BMW 4 vir 2020

0 Comments

In 2014 het BMW sy jarelange tradisie om die sedan-en koepeemodelle van sy gewilde 3-reeks dieselfde modelbenaming te gee, verbreek deur die eerste 4-reeks as ‘n alleenstaande model bekend te stel.

Nou het BMW sy tweede geslag 4-reeks aan die internasionale media gewys, en die eerste modelle sal in Oktober 2020 in Europa op die mark kom. Die mees uitstaande, en omstrede, stileringskenmerk van die nuwe 4-reeks is ‘n baie groot sierrooster, wat deur modelle van weleer soos die 328 en die 3,0 CSi geïnspireer is. Die rooster strek tot byna heel onder aan die voorkant en daar is ook plek vir die voorste nommerplaat in die onderste deel.

Volle ligdiode-kopligte is standaardtoerusting, terwyl aanpasbare ligdiode-kopligte met BMW Laserlight-tegnologie teen ekstra koste beskikbaar is.  Dit maak dat ‘n mens makliker om draaie kan sien en pas die beligting aan na gelang van padtoestande in stedelike toestande en op die oop pad. Dit vermeerder die hoëstraal-reikafstand na 550 meter en volg die rigting van die pad outomaties.

Aan die kant is daar kort oorhange, lang, raamlose deure wat toegang tot die motor vergemaklik, en ‘n vloeiende daklyn wat die motor se elegante stilering beklemtoon.  Die belangrikste kenmerk aan die agterkant is verdonkerde ligdiode-agterligte.

Die aanvanklike reeks bestaaan uit vier modelle, naamlik die 420i, die 420d, die 430i  en die voorlopige vlagskip totdat die M4 op die mark kom, die M 440i xDrive. Die reeks sal later uitgebrei word met die toevoeging van modelle soos die 430d.  Die 420i se turboaangejaagde viersilinderenjin lewer 135 kW teen tussen 5 000 en 6 000 opm en wringkrag van 300 Nm teen tussen 1 350 en 4 000 opm. Die 420i se topsnelheid os 240 km en hy kan binne 7,5 sekondes van 0 tot 100 km/h versnel.  Die 430i word toegerus met ‘n kragtiger weergawe van dieselfde enjin; dit lewer 190 kW teen tussen 5 000 en 6 500 opm en wringkrag van 400 Nm teen tussen 1 550 en 4 400 opm. Die 430i se tropsnelheid word tot 250 km/h beperk, en hy kan binne 5,8 sekondes van 0 tot 100 km/h versnel. Die M 440i xDrive is, soos sy naam aandui, met permanente vierwielaandrywing toegerus, en tot dusver die enigste model met ‘n sessilinderenjin. Hierdie enjin, met ‘n kapasitiet van drie liter, lewer 275 kW teen tussen 5 500 en 6 500 opm en wrinkgrag van 500 Nm teen 1 900 en 5 000 opm. Hierdie model word met ‘n 48V-ligtehibriede-battery toegerus om brandstofdoeltrefendheid te verbeter. Dié battery voeg  8 kW by wanneer daar vinnig versnel moet word en stel die motor in staat om sonder brandstof te loop wanneer omstandighede dit toelaat. Weereens is sy topsnelheid tot 250 km/h beperk, maar hy kan binne 4,5 sekondes van 0 tot 100 km/h versnel.

Daar is voorlopig net een dieselmodel in die nuwe 4-reeks, naamlik die  420d, met maksimum kraglewering van 140 kW teen 4 000 opm en ‘n wringkrag van 400 Nm tussen 1 750 en 2 500 opm.  Die 420d kan ‘n topselheid van 240 km/h behaal en versnel binne 7,1 sekondes van 0 tot 100 km/h.

Al die kragbronne in die nuwe 4-Reekss voldoen aan die Euro 6d-vereistes vir omgewingsvriendelikheid en ‘n Steptronic-ratkas met agt gange is standaardtoerusting vir die hele reeks. Een belangrike nuwe kenmerk van die M-modelle se Sport Steptronic-ratkas is die Sprint-funksie, wat gekies kan word om versnelling te verbeter en verbysteek te vergemaklik.  Die Sport Steptronic-ratkas is opsioneel vir die ander modelle beskikbaar.

Die meeste modelle in die 4-reeks het allooiwiele van 17 duim as standaardtoerusting, behalwe die M 440i XDrive, wat met 18-duim wiele toegerus word. Laasgenoemde model beskik ook oor ‘n M Sport-ewenaar met ‘n elektronies beheerde en wisselende sluitfunksie op die agterste ewenaar. Daar is ook ‘n M Sport-pakket beskikbaar, met ekstra groot luguitlate voor, kniekussings aan die kante van die middelkonsole, asook ander spesifieke ontwerpelemente binne.  Sekere buitekenmerke is in Cerium-grys afgewerk, terwyl koolvesel-afwerking teen ekstra koste beskikbaar is.  Die M Sport Pro-pakket is nuut, en voeg ‘n paar kenmerke by, soos allooiwiele van 19 duim, die Sport Steptronic-ratkas, ‘n agterste drukvlerk en ‘n Harman Kardon-klankstelsel met luidsprekers reg rondom.  Daarby sal ‘n omvattende verskeidenheid van M-werkverrigtingsonderdele van die begin af beskikbaar wees.

Onder die ander standaardkenmerke vir die hele reeks is ‘n outomatiese driesone-klimaatbeheer en heelwat bêreplek vir los goedere. Die agtersitplek se rugleuning kan platgevou word en is in drie dele verdeel.  Hoewel veiligheidskenmerke soos baandwaalwaarskuwing, inligting oor spoedbeperkings en voorbotswaarskuwing standaardtoerusting is, kan voornemende kopers ook die Driving Assistant Professional-stelsel teen ekstra koste kies. Dit sluit ‘n stuur- en baanbeheerassistent in, asook ‘n aktiewe navigasiestelsel wat data van die stelsel gebruik om enige nodige baanveranderings te bespeur. Die opsionele parkeerhulpstelsel bevat ‘n tru-assistant wat video’s van tot 40 sekondes  van die motor se omgewing maak.  Die nuwe vertoonskerm agter die voorruit gee alle nodige inligting op ‘n gebied wat tot 70% groter as voorheen is.

Soos die nuwe 3-reeks bevat die nuwe 4-reeks BMW se jongste digitale instrumentepaneel, tesame met die Live Cockpit Plus-inligting-en-vermaakstelsel met ‘n beheerknop op die middelkonsole.Daar is ook twee USB-kragpunte, vir die oordra van data en Wi Fi-koppeling. Daar is ook ‘n ingeboude SIM-kaart met 4G LTE-koppeling wat deel van die Connected Package Professional uitmaak.  Dit stel die eienaar in staat om dienste soos BMW Tele Service en werklike verkeersinligting met gevaarwaarskuwing te gebruik.

Die nuwe 4-reeks behoort voor die einde van 2020 of vroeg in 2021 in Suid-Afrika beskikbaar te wees.

Categories:
%d bloggers like this: