Die vlagskip van BMW se X-reeks, die X7, is pas in Suid-Afrika bekend gestel.

Die reeks sal aanvanklik uit twee diesel modelle bestaan, naamlik die xDrive 30d en die xDrive M 50d, terwyl ‘n petrol model later vanjaar sal volg.

Die oogmerk met die ontwerp van die X7 was om eksklusiwiteit, ruimte en weelde te kombineer met die bestuurs-genot wat ‘n mens van enige sportnuts-voertuig uit die BMW-stal kan verwag. Die X7 is BMW se grootste sportnuts-voertuig en bied oorgenoeg ruimte vir insittendes in al drie rye sitplekke, asook gevorderde standaard kenmerke en ‘n elegante ontwerp. Die X7 word in Spartanburg in die Verenigde State van Amerika vervaardig, in dieselfde aanleg waar die X3, X4, X5 en X6 ook gebou word, hoewel die X3-modelle vir die Suid-Afrikaanse mark uit BMW se aanleg in Rosslyn noord van Pretoria kom.

Die X7 is 5 151 mm lank, 2 000 mm breed en 1 805 mm hoog, terwyl die asafstand 3 105 mm lank is. Hierdie afmetings neem weelde en ruimte na ‘n nuwe vlak en onderstreep die X7 se status as vlagskip van die reeks. Die regop  voorkant word oorheers deur ‘n baie groot sierrooster wat die motor se unieke voorkoms en karakter beklemtoon. Die rooster is die grootste wat tot dusver vir enige BMW gebruik is. LED-kopligte is standaard toerusting maar BMW Laserlight met aanpasbare LED-kopligte is opsioneel beskikbaar. Blou X-vormige elemente wat die seshoekige ligbronne binne BMW se bekende dubbele kopligte verdeel, is ‘n uitstaande kenmerk. Die modelle met die standard-spesifikasie-vlak het ‘n horisontale chroomstaaf binne-in die breë lae luguitlaat terwyl die model met die Design Pure Excellence-vlak ‘n drie-dimensionele weergawe van dié staaf het. Slanke LED-misligte is onder aan die luguitlaat gemonteer en die BMW-kenteken op die enjinkap is besonder groot.

Die groot kant-vensters skep ‘n indruk van ruimte en die agterdeure is groter as die voordeure; dit maak dit makliker vir agterste insittendes om in en uit die voertuig te klim.  Die LED-agterligte het ‘n chroom strook tussen hulle; dit is ‘n kenmerk wat tot dusver nog net in die 7-reeks gebruik is. Die X7 het 21-duim allooiwiele as standaard toerusting, maar verskeie 21- en 22-duim ontwerpe is opsioneel beskikbaar.

Benewens die standaard spesifikasie-vlak is Design Pure Excellence, M Sport- en Individual-pakkette ook beskikbaar. Die M Sport stel die dinamiese potensiaal van die X7 ten toon en beskik oor ekstra groot luguitlate, M-allooiwiele in ‘n dubbel-speek ontwerp en, aan die binnekant, ontwerp-elemente in hoëglans-swart of Black Chrome, ‘n skakering wat net vir BMW se top-weelde modelle beskikbaar is. Die Individual-pakket beskik oor eksklusiewe bakkleure en 22 duim-allooiwiele.

Aan die binnekant is ‘n sport-stuurwiel asook BMW se nuwe volle digitale instrumente paneel standaard toerusting. Die BMW Live Cockpit Professional beskik oor ‘n skerm van 12,3 duim en toegang tot die inligting daarop word met behulp van ‘n beheerknop op die middel-konsole verkry. Die nuut ontwerpte ratkieser, die aansit-knoppie, die kontrole vir die elektriese parkeer-rem en die knoppies vir die lugvering en die opsionele veldry-modus word saam met dié beheerknop op die middel konsole aangetref. Glas-toepassings van hoogstaande gehalte is opsioneel vir sommige van hierdie kontroles beskikbaar.

Die X7 se ruimte word onderstreep deur die feit dat drie rye sitplekke, wat plek vir sewe insittendes bied, standaard toerusting is. Die derde ry bestaan uit twee volgrootte-sitplekke wat genoeg plek vir volwassenes het vir langer reise. Daar is beker-houers en armelunings vir die insittendes in die derde ry, asook ‘n bykomende glasdak-element. Die middelste ry beskik oor ‘n doodgewone banksitplek maar gemaklike afsonderlike sitplekke kan teen ekstra koste gekies word. Hierdie sitplekke beskik oor presies dieselfde verstellings as dié van die bestuurder en die voorste passasier. Dit is die eerste keer dat hierdie tipe sitplekke vir ‘n voertuig in dié klas beskikbaar is en die gaping tussen die sitplekke maak toegang tot die derde ry makliker. Daar is elektriese verstellings vorentoe en agtertoe vir al drie rye sitplekke en die rug-leunings vir die tweede en derde ry kan elektries platgevou word.  Die knoppies hiervoor is aan die bestuurder se kant soos wat ‘n mens deur die agterdeure inkom, asook in die bagasie-ruim. Die sitplekke in die middelste ry kan ook vorentoe gekantel word om toegang tot die derde ry te vergemaklik. Die kontrole vir die vorentoe-en-agtertoe-verstelling vir die middelste ry sitplekke is in die bestuurder se deur geleë. Wanneer al die sitplekke gebruik word, is daar 326 liter bagasie-ruimte, maar dit kan tot 2 120 liter vermeerder word wanneer die tweede en derde ry sitplekke platgevou word. Die lugvering, wat standaard toerusting is, beteken dat die agterkant van die voertuig met die druk van ‘n knoppie verlaag kan word om die inlaai van goedere te vergemaklik. Die agterklap is in twee dele verdeel en die boonste en onderste deel werk met kraghulp. Wanneer die opsionele Comfort Access gekies word, maak die agterklap outomaties oop en toe sonder dat ‘n mens jou hande hoef te gebruik.

Die Vernasca-leerbek-leedsel, asook die opsionele BMW Merino Individual-bekleedsel is in ses kleure beskikbaar. Die sportsitplekke vir die bestuurder en voorste passasier kan verhit word terwyl ventilasie opsioneel beskikbaar is. Die sitplekke in die tweede en derde ry is ook verhitbaar terwyl ‘n masseer funksie vir die voorste sitplekke opsioneel beskikbaar is.

Die X7 beskik oor ‘n panoramiese dak in drie dele as standaard toerusting; benewens die panele vir die voorste en middelste rye sitplekke is daar ook een vir die heel agterste insittendes. Al drie panele kan elektries oopgeskuif word; dit word alles beheer deur ‘n paneel aan die voorkant van die dak.  Daar is ook ‘n Sky Lounge wat ‘n besondere atmosfeer skep wanneer dit donker is deurdat LED-lig eweredig oor die dak versprei word en aan ‘n aand vol sterre herinner. Die kleurskema hiervan kan volgens behoefte aangepas word.

Viersone-klimaatbeheer is standaard toerusting, maar ‘n vyfsone-stelsel met afsonderlike kontroles en luguitlate vir die insittendes in die derde ry, is opsioneel beskikbaar, asook ‘n “thermo”-weergawe van die beker-houers wat die insittendes se drankies koud of warm hou. Daar is ookm ‘n koordlose selfoonlaaier voor die bekerhouers. Die klankstelsel beskik oor tien luidsprekers, maar die M50d spog met ‘n meer gevorderde Harman Kardon-klankstelsel met klank reg rondom die binnekant. Daar is ook ‘n opsionele stelsel vir die agterste insittendes met twee 10.2 duim hoë-definisie raakskerms, ‘n Blu Ray-versoenbare DVD-speler, twee USB-kragpunte, ‘n HDMI-kragpunt en twee oorfoon-sokke. Daar is nog twee USB-kragpunte vir die derde ry sitplekke. Diegene in die derde ry sitplekke kan hul eie media-bronne, of dieselfde as in die voorste deel van die kajuit, gebruik, en agterste insittendes het ook toegang tot ‘n navigasie-kaart en BMW Connected Drive-dienste.

Twee diesel enjins is van die begin af vir die X7 beskikbaar, en BMW se Steptronic-ratkas met agt gange, asook die X Drive-vierwiel-aandrywing stelsel word vir albei enjins gebruik. Die 30d se turbo-diesel enjin van drie liter lewer 195 kW teen 4 000 opm en wringkrag van 620 Nm teen tussen 2 000 en 2 500 opm. Hierdie model kan ‘n top-snelheid van 227 km/h behaal en binne sewe sekondes van 0 tot 100 km/h versnel. Die gemiddelde brandstof verbruik van die 30d is tussen 6,5 en 6,8 liter per 100 km. Die M50d se drie-liter diesel enjin spog met vier turbo-aanjaers; dié enjin lewer 294 Nm teen 4 400 opm en wringkrag van 760 Nm teen tussen 2 000 en 3 000 opm. Hierdie model se topsnelheid is elektronies beperk tot 250 km/h en hy kan in 5,4 sekondes van 0 tot 100 km/h versnel. Die gemiddelde brandstof verbruik van die M 50d is tussen 7,0 en 7,4 liter per 100 km.

Die nuwe geslag van BMW se XDrive-stelsel is standaard toerusting vir albei modelle; en die verspreiding van wrinkgrag tussen die voor- en agterwiele word aangepas na gelang van omstandighede. Die stelsel werk saam met die elektroniese stabiliteits beheer om moeitelose en ratse hantering te verseker, ongeag die pad- en weer-toestande.  Vir bykomende doel-treffendheid kan al die krag na die agterwiele gestuur word wanneer vierwiel-aandrywing onnodig is. Wanneer die voertuig se werkverriting op die proef gestel word, word die krag ook na die agterwiele versprei om te verseker dat die bestuurder die mees genotvolle bestuurs-ervaring moontlik geniet.

Die M 50d word toegerus met ‘n M Sport-ewenaar om sy kragbron se sportiewe karakter-eienskappe verder te beklemtoon. Die elektronies beheerde slot vir die agterste ewenaar werk saam met die stabiliteits-beheer engie neiging tot stuurtraagheid word doel treffend teengewerk. Daarbenewens word die M50d toegerus met ‘n onderstel wat spesifiek vir dié model ingestel is en die motor se ratsheid en verbeter en sy stuur-instelling verander om hom die kenmerkende karakter van ‘n BMW M-verrigtings model, maar geherdefinieer vir die weelde-segment, te gee.

Die lugvering stel die bestuurder in staat om die voertuig se grondvryhoogte te verstel, onder meer vir veldry-toestande, deur ‘n knoppie in die kajuit te druk. Nog ‘n knoppie laat die veerstelsel met 40 mm sak om die in-en uitlaai van goedere te vergemaklik; wanneer die enjin weer aangesit word, keer die voertuig dan terug na sy normale hoogte. Die verlangde hoogte kan ook gekies word as die enjin afgeskakel word. Dit kan deur middel van kontroles in die kajuit of met BMW se opsionele sleutel gedoen word.

Die 30d kan met ‘n opsionele veldry-pakket toegerus word; hierdie pakket beskik oor sy eie grafika in die instrumente-paneel asook ‘n knoppie waarmee een van vier bestuurs modusse gekies kan word.  Dit help die bestuuder om die motor na gelang van behoefte in te stel; die vier beskikbare modusse is xSnow, xGravel, xRocks en xSand. Die ideale verstellings vir die voertuig se grondvryhoogte, versneller-reaksie, ratkas beheer en stabiliteits beheer kan op hierdie manier geaktiveer word.

Spoed-beheer met ‘n remfunksie en voorbotsings-waarskuwing is standaard toerusting en daar is ook ‘n stelsel wat ‘n voetganger of fietsryer voor die motor bespeur, asook ‘n remfunksie vir swaar stands-verkeer. Die opsionele aktiewe spoed beheer beskik oor ‘n stop-en-ryfunksie wat die voertuig outomaties in verkeer tot stilstand bring en weer laat wegtrek. Die maksium tyds-verloop wat die motor kan wag voordat dit outomaties wegtrek, is 30 sekondes.  Die padteken-herkennning stelsel kan spoed-beperkings in die motor se stelsel inkorporeer. Daar is ook ander bestuurs-hulpmiddels wat dit so veilig en gemaklik as moontlik maak om die voertuig te bestuur. Die stelsel beskik oor baan-hou hulp en baandwaal-waatskuwing en die stuurwiel herken kontak as die bestuurder selfs net vining met ‘n paar vingers daaraan raak. Daar is ook ‘n ingeboude kamera in die kajuit wat vasstel of die berstuurder aandag gee aan wat op die pad gebeur. As daar aangeneem word dat die bestuurder dit wel doen, kan die tydperk wat die bestuurder nie aan die stuurwiel raak nie, tot hoogstens 60 sekondes verleng word.

Parkeer-sensors voor en agter is standaard toerusting asook ‘n parkeer-hulp stelsel wat die bestuurder in staat stel om in en uit ‘n parallel-parkeerplek te beweeg. Die stelsel beheer die ratwisseling, stuurwerk, versnelling en remming.  Daar is ‘n reeks kameras wat die bestuurder in staat stel om te sien wat reg rondom die voertuig gebeur, en ‘n 360 grade-beeld kan in die voertuig se vertoon paneel aan die binnekant gesien word. Die tru-hulp stelsel is ongekend in die plaaslike mark. Dit help die bestuurder om ‘n parkeerplek te verlaat of die voertuig in ‘n nou gebied te bestuur. Dit werk saam met die parkker-hulp stelsel en help die bestuurder om agteruit te ry wanneer hy of sy nie duidelik kan sien wat gebeur nie, soos in parkeer-garages met verskeie verdiepings of by huise se inrypaaie. Dit word geaktiveer met die ratkieser in die P-posisie en wanneer die voertuig stilstaan. Die stuur-bewegings van die laaste keer wat die voertuig vorentoe beweeg het, word deur die stelsel gebêre en die tru-hulp kan gebruik word om die bestuuder te help om agteruit te ry uit die parkeerplek waar die voertuig die vorige dag geparkeer is.

BMW se Intelligente Persoonlike Assistant is ook standaard toerusting en kan met stem-opdragte werk, wanneer die bestuurder die woorde “Hey BMW” gebruik. Die stelsel leer die bestuurder se roetines en gewoontes aan en kan daarvolgens in die gepaste konteks reageer. Dit help die bestuurder en leer sy of haar voorkeure aan en is vertroud met sekere instellings of plekke waarheen daar gereeld gery word. Die stelsel kan ook ‘n naam gegee word. Die stelsel word voortdurend verbeter; dit maak dat meer gunsteling instellings en voorkeure in die toekoms gegee kan word; daarby verbeter die stelsel vanself met elke vraag wat gestel word enm met elke opdrag wat gegee word. Dit beteken dat daar ook te alle tye ‘n BMW-deskundige beskikbaar is. Die stelsel kan allerhande moeilike funksies verduidelik, statusinligting gee en help om vrae te beantwoord. Dit maak navigasie ook baie makliker, aangesien die assistant ‘n parkeerplek by die beplande bestemming kan opspoor, asook inligting oor verkeers-toestande kan gee.Die stelsel word ook met Microsoft Office 365 en Skype geïntegreer.

Die motor se programmatuur kan deur middel van afstand beheer bygewerk word. Dit kan deur middel van ‘n selfoon met BMW Connected gedoen word of direk in die motor met die ingeboude SIM-kaart. Installering daarvan is so maklik soos om ‘n selfoon op datum te kry.

Die pryse van die X7-modelle is R 1554 500 vir die 30d en R 1 853 200 vir die M 50d; dit sluit BMW se volle Motorplan van vyf jaar of 100 000 km in.

%d bloggers like this: