BMW se nuwe Vier is hier

0 Comments

Die splinter-nuwe BMW 4-reeks koepee is nou in Suid-Afrika beskikbaar.

Drie modelle is aanvanklik in Suid-Afrika beskikbaar, naamlik die 420i, die 420d en die M 440i. Eersgenoemde twee is met standaard-of M Sport-afwerking beskikbaar terwyl die M 440i die M Sport-pakket met vierwiel-aandrywing as standaard toerusting het.

BMW se oogmerk met die nuwe 4-reeks was om ‘n model met sy eie identiteit te skep; dit is op die platform van die 3-reeks gebou maar beskik oor sy eie stilerings-kenmerke, onder meer die nuwe groot sierrooster. Hierdie rooster volg in die voetspore van dié van legendariese BMW-koepees en beklemtoon die hoë verkoelings-vereistes van die enjin. Die vloeiende daklyn en groot kantvenster-grafika beklemtoon die motor se atletiese en sportiewe voorkoms. Aan die voorkant is daar slanke ligdiode-kopligte met aanpasbare ligte en Laserlight-tegnologie wat teen ekstra koste beskikbaar is. Die L-vormige agterligte beskik oor ligdiode-tegnologie. 

Die nuwe binneruim beskik oor ‘n sportiewe ontwerp, met die doel om loutere bestuursgenot te verseker. Benewens die 10,25 duim vertoonpaneel is ‘n heeltemal digitale instrumente-paneel van 12,3 duim opsioneel beskikbaar. Daar is ook ‘n beheerpaneel van hoogstaande gehalte op die middel-konsole.’’n nuwe leer-oorgetrekte sport-stuurwiel en nuut ontwikkelde sport-sitplekke vir die voorste insittendes. Die agtersitplekke is só gevorm dat dit net twee mense kan husves, wat van die 4-reeks ‘n vier-sitplek motor maak. Daar is ook ‘n nuwe driesone-klimaat-beheerstelsel as standaard toerusting terwyl ‘n skuif-en-kantelsondak wat 24 mm langer as voorheen is, ‘n Hi Fi-luidsprekerstelsel en bykomende ventilasie wat deur die motor se sleutel of die eienaar se slimfoon beheer word, standaard toerusting is. Die BMW Operating System 7 stel die eienaar in staat om van individuele en verpersoonlikte skerms op die beheerpaneel en die instrumente-paneel gebruik te maak, tesame met BMW se Intelligent Personal Assistant. Die funksies van die motor se multi-media stelsel kan beheer word deur ‘n beheerpaneel op die middel-konsole, die iDrive-beheerstelsel, die veelfunksie-stuurwiel, stembeheer en hand-gebare.

Die eienaar se selfoon kan nou deur middel van Android Auto en Apple Car Play gekoppel word.  Die inligting op die selfoon kan op die skerm in die middelkonsole, die instrumente-paneel of op die skerm tussen die instrumente-paneel en die voorruit wat opsioneel beskikbaar is, bekyk word. Die nuwe wolk-gebaseerde BMW Maps-navigasie-stelsel wat standaard toerusting vir die hele reeks is, bereken die roetes en verwagte aankomtye, en gee bygewerkte verkeersverslae en bied die bestuurder die keuse om self sy of haar bestemmings te beskryf. 

Verskeie nuwe bestuurs-hulpmiddels wat die normale veiligheidskenmerke aanvul, is standaardtoerusting, onder meer voorbots-waarskuwing met ingryping deur die remstelsel wanneer nodig, baandwaal-waarskuwing met stuurhulp en inligting oor spoed-beperkings en parkeersensors terwyl baanhouhulp en ‘n nuwe aktiewe navigasie-stelsel opsioneel beskikbaar is. Die opsionele parkeerhulp-stelsel bied tru-hulp, asook panoramiese kameras, ‘n 3D-uitsig van bo af en ‘n 3D-uitsig van ‘n afstand af. Daar is ook ‘n BMW Drive Recorder, wat ‘n video van 40 sekondes van die motor se omgewing opneem, beskikbaar. 

Die nuwe 4-reeks kan met ‘n aanpasbare M-veerstelsel, met elektronies beheerde dempers, M Sport -remme met rooi of blou knypers, en ‘n M Sport-ewenaar, met ‘n slot vir die agterste ewenaar bestel word, asook gewone M Sport-veerstel met ‘n fermer ritgehalte bestel word.

Drie enjins is vir die nuwe 4-reeks beskikbaar; almal word aan ‘n Steptronic-ratkas met agt gange gekoppel. Die 420i word toegerus met ‘n turbo-aangejaagde petrol enjin van twee liter met vier silinders wat 135 kW teen tussen 5 000 en 6 000 opm en wringkrag van 300 Nm teen tussen 1 350 en 4 000 opm ontwikkel. Die 420i versnel van 0 tot 100 km/h in 7,5 sekondes en kan ‘n topsnelheid van 240km/h haal. Die 420d se turbo-diesel enjin van twee liter lewer 140 kW teen 4 000 opm en wringkrag van 400 Nm teen tussen 1 750 en 2 500 opm. Die 420d versnel binne 7,2 sekondes van 0 tot 100 km/h en kan ook ‘n topsnelheid van 240 km/h behaal. Die voorlopige vlagskip van die reeks, totdat die M4 bekendgestel word, is die M 440i xDrive, met vierwiel-aandrywing as standaardtoerusting.  Hierdie model beskik oor ‘n turbo-aangejaagde ses-silinder enjin van drie liter wat 285 kW teen tussen 5 800 en 6 500 opm en wringkrag van 500 Nm teen tussen 1 900 en 5 000 opm ontwikkel. Die M 440i xDrive versnel binne 4,5 sekondes van 0 tot 100 km en sy topsnelheid word elektronies tot 250 km/h beperk. 

Die pryse van die 4-reeks koepee , wat ‘n volle onderhoudsplan en waarborg van vyf jaar of 100 000 km insluit, lyk só:

420i: R 755 400

420i M Sport: R 800 800

420d: R 802 900

420d M Sport: R 848 300

M 440i xDrive: R 1 174 500