Aytron‌ ‌Senna‌ ‌(1960-1994)‌

0 Comments

Op 1 Mei 1994 het die motorsport wêreld een van sy legendes verloor toe Ayrton Senna in ‘n ongeluk tydens die San Marino Grand Prix dood is.

Aytron Senna da Silva is op 21 Maart 1960 in die Brasiliaanse stad Sao Paulo gebore en het in 1981 aan enkelsitplek-wedrenne in Engeland begin deelneem.  Hy was van plan om na Brasilië terug te keer maar toe kry hy die geleentheid om vir ‘n Formule Ford 2000-span deel te neem. Aangesien Da Silva ‘n uiters gewilde van in Brasilië is, het hy besluit om sy ma se nooiensvan, Senna, te gebruik.

In 1983 het hy die kans gehad om vir vier Formule 1-spanne te toets, naamlik Williams, Mc Laren, Brabham en Toleman. Williams en Mc Laren het nie vakatures vir 1984 gehad nie, en hoewel Senna die Brabham-span beïndruk het, het die span se borg, Parmalat, op ‘n Italiaanse renjaer aangedring met die gevolg dat die broers Teo en Corrado Fabi as Nelson Piquet se spanmaats gekies is en beurte sou maak om deel te neem. Toleman het hom egter wel ‘n kontrak vir 1984 aangebied, en die voormalige motorfietsjaer Johnny Cecotto van Venezuela was sy spanmaat. Hy het sy debuut tydens die Brasiliaanse Grand Prix van 1984 gemaak en sy eerste punt tydens die Suid-Afrikaanse Grand Prix aangeteken. Met die Monaco Grand Prix het Senna se talent vir die eerste keer duidelik geword. Die wedren was sopnat en hoewel hy in die dertiende plek weggespring het, het hy die tweede plek in die 19de rondte ingeneem.  Hy het die voorloper, Alain Prost, begin inhaal, maar dit het al hoe harder begin reën en die wedren is om veiligheidsredes in die 31ste rondte gestaak. Daar was later ongelukkigheid hieroor, aangesien Senna dalk sou wen as die wedren langer aangehou het. Die feit dat slegs halwe punte vir hierdie wedren toegeken is, het op die ou einde die uitslag van die kampioenskap bepaal. Hy het derde in Brittanje en Portugal gekom maar is verhinder om aan die Italiaanse Grand Prix deel te neem omdat hy ‘n kontrak met Lotus onderteken het sonder om Toleman daarvan te vertel.

Senna se spanmaat vir Lotus in 1985 was Elio de Angelis van Italië.  Die tweede wedren van die jaar het in Portugal plaasgevind en hier het Senna vir die eerste keer voor weggespring.  Weer eens was dit sopnat en Senna het nie net sy eerste oorwinning behaal nie maar ook die vinnigste rondte van die wedren aangeteken. Hy het in Nederland en Italië op die podium geëindig voordat hy sy tweede oorwinning in België behaal het. Sy verhouding met De Angelis het agteruitgegaan omdat albei aanspraak op leierskap van die span gemaak het, en teen die einde vasn die jaar het De Angelis hom by Brabham aangesluit. Senna het Lotus se planne om Derek Warwick sy spanmaat te maak, gekelder deur te sê dat die span nie mededingende motors vir albei renjaers kon verseker nie. Hy wou sy landgenoot Mauricio Gugelmin as spanmaat hê, maar die span se borg het op ‘n Britse jaer aangedring en Johnny Dumfries het sy spanmaat geword. Sy oorwinning oor Nigel Mansell in die Spaanse Grand Prix met 0,014 sekondes was nie net een van die kleinste oorwinnings tot nog toe nie, dit het ook die uitslag van die kampioenskap daardie jaar bepaal. Die motor se betroubaarheid in die tweede helfte van die seisoen was die rede hoekom hy nie met die twee Williams renjaers, Nigel Mansell en Nelson Piquet, of Alain Prost se Mc Laren kon meeding nie. Hy het wel die Detroit Grand Prix gewen. Vir 1987 het Lotus ‘n nuwe borg gekry; Camel het die plek van John Player Special ingeneem en Honda het die enjins verskaf. Sy nuwe spanmaat was Satoru Nakajima van Japan. Senna het die Monaco Grand Prix vir die eerste keer in sy loopbaan gewen en dit met ‘n tweede agtereen-volgende oorwinning op die straat-baan in Detroit opgevolg. Hoewel hy nie eintlik verdere sukses behaal het nie, het hy ‘n noue verhouding met Honda opgebou; dit sou die keerpunt in sy loopbaan wees.

Vir 1988 het Senna hom by die destyds tweemalige wêreld kampioen Alain Prost by Mc Laren  aangesluit. Die grondslag is hiermee gelê vir een van die mees omstrede tweestryde in die geskiedenis van motorsport.  Die kampioenskap het destyds uit sestien wedrenne bestaan en Mc Laren het vyftien gewen; Senna agt en Prost sewe.  Die een wedren wat Mc Laren nie kon wen nie, was die Italiaanse Grand Prix.  Nigel Mansell was ongesteld en Jean-Louis Schlesser  het sy plek n die Williams-span vir hierdie wedren ingeneem.  Senna en Schlesser was in ‘n ongeluk betrokke wat gemaak het dat Senna uitgeval het en Ferrari eerste en tweede geëindig het. Hoewel Prost meer punte aangeteken het, is die reëls bepaal dat elke renjaer se elf beste uitslae die kampioen sou bepaal. Senna is as kampioen gekroon, maar dit was toe al duidelik dat daar geen liefde tussen hulle was nie. Senna se agt oorwinnings was ‘n nuwe rekord; een meer as die vorige rekordgetal wat Jim Clark in 1963 en Alain Prost in 1984 aangeteken het.

Prost en Senna sou in 1989 by Mc Laren bly, maar die vyandskap tussen hulle het net vergerger. Senna het , na sy oorwinnings in San Marino, Mexiko en Monaco, vroeg voorgeloop, maar nadat hy ook in Duitsland , België en Spanje gewen het, kon hy ‘n aantal wedrenne nie voltooi nie en Prost het hom verbygesteek. Senna se enigste kans om nog die titel in 1989 te wen, was om die Japanse Grand Prix te wen. Hy en Prost het gebots, en hoewel hy met die wedren kon voortgaan en eerste oor die wenstreep gejaag het, is hy gediskwalifiseer omdat hy hulp van buite gekry het om sy motor aan die gang te kry. Die Italiaanse renjaer Alessandro Nannini van Benetton is as die wenner aangewys. Senna het die skuld vir sy diskwalifikasie op die destydse Formule 1-grootbaas en Prost se landgenoot Jean-Marie Balestre gepak.

Prost het Mc Laren vir 1990 verlaat en by Ferrari aangesluit terwyl die voormalige Ferrari-renjaer Gerhard Berger na Mc Laren oorgegaan het. Senna het vroeg ‘n voorsprong in die kampioenskap opgebou met ses oorwinnings , twee tweede plekke en drie derde plekke.  Tydens die laaste deel van die seisoen het Prost egter vyf keer gewen, met die gevolg dat hulle weer om die kampioenskap geveg het. Tydens die voorlaaste wedren van die jaar in Japan het die geskiedenis van die vorige jaar hom herhaal.  Senna het voor weggespring maar hy was aan die “vuil kant” van die wegspring-rooster en Prost aan die “skoon kant”, met die gevolg dat Prost bevoordeel sou word. Net voordat hulle om die eerste draai sou jaar, het Senna, wat nie  punte nodig gehad het om die kampioenskap te wen nie, in Prost vasgejaag en die titel in sy guns beklink.  Met die laaste wedren van die jaar in Australië het  die driemalige kampioen Jackie Stewart ‘n onderhoud met Senna gevoer en hom uitgevra oor die botsings waarby  hy en Prost betrokke was. Senna was geïrriteerd en het gewonder hoe ‘n voormalige kampioen soos Stewart sulke vrae kon stel aangesien hy self bewus was van die drukm waaronder renjaers verkeer.  “As jy ‘n renjaer is, beteken dit jy ding mee teen ander jaers en as jy nie meer ‘n gaping wat bestaan, vat nie, is jy nie meer ‘n renjaer nie”, was Senna se antwoord. Prost het Senna se optrede as walglik bestempel en gedreig om uit te tree.

In 1991 het Senna en Berger by Mc Laren gebly, maar Ferrari het só agteruitgegaan dat Prost geen bedreiging was nie. Prost het, om die waarheid te sê, nie die seisoen voltooi nie omdat hy gesê het die motor het “soos ‘n vragmotor” gevoel en Ferrari het hom summier afgedank. Nigel Mansell, wat na die Williams-span teruggekeer het, was egter Senna se grootste teenstander. Notgans het Senna sewe wedrenne gewen en die sestigste voorste wegspringplek van sy loppbaan aangeteken.  Tydens die Japanse Grand Prix, wat Mansell moes wen om die titel te wen, het Senna vir Gerhard Berger, wat toe nog sy spanmaat  e nook ‘n goeie vriend was, laat verbygaan om te wen, om hom te bedank vir sy ondersteuning gedurende die seisoen. Senna het die jongste driemalige wêreld kampioen geword.

Die 1992-seisoen was ‘n antiklimaks vir Mc Laren omdat die Williams FW 14 B, met Nigel Mansell en Riccardo Patrese as renjaers, só oorheers het dat Mansell die kampioenskap tydens die Hongaarse Grand Prix in Augustus daardie jaar gewen het.  Nogtans het Senna in Monaco, Hongarye en Italië gewen.  Gedurende die kwalifiserende rondtes vir die Belgiese Grand Prix het die Franse jaer Erik Comas in ‘n ernstige ongeluk betrokke geraak. Senna het Comas gehelp om uit die motor te kom nadat hy die eerste jaer op die toneel was.  Hy het sy eie veiligheid minder belangrik as dié van Comas geag. Senna was vierde in die kampioenskap, na Mansell, Patrese en die Benetton-jaer Michael Schumacher.

Nadat Prost in 1992 weg was van Formule 1 af, het hy vir 1993 by Williams aangesluit. Senna wou deel van daardie span wees nadat Mansell aan Indycar gaan deelneem het en Patrese hom by Benetton aangesluit het. Prost het besluit dat hy nie vir Senna as spanmaat wou hê nie en daarom het Senna by Mc Laren gebly. Ford was Mc Laren se enjin-verskaffer, maar hul motor was minder kragtig as die Benetton wat dieselfde enjin-verskaffer gebruik het. Senna se spanmaat was Michael Andretti, wie se pa Mario die 1978-wêreld kampioenskap vir Lotus gewen het.  Andretti is later deur die Finse jaer Mika Hakkinen vervang.  Senna het sy tuiswedren gewen, maar die een oorwinning wat seker as die heel beste van sy loopbaan beskou word, is die een wat hy tydens die Europese Grand Prix op die Donington Park-renbaan in Engeland behaal het. Hy het in die eerste rondte van die vyfde na die eerste plek in gietende reën beweeg en die wedren gewen. Tydens die voorlaaste wedren het hy en die Jordan-span se jong Ierse jaer Eddie Irvine in ‘n woorde-wisseling  betrokke geraak wat in ‘n vuisgeveg ontaard het. Die organiseerders het Senna baie amper vir die eerste twee wedrenne van 1994 geskors. Senna het die laaste wedren van die jaar in Australië gewen nadat Frank Williams aangekondig het dat hy ‘n kontrak onderteken het om in 1994 vir Williams te jaag. Niemand het geweet dat sy oorwinning in Australië die laaste een van sy loopbaan sou wees nie.

Senna se spanmaat vir 1994 was Damon Hill, die seun van die tweemalige wêreld kampioen Graham Hill. Aangesien die verdedigende kampioen, Prost, uitgetree het, het niemand met die nr. 1 gejaag nie; Hill se motor was nr. 0 en Senna nr. 2.  Williams het ook ‘n nuwe borg vir 1994 gekry; Rothmans was die nuwe hoofborg. Senna was nie gelukkig met die hantering van die nuwe Williams FW 16 nie. Die reëls het die gebruik van aktriewe vering, sluitweer-remme, wegtrekbeheer  en vastrapbeheer verbied. Senna het voor weggespring tydens sy tuiswedren maar in die 56ste ronde uitgeval. Met die eerste Pasifiese Grand Prix was hy weer in die voorste wegspringplek maar weer eens kon hy nie wedren voltooi nie. Dit was die vrotste begin wat Senna ooit gehad het; na twee wedrenne kon hy nog geen punte aanteken nie terwyl Schumacher albei wedrenne gewen het.

Die San Marino Grand Prix van 1994 sal altyd om die verkeerde redes onthou word. Tydens die Vrydag se oefenrondtes het Senna se landgenoot Rubens Barrichello ‘n lelike ongeluk in die Variante Bassa-draai oorleef, maar die ergste het nog voorgelê. Tydens die kwalifiserende rondtes die volgende dag is die Oostenrykse jaer Roland Rantzenberger noodlottig beseer toe sy Simtek se voorste vlerk gebreek het en tromp-op in ‘n betonmuur vasgejaag het. Hoewel Senna nie ‘n tyd opgestel het nadat Rantzenberger verongeluk het nie, het hy voor weggespring. Vroeg in die wedren was daar ‘n ongeluk waartydens J J Letho van Finland en Pedro Lamy van Portugal betrokke was; dit het beteken dat die veiligheids motor gebruik moes word. Die veiligheids motor was ‘n Opel Vectra, wat as heeltemal ongeskik vir hierdie rol beskou is. Dit het vyf rondtes gfeduur voordat die wrakstukke verwyder is en twee rondtes nadat die wedren weer kon begin, het Senna se motor op die Tamburello-draai in ‘n muur vasgejaag. Die wedren is gestaak en die res van die jaers het ‘n halfuur later weer weggespring. Twee ure nadat Michael Schumacher die wedren gewen het, is Senna se dood aangekondig.  Die amptelike tyd van sy dood het daaropm gedui dat hy op slag dood is. Dit was die eerste noodlottige ongeluk in ‘n Formule 1-wedren sedert Ricardo Paletti tydens die Kanadese Grand Prix van 1982 verongeluk het.  Op 5 Mei is ‘n staats-begrafnis vir hom gehou en Alain Prost was een van die draers van sy kis.

Senna se rekord spreek vanself: hy het in ‘n tydperk van tien jaar aan 161 wedrenne deelgeneem, waarvan hy 41 gewen het en 65 voorste wegspring-plekke aangeteken het.  Hy was sonder twyfel een van die suksesvolste renjaers in die geskiedenis van motorsport.

Categories:
%d bloggers like this: