Breaking News

BMW i4 op pad na Suid-Afrika

Die eerste elektriese BMW met vier deure, die i4, is pas oorsee bekendgestel en sal in die eerste kwartaal van 2022 in Suid-Afrika beskikbaar wees.

Die i4 is ‘n vierdeur-koepee met ‘n luikrug en is daarop gemik om veelsydigheid en ruimte met die tipe bestuursgenot waarvoor BMW bekend is, te kombineer. Boonop is die eerste BMW met ‘n M-kenteken wat hoegenaamd geen uitlaatgasse vrystel nie, deel van die i4-reeks terwyl die hele reeks met die mees gevorderde beskikbare tegnologie toegerus word.

Wanneer die i4 in November 2021 oorsee beskikbaar is, sal die reeks uit twee modelle bestaan. Die intreemodel is die eDrive 40, wat toegerus word met ‘n elektriese motor wat 250 kW en 430 Nm se wringkrag lewer. Aangesien dit ‘n elektriese motor is, bestaan sy  outomatiese ratkas uit net een verhouding. Die litium-ioonbattery kan binne ‘n halfuur tot by 80% van sy kapasiteit  met ‘n gelykstroom-laaikabel gelaai word, of  ten volle binne agt en ‘n half ure met ‘n gewone driepunt-kragprop. Die maksimum reikafstand met ‘n vol gelaaide battery is 590 km en sy topsnelheid word elektronies tot 190 km/h beperk.  Die eDrive 40 word toegerus met 17 duim allooiwiele met 225/55 R 17-bande. 

Die vlagskip van die aanvanklike reeks is die M 50, met ‘n kragtiger elektriese motor, wat 400 kW en 795 Nm se wringkrag lewer. Dit is ook die eerste elektriese motor wat met vierwiel-aandrywing toegerus word, en wringkrag word volgens behoefte gestuur na die wiele wat die meeste vastrap-vermoë nodig het; dit maak die motor veiliger onder alle bestuurs-omstandighede en weerstoestande. Die M 50 is opsioneel beskikbaar met aanpasbare M-sportvering wat spesifiek vir hierdie model ingestel is, terwyl allooiwiele van tot 20 duim ook teen ekstra koste bestel kan word. Die battery van die M 50 kan op dieselfde manière as dié van die eDrive 40 gelaai word, maar sy maksimum reikafstand is 510 km terwyl sy topsnelheid elektronies tot 225 km/h beperk word. 

Hoewel albei hierdie modelle elektriese motors het, het BMW vorendag gekom met ‘n enjin klank vir die M 50 wat deur middel van die terugvoer van die versneller-pedaal voortgebring word. Voornemende kopers kan ook BMW se Iconic Sounds Electric-opsie kies; dit integreer nuwe klankvariasies wat deur die komponis van rolprent-musiek, Hans Zimmer, geskep is. 

Die gekombineerde laaieenheid van die i4 is ontwerp om soveel opsies moontlik te bied om die voertuig se battery te herlaai. Dit is moontlik om die battery deur middel van gelykstroom tot by 200 kW te laai; wanneer die eienaar in die middel van ‘n reis by ‘n snel-laaistasie stilhou, kan die reikafstand van die battery met 164 km vir die eDrive 40 of 140 km vir die M 50 verleng word. Dit kan binne tien minute gedoen word as daar nog 10% van die battery se kapasiteit beskikbaar is.  Vir Europese i4-eienaars is ‘n BMW-laaikaart beskikbaar, asook ‘n snel-laaikabel en ‘n modus 3-kabel.  Voornemende kopers kan krag teen redelike pryse by openbare laaistasies koop.

Die buiteontwerp van die i4 herinner baie aan dié van die 4-reeks Gran Coupé en gee dalk ‘n aanduiding van hoe die volgende geslag 4-reeks Gran Coupé kan lyk. Die kenmerkende BMW-niertjie-rooster is steeds daar, maar bevat blanko panele met BMW iBlue aksente. Die vooraansig beskik ook oor ‘n geïntegreerde kamera, asook ultrasoniese- en radarsensors. Daar is kort oorhange, slanke pilare en raamlose deure met ‘n koepee-agtige daklyn.  Die M50 is opsioneel beskikbaar met ‘n koolvesel-stileringspakket en M-spesifieke werkverrigtings-onderdele is as bykomstighede beskikbaar. 

Aan die binnekant is daar ‘n voorpaneel wat op die bestuurder gerig is, met sportsitplekke en ‘n sportstuurwiel as standaard toerusting. Die ratkieser en die beheerknop vir die inligting-en-vermaakstelsel is in die middelkonsole, en ‘n driesone-klimaat-beheerstelsel is standaard toerusting. Die instrumentepaneel  van 12,3 duim en  die skerm vir die inligting-en-vermaakstelsel van 14,9 duim   is agter ‘n glasoppervlak wat na die bestuurder gedraai word. Die agterklap maak van kraghulp gebruik en die  bagasieruim hou 470 liter, of 1 290 liter as die agtersitplek platgevou word. 

Altesaam veertig bestuurs-hulpmiddels is as standaard toerusting of teen ekstra koste beskikbaar. Onder meer aanpasbare spoedbeheer met snelheidsperkhulp, voorbots-waarskuwing, baandwaal-waarskuwing en  parkeersensors met ‘n trukamera is standaard toerusting, maar ‘n meer gevorderde parkeerhulpstelsel met tru-hulp, asook kameras reg rondom met ‘n 3D-beeld is opsioneel beskikbaar. 

Die pryse van die Suid-Afrikaanse modelle, asook die presiese bekendstellingsdatum sal later bekendgemaak word.

%d bloggers like this: