BMW se kleinste Gran Coupé is hier

0 Comments

Nadat BMW groot sukses met sy Gran Coupé-modelle gebaseer op die 4-reeks, die 6-reeks en die 8-reeks behaal het, is hierdie konsep verder gevoer met die bekendstelling van die heel eerste 2-reeks Gran Coupé, wat nou in Suid-Afrika beskikbaar is.

Soos sy groter Gran Coupé-stalmaats is die oormerk om ‘n motor met opvallende, sportiewe stilering te bied; die raamlose deure is ‘n besondese kenmerk.  Die 2-reeks Gran Coupé is daarop gemik om ‘n aantreklike alternatief te bied, veral in markte waar sedans nog gewild is, hoewel dit nie ‘n konvensionele sedan is nie. Die uitstaande kenmerk van die nuweling van buite gesien, is die uitgestrekte silhoeët met die vier raamlose deure wat ook op die groter modelle voorkom.  Aan die voorkant is ligdiode-kopligte weerskante van die groot niertjie-rooster standaard toerusting, en ‘n sier-rooster met ‘n gas-patroon pleks van die vertikale stawe onderskei die M 235i xDrive van sy goedkoper stalmaats.

Daar is splinternuwe ligdiode-agterligte met ‘n L-vorm wat oor byna die hele breedte van die agterkant strek asook ‘n dun swart strook bokant die agterligte  Anders as met die 4-reeks Gran Coupé is daar nie ‘n luikdeur nie, maar die bagasie-ruimte van 430 liter kan wel vergroot word deur die rug-leunings van die agter-sitplekke plat te vou. Die agterklap kan met die druk van ‘n knoppie op die afstand-beheer oopgemaak word of, as die opsioenel Comfort Access gekies word, deur jou voet onder die stamper te waai, mits die sleutel natuurlik naby is. Daar is verskillende ontwerpe vir die allooi wiele beskikbaar, die groottes wissel van 16 tot 18 duim; laasgenoemde is standaard toerusting saam met die M Sport-pakket en die M 235i xDrive. Daar is egter ook 19-duim allooiwiele teen ekstra koste beskibaar, asook ‘n groot panoramiese sondak.

Die 2-reeks Gran Coupé deel sy onderstel met die onlangs vrygestelde nuwe 1-reeks, wat beteken dat ‘n keuse tussen voor- en vierwiel-aandrywing beskikbaar is; dit beteken dat hy nuwe standaarde vir bestuursgenot, padhouvermoë en hantering stel. Die vlagskip, die M 235i Gran Coupé xDrive, bied vierwiel-aandrywing as standaard toerusting.   Daar is drie modelle beskikbaar; die 218i Gran Coupé met ‘n Steptronic-ratkas met sewe gange, die 220d Gran Coupé , die enigste model met ‘n diesel enjin en ‘n Steptronic-ratkas met agt gange en die M 235i x Drive met dieselfde Steptronic-ratkas en vierwiel-aandwywing. Ondanks sy model-benaming word die 218i toegerus met ‘n drie-silinder enjin van 1,5 liter met ‘n turbo-aanjaer. Hierdie enjin lewer 103 kW teen tussen 4 600 en 6 500 opm en wringkrag van 220 Nm teen tussen 1 480 en 4 200 opm.  Volgens die vervaardiger is sy gemiddelde brandstof-verbruik tussen 5,4 en 5,7 liter per 100 km. Die 220d word toegerus met ‘n turbo-diesel-enjin van twee liter wat 140 kW teen 400 opm en wringkrag van 400 Nm teen tussen 1 700 en 2 500 opm lewer. Die 220d se gemiddelde brandstof-verbruik is tussen 4,2 en 4,5 liter per 100 km. Die M 235i X Drive se turbo-aangejaagde vier-silinder enjin van twee liter lewer 225 kW teen tussen 5 000 en 6 250 opm en wringkrag van 450 Nm teen tussen 1 750 en 4 500 opm. Sy topsnelheid word tot 250 km/h beperk en hy kan binne 4,8 sekondes van 0 tot 100 km/h versnel. 

Die binneruim van die 2-reeks Gran Coupé is só ontwerp dat dit die bestuurder se lewe so ver moontlik vergemaklik.  Benewens die gebruiklike kontroles op die middel-konsole en die stuurwiel word die funksies van die inligting-en-vermaakstelsel deur ‘n beheerknop tussen die sitplekke beheer.  Die BMW Live Cockpit Plus wat opsioneel beskikbaar is, sluit stembeheer en ‘n navigasie-stelsel in. Nog ‘n bykomstigheid wat teen ekstra koste beskikbaar is, is BMW Live Cockpit Professional, wat twee 10,25 duim-skerms bevat, en  volgens die bestuurder se behoeftes aangepas kan word. Benewens die aanpasbare navigasie-stelsel bevat hierdie stelsel ook ‘n multimedia-hardeskryf terwyl die opsionele gebarebeheer uit sewe verskille handgebare bestaan . Dieselfde nuwe digitale instrumente-paneel wat reeds in onder meer die 3-reeks en die X5 gebruik word, kom ook in die 2-reeks Gran Coupé voor.

Benewens die basiese model is daar ook M Sport-weergawes van die 218i en die 220d beskikbaar. Dit bring die stilering van die goedkoper modelle nader aan dié van die M 235i XDrive, met ‘n voorste drukvlerk met spesiaal ontwerpte luguitlate,  stawe van aluminium in die sier-rooster, en ‘n agterste lugverdeler in ‘n grys skakering bekend as Dark Shadow. Die M 235i XDrive het daarby ook ‘n agterste drukvlerk op die bagasiebak se deksel. Aanndie binnekant is sport-sitplekke en ‘n M Sport-stuurwiel standaard toerustimg.

Soos die nuwe 1-reeks beskik die 2-reeks Gran Coupé, met die uitsondering van die M 235i XDrive, met voorwiel-aandrywing, en die nuwe reeks vind baat by ‘n oordrag van tegnologie van BMW se i-afdeling vir elektriese modelle. Die vastrap-vermoë van die 2-reeks Gran Coupé word verbeter deur die dinamiese stabiliteits-beheer, asook  tegnologie uit die i3 wat keer dat die wiele gly wanneer daar vining om draaie gery word, asook nat of ysige toesatande en help ook om stuurtraagheid onder krag, ‘n groot probleem onder voorwiel-aangedrewe motors, teen te werk. Dit word ook ondersteun deur BMW se verrigtings-beheerstelsel. Dit verbeter die motor se hantering deur neutrale stuur te verseker en stuurtraagheid uit te skakel. Daarby spog die M 235i XDrive ook met ‘n vastrapewenaar terwyl die M Sport-rem= en stuurstelsels wat standaard toerusting vir hierdie model is, ook teen ekstra koste vir die goedkoper modelle beskikbaar is. Voornemende kopers kan ook ‘n M Sport-veerstelsel kies; wat die voertuig se ryhoogte met 10 mm verlaag, of andersins ‘n VDC (Variable Damper Control)-stelsel wat ‘n keuse tussen ‘n geriefsmodus en ‘n sportmodus bied. 

Die pryse van die verskillende modelle, sonder opsionele ekstras, wat ‘n BMW Motorplan van vyf jaar of 100 000 km wat teen ekstra koste verleng kan word, insluit, lyk só:

 

218i Gran Coupé: R 515 000

220d Gran Coupé: R 595 000

M 235i xDrive: R 725 000

Categories:
%d bloggers like this: