Nadat die BMW 6-reeks Gran Turismo in September vanjaar by die Frankfurtse Motorskou bekendgestel is, is dié model nou ook in Suid-Afrika beskikbaar.

Die 6-reeks Gran Turismo (GT) vervang die 5-reeks GT in BMW se plaaslike modelreeks en twee modelle, die 640i xDrive (met vierwielaandrywing) en die 630d, sal beskikbaar wees. Die 6-reeks GT is daarop gemik om ‘n gemaklike en luukse motor vir lang afstande te bioed, maar met die stileringskenmerke van ‘n koepee, hoewel hy ‘n vyfdeurbakwerk het.

Danksy ‘n kombinasie van die gebruik van aluminium en intelligente ingenieruswerk is die 6-reeks GT omtrent 150 kg ligter as sy voorganger. Tesame met ‘n groot verbetering in aërodinamiese doeltreffendheid asook kragtiger en meer doeltreffende enjins  lewer die nuwe model meer sportiewe werkverrigting en verbeterde brandstofverbruik terwyl minder uitlaatgasse uitgeskei word.

Die nuwe model se padgedrag en rygerief is ook heelwat beter as dié van sy voorganger danksy verbeteringe wat aan die motor se onderstel aangebring word. Selfverstellende lugvering is standaardtoerusting maar ‘n aanpasbare veerstelsel is opsioneel beskikbaar vir bestuurders wat op soek is na optimale rygerief.

Teen 5 091 mm is die 6-reeks GT langer as sy voorganger , sy breedte is egter dieselfde en hy is laer. Die voorkant het ‘n kragtige en kenmerkende voorkoms en die lense van die LED-kopligte wat standaardtoerusting is, strek tot by die niertjierooster wat ‘n kenmerk van alle BMW-modelle is. Die lang enjinkap en pilaarlose vensters is uitstaande kenmerke van die kant van die motor en die daklyn het ‘n koepee-agtige vorm. Aan die agterkant is daar driedimensionele agterligte. Die sleurkoëffisiënt van die nuwe model is 0,25.

Die binnekant bevat ‘n paneelbord wat op die bestuurder gefokus is terwyl die binneruim self besonder ruim is. Die materiaal en  vakmanskap gee die binnekant ‘n gesofistikeerde voorkoms. Daar is drie volwaardige sitplekke agter in die kajuit met oorgenoeg beenruimte vir al drie agterste insittendes. Daar is ‘n agterklap in een stuk met elektriese werking as stansdaardtoerusting en die agtersitplek, wat in ‘n 40-20-40-verhouding verdeel word, kan platgfevou word deur ‘n knoppie in die bagasiebak te druk.

Die twee enjins waarmee die 6-reeks GT toegerus word, het albei Twin Power-tegnologie en ‘n Steptronic-ratkas met agt gange is standaardtoerusting. Die petrolmodel is die 640i xDrive Gran Turismo; hierdie model se turboaangejaagde sessilinderenjin van drie liter lewer 250 Kw teen tussen 5 500 en 6 500 opm en wringkrag van 450 Nm teen tussen 1 380 en 5 200 opm. Die gemiddelde brandstofverbruik van dié model is 8,5 liter per 100 km en hy kan in 5,3 sekondes van 0 tot 100 km/u versnel.  Die 630d Gran Turismo is die dieselweergawe met ‘n turboaangejaagde enjin van drie liter. Dié enjin lewer 195 kw teen 4 000 opm en wringkrag van 620 Nm teen tussen 2 000 en 2 500 opm. Hierdie model kan in 6,1 sekondes van 0 tot 100 km/h versnel en sy gemiddelde brandstofverbruik is 5,6 liter per 100 km. Albei modelle se topsnelhede word elektronies tot 250 km/h beperk.

Die 6-reeks GT het ook verskeie navigasie-, inligting-en vermaakstelsels. Daar is ‘n iTouch-beheerknop in die middelste konsole en die inligting word op ‘n losstaande kleurskerm vertoon. Daarby kan die motor ook op stemopdragte en handgebare reageer. Daar is ook ‘n paneel agter die voorruit beskikbaar waarop die belangrikste ionligting vertoon word sonder dat die bestuurder sy of haar oë van die pad af moet haal.

Die bestuurshulpmiddels waarmee die 6-reeks GT toegerus is, sluit ‘n stereokamera as standaardtoerusting in asook opsionele radar- en ultrasoniese sensors wat dophou wat om die motor gebeur. Die nuwe opsionele aanpasbare spoedbeheer kan teen snelhede van tussen 0 km/h en 210 km/h funksioneer en daar is ook stuur- en baanbeheerhulp wat teen dieselfde snelhede werk. Daar is waarskuwings vir wanneer iets of miemand agter die voertuig verby beweeg of as die bestuurder per abuis van baan op die oop pad verwissel. Die 6-reeks GT kan ook bestel word met parkeerhulp deur middel van afstandbeheer.

Die 6-reeks GT word ook toegerus met BMW Connected, wat die bestuurder in staat stel om enige bestemming moeiteloos en sonder spanning te bereik.  Kalenderinskrywings vanaf die bestuurder se slimfoon kan gebruik word om roetes te beplan en die ideale vertrektyd na aanleiding van heersende verkeerstoestande kan uitgerwerk word. Daarby kan die besonderhede oor die reis aan familie, vriende of sakevennote aangestuur word. Die bestuurder se slimfoon kan deur middel van Bluetooth gekoppel word en dit is ook moontlik om die slimfoon koordloos te laai. Daar is ook verkeersinligting wat na die bestuurder se slimfoon gestuur kan word.

Daar is drie opsionele pakkette vir die 6-reeks GT beskikbaar, naamlik Sport, Luxury en M Sport.

Pryse

Die pryse van die twee modelle sonder dii pakkette of opsionele ekstras is R 1 081 300 vir die 630d en R 1 114 800 vir die 640i xDrive.

%d bloggers like this: