Deur Daantjie Badenhorst.

 

BAIC het aangekondig dat hy sy plaaslike model-reeks in 2020 gaan uitbrei met die toevoeging van die BAIC BJ 40 Plus.

Die BJ 40 Plus is ‘n ware sportnuts-voertuig met ‘n vierwiel-aandrywing-stelsel met ‘n laestrek-funksie wat elektronies gekies kan word, ‘n agterste ewenaarslot, voorste kronkelvere met ‘n dubbele wensbeen asook ‘n starre agteras met vyf skakels om die beste moontlike gerief en veldry-vermoë te verseker. Die BJ 40 Plus se grondvry-hoogte is 220 mm.

Daar sal ‘n keuse van ‘n turbo-aangejaagde petrol- of diesel enjin van twee liter wees, gekoppel aan ‘n vyfgang-handratkas of ‘n outomatiese ratkas met ses gange. 

Die vier-deur bakwerk spog met uitstaande kenmerke soos breë modder-skerms, ‘n noodwiel wat op die agterklap gemonteer is, sleep-hakke wat rooi geverf is en 17-duim allooi-wiele met bande wat vir alle terreine geskik is. 

Die tegnologie aan die binnekant kan met dié van veel duurder sportnuts-voertuie vergelyk word; daar is ‘n raakskerm van tien dui men ‘n ten volle digitale instrumente-paneel van 12,3 duim met drie verstellings na gelang van die bestuurder se behoeftes, naamlik, Classic, Sport en Trek.

Die feit dat Suid-Afrika die eerste land ter wêreld sal wees waar die regterhand-stuurweergawe van die BJ 40 Plus bekendgestel sal word, is ‘n bewys van hoe belangrik hierdié mark vir die maatskappy is. BAIC is ook die enigste vervaardiger wat ‘n aanlegfabriek in Suid-Afrika het.

Verdere besonderhede, soos die samestelling van die reeks en tegniese spesifikasies, sal bekendgemaak word wanneer die BJ 40 Plus in 2020 hier bekendgestel word.

%d bloggers like this: