BMW het pas sy X3- en X4-reekse uitgebrei met die toevoeging van twee haastige diesel modelle.

Die X3 en X4 M 40d word toegerus met ‘n diesel enjin met BMW se M Performance Twin Power-turbo-tegnologie wat ‘n lae- en hoëdruk-turbo-aanjaer bevat. Dié enjin, met ‘n verplasings-inhoud van drie liter lewer 240 kW teen 4 400 opm en wringkrag van 680 Nm teen tussen 1 750 en 2 750 opm.  Hierdie enjin word in albei gevalle gekoppel aan ‘n Sport Steptronic-ratkas met ratspane agter die stuurwiel wat gebruik kan word wanneer die handrat-funksie gekies word. Albei modelle kan binne 4,9 sekondes van 0 tot 100 km/h versnel en ‘n topsnelheid van 250 km/h bereik. Die gemiddelde brandstof verbruik in ‘n gekombineerde siklus van albei modelle is tussen 6,4 en 6,6 liter per 100 km.

Albei modelle kry die M Performance-pakket as standaard toerusting. Die sportiewe karakter word aan die buitekant weerspieël deur grys dubbelspeek-allooiwiele van 20 duim, met alternatiewe ontwerpe van 20 en 21 duim wat opsioneel beskikbaar is, asook blou remknypers met die M-embleem. Die buitespieëls, sierrooster en luguitlate is in Cerium-grys afgewerk.

Aan die binnekant is daar sportsitplekke met Vernasca-leerbekleedsel wat dekoratiewe stikwerk bevat, asook elektriese verstelling met ‘n geheue vir die bestuurder se sitplek en  buitespieël. Daar is aluminuim-stroke in die voorpaneel met chroom-beklemtoning. Die inligting-en-vermaak stelsel bevat Bluetooth-verbinding, ‘n koordlose selfoon laaier en twee USB-kragpunte.  Satelliet navigasie en ‘n trukamera is opsioneel beskikbaar, tesame met baandwaal waarskuwing, hindernis waarskuwing aan die voorkant, en ‘n noodrem funksie wanneer ‘n bestuurder nie betyds daarop reageer nie. Nog ‘n opsionele ekstra is ‘n  paneel tussen die voorruit en die instrumente-paneel wat inligting soos snelheid, en ander inligting na aanleiding van die bykomstighede wat gekies word, vertoon, terwyl aktiewe spoed-beheer, wat die volg-afstand tussen die motor en die een reg voor hom beheer, en die motor rem wanneer dit te naby is, teen ekstra koste bestel kan word.  Hoewel ‘n konvensionele instrumente-paneel standaard toerusting is, is ‘n digitale paneel met Eco-, Pro-, Sport- en Comfort-verstellings ook opsioneel beskikbaar.

Die pryse van die X3 M 40d en X 4 M 40d, wat ‘n BMW Motorplan van vyf jaar of 100 000km insluit, is onderskeidelik R 1 027 500 en R 1 132 800.

%d bloggers like this: