Breaking News

BMW se 128ti nou beskikbaar

BMW het sy plaaslike 1-reeks pas uitgebrei met die toevoeging van die 128 ti.

Die 128ti sluit hom by die huidige 118i, die 118d en die M 135i xDrive aan. Die “ti” modelbenaming, wat Turismo Internazionale, beteken, is in die 1960’s en 1970’s vir modelle soos die 2000 ti en die 2002 ti, tii en tii Touring gebruik , asook vir die meer onlangse 318 ti en 325ti Compact-modelle, wat die 1-reeks voorafgegaan het.

Die BMW Twin Power twee-literenjin onder die 128 ti se enjinkap lewer 180 kW tussen 5 000 en 6 000 opm en ‘n  wringkrag van 380 Nm tussen 1 500 en 4 500 opm en word aan ‘n agtgang Sport Steptronic-ratkas gekoppel. Die 128 ti kan van 0 tot 100 km/h binne 6,3 sekondes versnel.

Soos met die M 135i xDrive word die 128ti met ‘n M Sport-remstelsel toegerus, maar anders as die M 135i xDrive het die 128 ti rooi remknypers. Die agttienduim Y-speek-allooiwiele in twee kleure is uitsluitlik vir die 128ti beskikbaar terwyl Michelin Pilot Sport-bande teen geen ekstra koste beskikbaar is.

Aan  die buitekant is daar sitleringskenmerke wat die 128ti van sy stalmaats onderskei. Die M Sport-pakket word as grondslag gebruik, en kenmerke eie aan die 128ti word bygevoeg. Dit sluit onder meer  rooi afwerking vir die syskorte en die rooi  ti-kenteken voor die agterwiele in. Wanneer die motor in rooi of metaalblou bestel word, word die ti-kenteken, wat weggelaat kan word indien die eienaar dit verkies. Daarby is die Shadowline-afwerking standaardtoerusting, met swart afwerking vir die  buitespieëls en ‘n swart sierrooster, terwyl diegene wat ‘n donkerder voorkoms verkies, sekere chroom-elemente kan weglaat.

Die binneruim beskik self oor ‘n aantal unieke kenmerke; onder meer rooi strepe op die sitplekke, die ti-embleem wat op die voorste armleuning geborduur is, asook kontrasterende stikwerk in die armleunings, deurpanele en die instrumentepaneel. Die M Sport-stuurwiel en die bedekking vir die bestuurderslugsak beskik ook oor rooi stikwerk.

Die prys van die 128ti, wat ‘n volle onderhoudsplan van vyf jaar of 100 000 km insluit, is R687418.

%d bloggers like this: