BMW se M2 CS vir motorsport

0 Comments

BMW het pas ‘n beperkte weergawe van sy M2 bekendgestel wat bokant die M2 Competition in die reeks geposisioneer word en ontwikkel is met die oog op deelname aan motorsport.

Die M2 CS, wat 2020 in Suid-Afrika beskikbaar sal wees, bou voort op die sukses wat voorheen met die M3 CS en M4 CS behaal is. Dit lê die grondslag vir die BMW M2 CS Racing, wat BMW M Motorsport se nuwe intreemodel vir  amateur-motorsport en, van 2020 af, die nuwe Clubsport-segment sal wees.

Die CS spog met verskeie bakpanele wat van plastiek wat met koolvesel versterk is (CFRP), gemaak is.  Dit sluit ‘n nuwe enjinkap met ‘n groot lug-uitlaat in, ‘n dak wat van CFRP gemaak is en vir die eerste keer in ‘n BMW gebruik word, ‘n voorste drukvin, ‘n Gurney-drukvlerk  (vernoem na die Amerikaanse renjaer Dan Gurney) op die bagasiebak-deksel en ‘n agterste lugverdeler in onbedekte koolvesel. Die M2 CS stel nuwe standaarde in sy klas vir versnelling, padhouvermoë en ratsheid en bied ‘n nuwe, opwindende toetrede tot die BMW M maatskappy se reeks. 

Onder die enjinkap is ‘n kragtiger weergawe van die M2 Competition se kragbron;  dit is ‘n ontwikkeling van die M4 Competition-koepee se enjin, en hoewel die toere lekker opjegaag kan word en die enjin-klank ‘n mens sal laat lekkerkry, is daar oorgenoeg wringkrag, selfs teen lae enjin-snelhede. Hierdie drieliter-enjin met twee turbo-aanjaers en ses silinders lewer 331 kW teen 6 250 opm en wringkrag van 550 Nm teen tussen 2 350 en 5 500 opm.  Die BMW Twin Power-turbo-tegnologie bestaan uit twee turbo-aa.jaers, regstreekse brandstof-inspuiting, VALVETRONIC wisselende kleptydreëling en Double VANOS- wisselende nokastydreëling. Dit maak dat die enjin krag optimal kan opbou en terselfdetyd blitsig op die bestuurder se insette reageer terwyl brandstof-verbruik en uitlaatgasse verminder word. Daar is ‘n keuse tussen ‘n handratkas met ses gange of ‘n dubbel-koppelaar (M-DCT)-ratkas met sewe gange.  Die handrat-model versnel van 0 tot 100 km/h in 4,2 sekondes en die M-DCT-model in vier sekondes terwyl albei ‘n topsnelheid van 280 km/h kan behaal. Die M-DCT-model stel die bestuurder in staat om ratte met die hand te swissel deur die ratkieser of ratspane agter die stuurwiel te gebruik. Die uitlaat-stelsel bestaan uit vier pype met die M-kenteken en die M Engine Dynamics Control-funksie met knoppies in die middel-konsole stel die bestuurder in staat om die motor se enjin-klank na aanleiding van die gekose bestuursmodus aan te pas.

Die binnekant van die M2 CS beskik ook oor verskeie items wat daarop gemik is om massa tot die minimum te beperk. Die middel-konsole is byvoorbeeld in sy geheel van liggewig-koolvesel vervaardig en is 50% ligter as dié van die M2 Competition.  Diue deur-handvatsels en afwerking van die deurpanele is van CFRP gemaak. Wanneer die CS se deure oopgemaak word, is daar chroom-skermplate met die M2 CS-kenteken terwyl dieselfde sport-sitplekke as in die M4 CS gebruik word. Die ontwerp is deur motorsport geïnspireer en bied voldoende steun, selfs wanneer die bestuurder deur skerp draaie ry.  Die rugluenings is in Merino-leer en Alcantara afgewerk en daar is kontrasterende rooi stikwerk in die arm-leunings, die middel-konsole asook die sy-en deurpanele. Die geïntegreerde voorse kopstutte bevat die kenmerkende BMW M-strepe terwyl die rugleunings met die CS-kenteken spog. Rooi kontrasterende stikwerk kom op die agtersitplekke voor. Die opsionele M-sportstuurwiel het ‘n rooi streep om aan te dui wanneer die wiele reguit is en die kenmerkende M2 CS-kenteken op die instrumente-paneel is duidelik sigbaar. 

Die M2 CS word toegerus met Y-speekwiele van negentien duim met ‘n swart afwerking.  Die M GmbH-ingenieurs het die beginsels van stelselmatige liggewig-ontwerp toegepas. Gevolglik weeg die 9Jx19-voorwiele net 9kg en die 10xJ19-agterwiele 10 kg.  Dit hou die ongeveerde massa laag en dra by tot die M2 CS se uitsonderlike dinamiese vermoëns. Die wiele is ook opsioneel met goue afwerking beskikbaar. Die voorwiele word toegerus met 245/35 ZR 19 Michelin Pilot Sport Cup 2 -bande wat spesifiek vir die M2 CS ontwikkel is, terwyl die agterwiele met soortgelyke 265/35 ZR 19-bande toegerus is.  Voornemende kopers wat hul motors meer gereeld onder alledaagse omstandighede gebruik, kan Michelin Pilot Super Sport-bande, wat beter vastrap-vermoë in nat toestande as die Cup-bande bied, kies. 

Die elektronika van die dinamiese stabiliteits-beheer (DSC) beheer die motor se hantering met sensitiwiteit en sorg vir uitsonderlike vastrapvermoë wanneer daar in nat of gladde toestande bestuur word. Die DSC-stelsel word verder ondersteun deur die sluitbare Active M-ewenaar.  Dit beskik oor ‘n elektronies beheerde sluit-meganisme wat stabiliteit en vastrap-vermoë met presisie verbeter. Die uitwerking daarvan kan van 0 tot 100% wissel, afhangende van bestuurs-omstandighede en neem onder meer die hoek van die stuurstelsel, die posisie van die versnellerpedaal, druk op die rempedaal en enjin-wringkrag in aanmerking. Deur die stelsel op hierdie manier te ontleed, kan die beheer-eenheid ‘n naderende  verlies aan wringkrag bespeur en bepaal tot watter mate die ewenaar gesluit moet word. Dit word dan deur middel van ‘n elektriese motor toegepas. Dit verhoed dat die wiele onder uiterste omstandighede tol, of wanneer een agterwiel minder vastrap-vermoë as die ander een het. 

Benewens sy vermoë op die renbaan is die CS ook geskik vir alledaagse gebruik , en die Misano-blou verfafwerking wat uitsluitlik vir hierdie model gebruik word, onderskei hom verder.

 

Categories:
%d bloggers like this: