Breaking News

BMW se nuwe 2-reeks koepee gou hier beskikbaar

Dit is vanjaar 55 jaar sedert BMW se eerste kompakte koepee, die 02-reeks, internasionaal bekendgestel het.

Dit het die weg gebaan vir die suksesvolle 3-reeks, en nadat hierdie reeks al hoe groter en duurder geword het, het BMW die 2-reeks koepee op die mark gebring. Die tweede geslag is by die Goodwood Festival of Speed bekendgestel en sal vroeg in 2022 sy buiging in Suid-Afrika maak.

Daar sal vir eers drie  modelle, naamlik die 220i,  die 220d en die M 240i xDrive , beskikbaar wees, terwyl die 230i  vroeg in 2022 sal volg. Die 220i, 220d en 230i beskik oor agterwiel-aandrywing. Die 220i en 220d word aangedryf deur turbo-aangejaagde twee-liter enjins met vier silinders elk. Die 220i se petrol enjin lewer 135 kW teen tussen 5 000 en 6 500 opm en wringkrag van 300 Nm teen tussen 1 350 en 4 000 opm. Hierdie enjin beskik oor BMW se VALVETRONIC wisselende kleptyd-reëling en Double VANOS wisselende nokastyd-reëling. Die 220d se dieselenjin lewer 140 kW teen 4 000 opm en wringkrag van 400 Nm teen tussen 1 750 en 2 500 opm. Hierdie enjin beskik ook oor 48 volt-ligte hibriede-tegnologie. Albei hierdie enjins word gekoppel aan ‘n Steptronic-ratkas met agt gange. Die M 240i xDrive is voorlopig die vlagskip van die reeks, en word aangedryf deur ‘n turbo-aangejaagde drie-liter enjin met ses silinders wat 275 kW teen 5 500 tot 6 500 opm en wringkrag van 500 Nm teen tussen 1 900 en 5 000 opm lewer. Hierdie model word toegerus met ‘n Sport Steptronic-ratkas met agt gange, ratspane agter die stuurwiel en versnelbeheer; dit is ook opsioneel vir die res van die reeks beskikbaar. 

Die 2-reeks koepee, wat in Mexiko vervaardig sal word, beskik oor ‘n sportiewe ontwerp met byna volmaakte massaverspreiding en ‘n liggewigontwerp vir die bakwerk en onderstel wat sy krag-tot-massaverhouding verbeter. Die nuwe model is langer en breër as sy voorganger, en sy asafstand is langer as voorheen maar sy algehele hoogte is met 28 mm verminder. Die uitgeboude modderskerms en kragbult op die enjinkap gee ‘n visuele aanduiding van die 2-reeks koepee se dinamiese vermoëns. Die kenmerkende niertjierooster beskik oor ‘n horisontale ontwerp met vertikale luguitlate wat oopmaak indien die enjin bykomende verkoeling nodig het. Die kopligte beskik oor volle ligdiode-tegnologie en die ontwerp is deur dié van die 02-reeks geïnspireer, met ‘n enkele sirkelvormige voorkoms. Kopligte met outomatiese hoëstraalwerking wat aankomende verkeer nie verblind nie, is teen ekstra koste beskikbaar. Die buiteontwerp spog met ‘n lang enjinkap, ‘n passasiers-kompartement wat ver terug sit en ‘n kort bagasiebakdeksel met ‘n geïntegreerde drukvlerk. Die verdonkerde ligdiode-agterligte krul om die hoeke.

Aan die binnekant is sportsitplekke en ‘n sportstuurwiel standaardtoerusting. Die hoë moddelkonsole skep ‘n gevoel van bestuurdergerigtheid en die agterste sitplekke is individueel gevorm om net twee mense te huisves. Die sitplekke vir die 220i en 220d word met ‘n kombinasie van material en Sensatec-bekleedsel oorgetrek, en dié van die M 240i xDrive met ‘n kombinasie van Alcantara en Sensatec-bekleedsel. Die stuurwiel en kniekussings op die middelkonsole vir hierdie spog met dieselfde bekleedsel. Dit is ook deel van die M Sport-pakket wat opsioneel vir die ander modelle in die reeks beskikbaar is. Elektriese verstelling vir die sportsitplekke met ‘n geheuefunksie vir die bestuurder, M-sportsitplekke met geïntegreerde kopstutte, en verhitting vir die sitplekke en stuurwiel is opsioneel beskikbaar. Atmosfeer-beligting, ‘n Harman Kardon-klankstelsel en ‘n kantel-en-skuifsondak met ‘n deurskynende paneel van 20% groter as voorheen is, is ook teen ekstra koste beskikbaar. Die bagasiebak van die nuwe model hou 390 liter en die drempel is 35 mm laer as voorheen. Indien bykomende bagasieruimte nodig is, kan die sitplek in ‘n 40/20/40-verhouding platgevou word terwyl ‘n verwyderbare trekstang opsioneel beskikbaar is. Die maksimum toelaatbare sleepkapasiteit is 1 600 kg.

Die 2-reeks koepee se onderstel-komponente is oorspronklik vir die 4-reeks ontwerp maar vior die 2-reeks aangepas. Die agteras met vyf skakels is ontwerp om masa te verminder en stewigheid te verbeter. Die M-sportvering wat opsioneel beskikbaar is, lê die grondslag vir die M 240i xDrive se modelspesifieke onderstel. Hierdie model beskik ook oor ‘n M Sport-remstelsel en ‘n M Sport-ewenaar agter. Daarby is ‘n aanpasbare M-veerstelsel met elektronies beheerde dempers opsioneel beskikbaar. Die 220i en 220d word toegerus met 17 duim-allooiwiele as standaard toerusting, terwyl 18 duim M-allooiwiele met verskillende bandgroottes voor en agter as deel van die M Sport-pakket beskikbaar is. Die M 240i xDrive word toegerus met 19 duim ligte M-allooiwiele en weer eens verskil die bandgroottes voor en agter. Hoëverrigtingsbande kan bestel word, terwyl die M Performance-onderdelereeks allooiwiele van tot 20 duim insluit.

Verskeie bestuurshulpmiddels is as standaardtoerusting of opsioneel beskikbaar. Onder die hulpmiddels wat standaard toerusting is, is voorbotswaarskuwing, snelheidsperkinligting, baandwaal-waarskuwing  en spoebeheer met noodremhulp.  Die opsionele hulpmiddels sluit die volgende in: ‘n dwarsverkeermonitor, parkeersensors, ‘n trukamera met tru-hulp, kameras reg rondom, en vir die eerste keer vir die 2-reeks, ‘n uitleespaneel tussen die voorruit en die instrumentepaneel. 

Die bestuurder en voorste passasier kan op verskeie manière toegang tot die inligting-en-vermaakstelsel verkry, naamlik ‘n beheerknop tussen die voorsitplekke, beheerknoppies op die stuurwiel en stembeheer.  Daar is ook digitale dienste soos ‘n BMW digitale sleutel, BMW se intelligente persoonlike assistent en die bywerking van programmatuur deur middel van die internet, wat beteken dat dit van buite die voertuig gedoen kan word. Die BMW Live Cockpit bestaan uit die iDrive -beheerstelsel met ‘n 8,8 duim-uitleespaneel op die paneelbord en ‘n 5,1 duim-vertoonpaneel in  volkleur op die instrumentepaneel. Daar is ook ‘n Live Cockpit Professional-stelsel beskikbaar; dit bestaan uit ‘n 12,3 duim-skerm en ‘n 10,25 duim uitleespaneel.  Hierie stelsel, asook die BMW Live Cockpit Plus-stelsel wat ook beskikbaar is, beskik ook oor ‘n navigasiestelsel met BMW Maps, wat roetes en aankomstye vining en presies uitwerk, verkeersverslae gee en die gebruiker toelaat om enige woord in te tik wanneer daar na ‘n bestemming gesoek word. Die afstandbeheerde bywerking van programmatuur beteken dat verbeterde voertuigfunksies en bykomende dienste deur middel van die internet ingevoer kan word. Dit kan gedoen word deur middel van ‘n slimfoon deur die My BMW-toepassing te gebruik, of deur die ingeboude SIM-kaart te gebruik. Die toepassing is in meer as veertig lande op iOS en Android Auto beskikbaar en kan van Google Play of Apple App Store afgelaai word. Die opsionele digitale sleutel kan ook deur middel van die My BMW-toepassing vir altesaam vyf gebruikers, elk met ‘n afsonderlike profiel, ingestel word. Só kan een vir jonger bestuurders, wat die topsnelheid, die volume van die klankstelsel en enjinkrag beperk, ingestel word. Die gebruiker kan die motor ook oopsluit deur sy of haar slimfoon na die deurhandvatsel toe te wys. 

Die pryse van die verskillende modelle sal aangekondig word wanneer die reeks vroeg in 2022 in Suid-Afrika bekendgestel word.

%d bloggers like this: