Breaking News

BMW stel spesiale X3 bekend

BMW het pas die Suid-Afrikaans-vervaardigde X3-reeks uitgebrei met die toevoeging van die Mzansi Edition.

Die Mzansi Edition is gebaseer op die X3 20d XDrive en beskik oor dieselfde tweeliter-turbo-diesel enjin wat 140 kW teen 4 000 opm en wringkrag van 400 Nm teen tussen 1 700 en 2 500 opm lewer. Dieselfde Steptronic-ratkas met agt gange word ook gebruik.

Die Mzansi Edition spog met die volgende stileringskenmerke wat hom van die gewone model onderskei: ‘n M Sport-stileringspakket, M hoëglans Shadowline-afwerking vir die raam van die sierrooster asook die rooster self, koolvesel-afwerking vir die buitespieëls, rooi M Sport-remknypers, ‘n sportiewe swart drukvlerk op die agterklap, ‘n trekstang,  uitlaatpype met swart chroomafwerking en ‘n glansswart lugverdeler. Dieselfde 19 duim dubbelspeek-allooiwiele as dié van die M Sport is standaard toerusting en altesaam vyf bakkleure is beskikbaar.

Aan die binnekant is daar M Sport-afwerking, atmosfeer-beligting, ‘n panoramiese glassondak, BMW Live Cockpit Professional en ‘n koordlose selfoonlaaier. 

Die prys van die X3 Mzansi Edition is R 1 005 900.

%d bloggers like this: