Deur Daantjie Badenhorst.

 

Die Suid-Afrikaner, Basil Green, wat die Perana-neem op die wêreldkaart gesit het, is sopas tydens die onlangse Concours South Africa-geleentheid wat by Steyn City gehou is, vereer deurdat sy gegewens in die Steyn City se Suid-Afrikaanse heldesaal opgeneem is. Die 82-jarige Green is vereer vir sy jarelange bydrae tot motorsport en die Suid-Afrikaanse motorbedryf in die geheel.

In 1967 het Suid-Afrikaanse motorliefhebbers vir die eerste keer van die Perana-naam kennis geneem toe ‘n V6-weergawe van die destydse nuwe Ford Cortina Merk 2 met hierdie naam bekendgestel is. Gou was die naam Perana in dieselfde asem genoem as John Cooper, wat die Mini’s daardie kraginspuiting gegee het en die koning van alle hoë werkverrigting motors, Carroll Shelby, wat die AC Cobras en Mustangs met ‘n dieper stem laat brul het.

Dié naam “Perana” is afgelei van die pirana-vis van Suid-Amerika, maar die spelling is verander. 

Tesame met die produksiemodelle wat hy ontwikkel het, was die prestasie van die Perana-modelle in motorsport uitsonderlik, en die Capri Perana, wat meer as een kampioenskap gewen het, sal veral onthou word.  Hill het Green namens die Ford-motor maatskappy van Suid-Afrika gelukgewens met sy opname in die heldesaal ; hy beskou Green as ‘n wonderlike ambassadeur vir Ford wat baie gedoen het om die maatskappy se beeld deur die Perana-reeks, deur motorsport en as ‘n Ford-handelaar te bevorder en gehelp om ‘n geesdrif vir Ford, wat tot vandag toe bestaan, te vestig.

Die Capri Perana, met sy kenmerkende oranje Gunston-kleure, het dertien van die veertien wedrenne in die 1970-motorsport-seisoen gewen. Bobby Olthoff was die renjaer, en kon tot 270 km/h op die pylvak van die ou Kyalami-renbaan gehaal. Hierdie motor het die rondterekord vir sedanmotors op elke Suid-Afrikaanse renbaan gehou.  Dié motor het ‘n gemodifiseerder weergawe van die Perana se vyfliter- V8-enjin gebruik, met ‘n hoëverrigting Weber-vergasser vir elke silinder. 

Toe die reëls in 1971 verander het en die meer produksie-georiënteerde Groep 2-formule in werking getree het, het die Perana steeds die reeks oorheers en die titel gewen. Albei die motors wat deelgeneem het, is noukeuring gerestoureer en neem aan uitgesoekte historiese wedren-byeenkomste deel. Die produksiemodel van die Capri Perana was uiters suksesvol en Green en sy span het omtrent 500 gebou. Dit het gou ‘n legende geword en dié wat nog in ‘n oorspronklike toestand is, is wêreldwyd uiters gesog en waardevol.

Toe die Capri in 1969 internasionaal, en in Suid-Afrika bekendgestel is, was daar nog net vier-silinder-modelle beskikbaar, onthou Green. Hy het ‘n paar met V6-enjins gebou en een na Ford toe gestuur vir evaluering. Hulle het soveel daarvan gehou dat hulle hul eie V6-model bekendgestel het. Ford se eie Capri V6 het in 1970 in Suid-Afrika op die mark gekom. Daarna het Green gewonder wat hy nóg met die Capri kon doen; op die ou einde is die liggewig-enjin van die Mustang wat van Windsor Export Supply in die VSA afkomstig was, spesiaal vir Suid-Afrikaanse toestande aangepas. Die Capri se veerstelsel, ratkas, wiele, bande en remme is ook verander. Die bakwerke is in Port Elizabeth vervaardig en na Edenvale verskeep, waar Green en sy span die res van die werk gedoen het. 

Voordat die Capri Perana bekendgestel is, was daar ook ander modelle met hierdie naam. Green het eers uiters gewilde ombouings van hoogstaande gehalte plaaslik verkoop en dit is ook na die Verenigde Koninkryk uitgevoer. Willie Hepburn, nog ‘n Suid-Afrikaanse motorsport-legende, het in die beginjare en die latere Perana-era deel van Green se span uitgemaak.

Die Perana-naam, wat deur Basil se vrou Paddy gekies is, het in 1967 ontstaan. In dieselfde jaar is die Ford Cortina Merk 2 in Suid-Afrika bekendgestel. Die Perana-model het die drieliter V6-enjin uit die Zephyr gebruik en die motor se veerstelsel en remme is verander, terwyl sportiewe 175×13-bande op kenmerkende wiele gebruik is. Hierdie model het verskeie Suid-Afrikaanse kampioenskappe vir produksie-motors gewen. Toe die Cortina Merk 3 bekendgestel is, het Green weer ‘n V6, hierdie keer gebaseer op die 2000 GT, ontwikkel. Dit was die voorlooper van die Cortina Big Six-reeks wat in 1973 bekendgestel is. Die Escort Perana, wat saam met die Cortina bekendgestel is, het die tweeliter-bonokas-enjin van die Cortina 2000 GT gebruik, maar dié model was net in produksie totdat die Cortina Big Six bekendgestel is, aangesien die 2000 GT se enjin aan die Suid-Afrikaanse mark onttrek is.

Toe Green die Granada V8, met dieselfde enjin as die Capri Perana, ontwikkel het, het Ford se internasionale president, Lee Iaccoca, wat onlangs oorlede is, daarvan gehoor. Hy het Green gebel en gesê hy wou ‘n Granada V8 gehad het. Daar is dadelik een na die VSA gestuur en Iacocca se kommentaar was dat die stuurwiel aan die verkeerde kant was. Green het gereël dat ‘n Granada met linkerhand-stuur van Duitsland af na Suid-Afrika gebring wou word. Die ombouing is binne ‘n week afgehandel en die eindproduk is na die VSA gestuur. Iacocca het daarop aangedring dat Green hom op sy naam noem; hy het Green gebel en gesê dat die motor fantasties was en dat daar niks soortgelyks in die VSA beskikbaar was nie.

Toe breek die brandstof krisis van 1973 uit. Green en sy span het soveel motors as moontlik gebou maar skielik is motorsport verbied en die verkoop van motors met hoë verkverrigting moes gestaak word. Hulle het die ombouing van die motors wat hulle in voorrad gehad het, voltooi maar daarna was die onderneming nie meer lewensvatbaar nie. 

Toe tree Iacocca met Ford se besturende direkteur in Suid-Afrika in verbinding en sê dat Green ‘n Ford-handelaar moes word. Die eerste handelaar is in 1974 in sy werkswinkel gestig en sy afsetgebied was Edenvale en Bedfordview.  Daar is ‘n vertoonvenster bygevoeg sodat ‘n mens voor met ‘n motor kon uitry. Sover Green kan onthou, het Ford die volgende jaar die Handelaar van die Jaar-toekenning aan hom oorhandig. Daarna het hy ‘n pragtige vertoon-lokaal in die hoofstraat van Edenvale gebou, en Basil Green Ford was die begin van sy lang en suksesvolle verbintenis met Ford.

In 1983 het Green die Perana-naam laat herleef met die bekendstelling van die Escort Perana, ‘n gemodifiseerde weergawe van die XR 3 wat byna dieselfde versnellingstye en ‘n hoër topsnelheid as die destydse Cortina XR 6 kon behaal. Die laaste Perana-modelle was ombouings van die Sapphire met ‘n enjinkapasiteit van 3,0 of 3,4 liter, wat in die vroeë 1990’s verskyn het.

Die Suid-Afrikaanse heldesaal vertel die verhaal van uitsonderlike Suid-Afrikaanse presteerders, en bevat ook ander bekende motorsport-persoonlikhede soos die Formule 1-ontwerper Rory Byrne, Sarel van der Merwe, Wayne Taylor en Ian Scheckter. Green beskou sy insluiting as ‘n groot eer, aangesien Gary Player en oud-president Nelson Mandela op dieselfde manier vereer is. “Ek is regtig dankbaar teenoor almal wat dit moontlik gemaak het, en teenoor die mense wat ‘n rol in ons jarelange sukses gespeel het,” het Green gesê.

“Basil Green het die vinnige Fords wat onaanvegbaar op die renbaan was ongeëwenaard op die pad was, geskep; die uitnemendheid van die verskillende Cortina, Capri, Escort en Granada-modelle het gemaak dat hulle Ford se amptelike goedkeuring weggedra het en deur handelaars landwyd verkoop is.” het Neale Hill, die besturende direkteur van die Ford-motor maatskappy van Suid-Afrika gesê.

%d bloggers like this: