draaiknop wat die stelsel beheer; dit kan ook handgeskrewe insette herken en met stembeheer werk. Die bestuurder kan natuurlik ook sy of haar slimfoon aan die stelsel koppel. Die bestuurstaak word verder vergemaklik deur parkeersensors, baanhouhulp, baandwaalwaarskuwing en ‘n trukamera.

Die TT  45 T FSI word aangedryf deur ‘n 2 liter turbo-aangejaagde viersilinderenjin wat 169 kW tussen  4 500 en 6 200 opm opwek en ‘n wringkrag van 370 Nm  tussen 1 600 en 4 300 opm lewer. Hierdie enjin word aan ‘n dubbelkoppelaar-ratkas met sewe gange gekoppel. Hierdie model kan in ses sekondes van 0 tot 100 km/u versnel  en ‘n topsnelheid van 250 km/u behaal. Die TTS se weergawe van hierdie enjin lewer 228 kW teen tussen 5 800 en 6 200 opm en wringkrag van 380 Nm teen tussen 1 800 en 5 700 opm. Audi se S-tronic sesgangratkas met kort ratverhoudings wat ‘n versnellingstyd van 4,9 sekondes van 0 tot 100 km/u moontlik maak, is standaardtoerusting.  Die TTS se topsnelheid word elektronies tot 250 km/u beperk.

Die pryse van die nuwe modelle is R 670 000 vir die TT 45 T FSI S-Tronic en R 782 000 vir die TTS. Hierdie pryse sluit Audi se Freeway-onderhoudsplan van vyf jaar of 100 000 km in.

 

%d bloggers like this: