Breaking News

BMW se nuwe 2-reeks koepee nou beskikbaar

Die nuwe weergawe van BMW se 2-reeks koepee is pas in Suid-Afrika bekendgestel.

Die nuwe model, met ‘n unieke voorkoms en agter- of vierwielaandrwing, volg in die voetspore van die legendarise 02-reeks wat 55 jaar gelede die weg vir BMW se kompakte en sportiewe tweedeurmodelle gebaan het. 

Altesaam drie modelle sal aanvanklik in Suid-Afrika beskikbaar wees. Die 220i en 220d word onderskeidelik deur tweeliter turbopetrol- en diesel enjins aangedruyf, en albei enjins word aan ‘n Steptronic-ratkas met agt gange gekoppel. Wegtrekbeheer is standaard toerusting; dit verbeter die voertuig se vastrapvermoë wanneer die motor vanuit ‘n stilstaande posisie wegtrek, en ‘n Sprint-funksie, vir wanneer die bestuurder vir ‘n oomblik bykomende krag en werkverrigting nodig het, soos wanneer daar vining verbygesteek moet word, is deel van die M Sport-pakket, wat M-ligte allooiwiele van 19 duim, ‘n M Sport-remstelsel, ‘n voorste drukvin en ‘n agterste M-drukvlerk. Die 220i se enjin lewer 135 kW en 300 Nm se wringkrag. Die 220d se diesel enjin spog met 48 V ligte hibriedetegnologie wat vir ‘n gemiddelde brandstof-verbruiksyfer van 4,7 tot 5,1 liter per 100 km sorg. Die voorlopige vlagskip van die reeks is die M 240i xDrive, die enigste vierwielaangedrewe model in die reeks. Hierdie model word aangedryf deur ‘n drieliter-turbopetrol enjin met ses silinders, weer eens gekoppel aan die agtgang Steptronic-ratkas. Hierdie enjin lewer 285 kW en wringkrag van 500 Nm en volgens die vervaardiger kan die M 240i xDrive binne 4,3 sekondes van 0 tot 100 km/h versnel.

BMW se M Sport-veerstelsel is standaard toerusting vir al die modelle, maar die M 240i xDrive word ook toegerus met ‘n M Sport-remstelsel en ‘n M Sport ewenaar agter. Daarby is ‘n aanpasbare M Sport-veerstelsel met elektronies beheerde dempers teen ekstra koste beskikbaar. Al die modelle word met 19 duim-allooiwiele toegerus, maar M ligte allooiwiele van 19 duim met verskillende bandgroottes voor en agter is standaard toerusting vir die M 240i xDrive. Daar is ook verskillende ander ontwerpe van tot 20 duim as deel van die reeks M-verrigtingsonderdele beskikbaar.

Die buitestilering van die nuwe 2-reeks koepee bestaan uit ‘n lang enjinkap en ‘n kort bagasiebakdeksel met ‘n ingeboude drukvlerk. Die uitgeboude wielboë geen die motor ‘n gespierde voorkoms en die kragbult op die enjinkap gee ‘n aanduiding van die motor se verrigting. Die ligdiode-kopligte se ontwerp is geïnspireer deur dié van die 02-reeks en spog met ‘n enkele ronde ontwerp. Die kenmerkende BMW-niertjierooster het ‘n horisontale ontwerp maar pleks van die gewone stawe is daar vertikale luguitlate wat oopmaak wanneer daar bykomende lugverkoeling vir die enjin nodig is. Aanpasbare kopligte met outomatiese hoërstaalwerking is teen ekstra koste beskikbaar.

Soos dit ‘n BMW betaam, is die binneruim op die bestuurder gefokus, en die instrumentepaneel wpog met ‘n ten volle digitale uitleespaneel met ‘n 10,25 duim skerm. Daar is ook ‘n 12,3 duim skerm vir die inligting-en-vermaakstelsel wat Android Auto en Apple Car Play bevat.  Die motor se programmatuur word gedurig deur die internet bygewerk en die BMW Live Cockpit Professional bevat BMW Maps, ‘n navigasiestelsel wat gedurig bygewerk word. Dit kan roetes en aankomstye akkuraat uitwerk en bied verslae van huidige verkeerstoestande. Enige word kan ingetik word wanneer daar na ‘n bestemming gesoek word. Voorste sportsitplekke en ‘n M Sport-stuurwiel is standaard toerusting en die agtersitplekke is só gevorm dat daar net plek vir twee insittendes is. Alle insittendes kan voordeel trek uit BMW se Operating System 7, met ‘n keuse tussen ‘n raakskerm, ‘n draaiknop tussen die sitplekke, kontroles op die veelfunksiestuurwiel of stemopdragte vir die inligting-en-vermaakstelsel. Ander digitale dienste wat standaard toerusting vir die 2-reeks koepee is, is BMW Intelligent Personal Assistant, BMW Digital Key en Connected Music. 

Daar is ‘n groter verskeidenheid veiligheidskenmerke as voorheen teen ekstra koste beskikbaar, onder meer baandwaal-waarskuwing, ‘n agterste dwarsverkeermonitor, parkeersensors, ‘n tru- of rondomkamera en aanpasbare spoedbeheer terwyl ‘n voorruit-vertoonpaneel standaard toerusting is. 

Die pryse van die verskillende modelle, wat ‘n volledige Motorplan van vyf jaar of 100 000 km insluit, lyk só:

220i koepee: R 771 900

220d koepee: R 819 278

M 240i xDrive: R 1 062 420

%d bloggers like this: