Kort nadat BMW sy nuwe 8-reeks koepee in Suid-Afrika bekendgestel het, is die afslaankapweergawe by die reeks gevoeg.

Die afslaan-kap, wat tot dusver net as ‘n M850i X Drive beskikbaar is, het presies dieselfde buite-afmetings as sy koepee-stalmaat, maar wanneer die dak plat geslaan is, spog dié nuweling met ‘n meer dinamiese voorkoms.  Die nuweling se seildak, wat in swart of antrasiet-wilwer beskikbaar is, word binne 15 sekondes met die druk van ‘n knoppie oop- en toegemaak; dit kan teen ‘n snelheid van tot 50 km/h gedoen word. Wanneer die dak oop is, word dit gebêre onder ‘n bedekking wat dieselfde voorkoms as die instrumente-paneel en die deurpanele aan die binnekant het.

Die harmonie tussen die binne-en buitekant van die motor is veral opvallend wanneer die dak afgeslaan is. Soos met die koepee is daar vier behoorlike sitplekke en die insittendes word omring deur die vloei van die instrumente-paneel, die skouers van die deure, die skouerarea romdom die agtersitplekke en die bedekking van die sagte dak.  Die M 850i X Drive het volle leer-afwerking vir die voorpaneel as standaard toerusting, asook elektries verstelbare sportsitplekke , asook ‘n leer-afgewerkte M-veelfunksie stuurwiel met ratspane. Die agter-sitplekke is in ‘n 50:50-verhouding verdeel en kan platgeslaan word indien bykomende bagasie-ruimte nodig is.

Die M 850i X Drive-afslaankap word toegerus met dieselfde V8-enjin van vier liter as die koepee. Dié enjin, met vier kleppe per silinder, wisselende kleptyd-reëling en ‘n turbo-aanjaer, lewer 390 kW teen tussen 5 500 en 6 000 opm en wringkrag van 750 Nm teen tussen 1 800 en 4 600 opm. BMW se bekende Sport Steptronic-ratkas met agt gange en ratspane agter die stuurwiel wat gebruik kan word om ratte sonder ‘n koppelaar te wissel, is standaard toerusting. Die motor se top snelheid is tot 350 km/h beperk en hy kan binne 3,9 sekondes van 0 tot 100 km/h versnel. Volgens die vervaardigers is die gemiddelde brandstof verbruik tussen 9,9 en 10,0 liter per 100 km. Vierwiel aandrywing is standaard toerusting, vandaar die XDrive-benaming.

Die sportiewe aard van die M 850i X Drive-afslaankap word weerspieël deur die M-sportvering wat standaard toerusting is en ingestel is om soveel ratsheid, presisie en werk-verrigting as moontlik  te bied. Hoewel allooiwiele van 20 duim standaard toerusting is, verskil die groottes van die voorste en agterste bande. Die integrale aktiewe stuurstelsel sorg vir die kleinste moontlike draaisirkel wanneer daar geparkeer of om draaie of verkeersirkels bestuur word en maak dit makliker om teen hoë snelhede van bane op die oop pad te verwissel of om draaie te bestuur. Die aanpasbare professionele M-veerstelsel wat opsioneel beskikbaar is, sorg vir selfs beter standvastigheid en ratsheid in meer dinamiese bestuurs-omstandighede.

Verdere standaard kenmerke vir die M 850i XDrive sluit  eksklusiewe buite-stilerings kenmerke in Cerium-grys, hoëverrigtings-bande saam met die 20 duim-allooiwiele, verligte stroke aan die binnekant van die deure met model kentens en stroke in die deure en voorpaneel in ‘n vlekvrye staal gaasontwerp in. Dié wat hul motors verder wil verpersoonlik, kan die M Carbon- of Chrome Line Exterior-pakket kies.

Soos die koepee spog die afslaankap met hulpmiddels wat die vlak van gerief en veiligheid in die motor verhoog. Nie net is daar ‘n vertoon-paneel tussen die voorruit en die instrumente-paneel wat belangrike inligting gee nie, maar die Driver Assist Professional, wat onder meer baanhou-hulp, baandwaal waarskuwing, vooraf-botsings waarskuwing, spoedgrens-inligting en aktiewe spoed beheer met ‘n stop-en-ryfunksie standaard toerusting. Nog ‘n belangrike standaard kenmerk is parkeerhulp wat ‘n trukamera en tru-hulp bevat.

BMW se Live Cockpit Professional is standaard toerusting. Dit bestaan uit ‘n navigasie- en multi-media stelsel, asook ‘n heeltemal digitale instrumente-paneel. Daar is ook ‘n veelfunksie-skerm in die voor-paneel waar toe die bestuurder op meer as een manier toegang kan kry. Benewens die beheerknop in die middel-konsole kan knoppies op die stuurwiel en stembeheer ook gebruik word. Een intelligente eienskap is BMW se Intelligent Personal Assistant wat geaktiveer word wanneer die bestuurder bloot “Hey BMW” sê.

Die prys van die M 850i XDrive-afslaankap, wat BMW se onderhouds plan van vyf jaar of 100 000 km insluit, is R 1 994 100.

%d bloggers like this: