Breaking News

BMW M5 nou nog kragtiger

Die BMW M5 Competition is reeds een van die kragtigste en vinnigste sportsedans op die plaaslike mark, en nou het BMW ‘n nuwe, beperkte weergawe wat nóg beter werkverrigting beloof, oorsee bekendgestel.

Die M5 CS sluit hom by modelle soos die M2 CS en M4 CS aan, en is die eerste CS-model wat met vier deure toegerus sal wees. Die M5 CS word aangedryf deur ‘n kragtiger weergawe van die M5 Competition se 4,4 liter V8-enjin met twee turbo-aanjaers, wisselende kleptydreëling en BMW se Double VANOS-wisselende nokastyd-reëling. Die CS is die kragtigste model wat BMW tot dusver bekendgestel het en lewer 467 kW teen 6 000 opm en wringkrag van 750 Nm teen tussen 1 800 en 5 950 opm. Die M5 CS kan binne drie sekondes van 0 tot 100 km/h versnel en binne 10,4 sekondes van 0 tot 200 km/h, terwyl hy ‘n topsnelheid van 305 km/h kan behaal. Die M5 CS word toegerus met BMW se M Steptronic-agtgangratkas, en BMW se XDrive-vierwiel-aandrywingstelsel is standaard toerusting. Hierdie stelsel versprei wringkrag tussen die voor- en agterwiele na gelang van padtoestande, maar ‘n 2WD- modus waarin net die agterwiele aangedryf word, is ook ingesluit. Wanneer dit gebeur, is die voertuig se dinamiese stabiliteits-beheer buite werking. Dit maak verbeterde bestuursgenot moontlik sonder dat geskiktheid vir alledaagse gebruik ingeboet word en stel ervare bestuurders in staat om die motor se dinamiese vermoëns op die proef te stel. Die M5 CS het keramiekremme met rooi remknypers as standaard toerusting terwyl goue knypers opsioneel beskikbaar is.

Die binnekant van die M5 CS beskik oor vier afsonderlike sitplekke, en die agtersitplekke is vir net twee mense ontwerp. Die swart Merino-leerbekleedsel beskik oor kontrasterende rooi stikwerk en die geïntegreerde kopstutte op die voorsitplekke bevat ‘n buitelyn van die bekende Nürnburgring-renbaan in Duitsland. Die M Alcantara-stuurwiel bevat ‘n rooi lyn om aan te dui wanneer die wiele reguit is en die ratspane word van koolvesel vervaardig. Die armleuning tussen die voorsitplekke word deur ‘n vaste liggewig-deksel wat nie oopgemaak kan word nie, vervang.

Die CS-kenteken op die instrumentepaneel en tussen die agtersitplekke word in rooi afgewerk. Die skermplate aan die binnekant van die deure bevat die M5 CS-kenteken. Die sitplekgordels bevat rooi en blou stikwerk, wat BMW Motorsport se kleure weerspieël. Die voorpaneel bevat ‘n skerm van 12,3 duim waarop al die inligting van die XDrive-stelsel, asook van die inligting-en-vermaakstelsel gesien kan word.  Die M Mode-knoppie kan gebruik word om die Road- of Sport-modus te kies; met laasgenoemde word die M-spesifieke toeretelleer, die rat wat gekies word en ‘n digitale spoedmeter vertoon. Daar is oom liggies in die vertoonpaneel agter die voorruit wat aandui wanneer daar ratte gewissel moet word. Die inligting van die navigasiestelsel, spoedbeperkings of enige verbysteek-beperkings wat deur die spoedbeperking-inligtingstelsel bespeur word, word ook op die skerm vertoon. Die bestuurder het die keuse om die raakskerm of die iDrive-beheerknop op die middelkonsole te gebruik, en die twee rooi knoppies op die stuurwiel, wat M1 en M2 gemerk is, kan gebruik word om die motor volgens behoefte in te stel. Twee verskillende instellings kan op hierdie manier gekies word. 

Aan die buitekant word die raam van die sierrooster, asook die luguitlate aan die kante en die kentekens in brons afgewerk. Die agteraansig word oorheers deur ‘n koolvesel-drukvlerk en ‘n groot koolvesel-lugverdeler wat vier uitlaatpype bevat.  Die Y-speek -allooiwiele van 20 duim word ook in brons afgewerk. Die laser-kopligte word in geel eerder as wit verlig lae- of hoëstraal aangeskakel word ; dit herinner aan GT-renmotors. Drie eksklusiewe kleure is vir die M5 CS-beskikbaar, naamlik Brands Hatch-metaalgrys, met of sonder die Frozen-afwerking en Frozen Deep Green Metallic. 

Daar sal net ‘n beperkte hoeveelheid M5 CS-modelle na Suid-Afrika ingevoer word, en sy prys is nog nie bekendgemaak nie.

%d bloggers like this: