Dear Daantjie Badenhorst.

 

Nadat BAIC in 2017 tot die Suid-Afrikaanse mark toegetree het, het dié Chinese vervaardiger tydens die pas afgelope SA Festival of Motoring aangekondig dat produksie by sy vervaardigings-aanleg naby Port Elizabeth in aanvang geneem het.

Dit is die grootste belegging deur ‘n motor-maatskappy in Suid-Afrika in meer as veertig jaar en sal die Suid-Afrikaanse ekonomie ‘n groot hupstoot gee. Die adjunk algemene bestuurder van die BAIC Automobile-groep, mnr. Ye Zhengmao, het aan die media gesê dat BAIC hoë verwagtige aan Suid-Afrika het en dat BAIC beoog om ‘n omvattende nywerheidskompleks te vestig. Dit sal voertuig-navorsing en -ontwikkeling, vervaardiging, voertuig-finansiering, die verhuring van voertuigvlote en verkope van gebruikte voertuie behels. Dit alles sal werksgeleenthede skep, tesame met belegging en ontwikkeling. Daarby sal onderdele en tegniese dienste betyds by handelaars en plaaslike pakhuise beskikbaar wees. Die handelaarsnetwerk sal voor die einde van die jaar aansienlik vergroot word en mettertyd sal die motors in linker- en regterhandstuur vervaardig word.

Die BAIC-reeks bestaan tans uit die D 20 en die X 25. Die D 20 is die intreevlak-modelreeks en bestaan uit die 1,3 en 1,5 Comfort-luikrug, die 1,5 Fashion-luikrug, met die keuse van ‘n hand- of outomatiese ratkas en die 1,5 Fashion-sedan, wat net met ‘n outomatiese ratkas beskikbaar is. Die handratkas beskik oor vyf gange en die outomatiese een vier. Die 1,3 se enjin lewer 75 kW teen 6 000 opm en wringkrag van 128 Nm teen 3 800 opm; die syfers van die 1,5 is onderskeidelik  85 kW teen 6 000 opm en 148 Nm teen 3 800 opm . Die Comfort-modelle beskik oor standaard kenmerke soos ABS-remme met elektroniese remverspreiding, twee lugsakke en twee ISOFIX-ankerpunte vir die agterste sitplekke, asook elektriese vensters voor en agter, lugversorging, ‘n radio en CD-speler met vier luidsprekers , ‘n ritrekenaar en sentrale sluiting met afstandbeheer. Die Fashion-modelle voeg die volgende kenmerke by: ‘n elektriese sondak, 14-duim allooiwiele pleks van die Comfort se staalwiele met wieldoppe, ‘n veelfunksiestuurwiel, outomatiese kopligte en ruitveërs en ses luidsprekers. 

Die X 25 is effens groter, en kan as ‘n oorkruis-voertuig beskou word. Die reeks bestaan uit die 1,5 Comfort en Fashion, elk met die keuse van ‘n hand- of outomatiese ratkas. Die Comfort het kenmerke soos ABS-remme met elektroniese remverspreiding, twee lugsakke, sentrale sluiting met afstandbeheer en ‘n voertuig-opsporingstelsel, elektriese buitespieëls, ‘n inligting-en-vermaakstelsel; met Bluetooth-verbinding en ‘n USB-kragpunt, ‘n veelfunksie-stuurwiel, 16-duim allooiwiele en ‘n ritekenaar. Die Fashion word ook met ‘n trukamera, verhitbare buitespieëls, sonskerms met spieëls, spoedbeheer, ‘n elektriese sondak  en voorste sitplekke met ses verstellings pleks van vier toegerus.

Die pryse van die BAIC-reeks is as volg:

D 20 1,3 Comfort: R 149 900

D 20 1,5 Comfort: R 169 900
D 20 1,5 Fashion: R 179 900
D 20 1,5 Fashion outomaties: R 189 900
D 20 1,5 Fashin sedan outomaties: R 209 900

X 25 1,5 Comfort: R 219 900

X 25 1,5 Comfort outomaties: R 239 900
X 25 1,5 Fashion: R 229 900
X 25 Fashion outomaties: R 249 900

Die hele reeks word gerugsteun deur ‘n waarborg van vyf jaar of 120 000 km, met diens-tussenposes van 10 000 km. Die eerste gratis versiening word egter uitgevoer wanneer die voertuig 3 000 km afgelê het en ‘n diensplan is opsioneel vir die hele reeks beskikbaar.

%d bloggers like this: